Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 20

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

ek vir ’n bekende skryfster gewerk en in Johannesburg gewoon het. Ek het soveel moontlik by die waarheid gebly sodat hy my nie op ’n onjuistheid kon betrap nie.”

      “Het hy oor die verband om jou arm uitgevra?”

      “Ek glo nie hy dit eers opgemerk nie.”

      “Hy moes. Hy het jou so aandagtig bestudeer.”

      “Wel, as hy het, het hy niks gesê nie.”

      “En as hy het, wat sou jy geantwoord het?”

      Ila se ken lig uitdagend. “Jou leerling onthou al die leuens wat jy haar geleer het, Martin Niehaus. Ek het nie vergeet dat ek my arm in Maria Meintjies se huis verstuit het nie.”

      “Mooi. Moet ook nie die ánder dingetjies vergeet nie, Ila – byvoorbeeld dat jy Elizabeth Verster is en nie Daniela Niehaus nie.”

      “Ek kan dit maar vergeet, want jy sal altyd naby wees om my baie gou daaraan te herinner dat ek ’n bedrieër en ’n indringer is.”

      Ila staar Martin nog ’n oomblik koud aan, dan draai sy weg en stap badkamer toe.

      “Miesiela!” roep Mieta. “Ek het vir jou Kersfeeskos gemaak. Jy moet kom eet voor alles koud is!”

      Miesiela … Die tongknoper, mies Daniela, wat deur die jare afgekort is. Arme getroue ou Mieta, dink Ila, wat volgens Martin so getreur het nadat Daniela weg is. Ou Mieta, wat haar kop deeglik wou was, wat wou raas en baklei, maar darem vir Daniela “Kersfeeskos” gemaak het om vir haar terug te verwelkom. Martin was reg oor die gemeste kalf wat vir Daniel Niehaus se dogter geslag sou word. Die mense van Rietendal is bly om Daniela terug te hê …

      8

      Die volgende oggend, toe Ila vir hom koffie in die bed bring, lê Daniel Niehaus bleek en natgesweet agteroor teen die kussings. Sy asemhaling is moeisaam en daar is ’n grysblou kring om sy mond.

      “Vadie!” roep Ila ontsteld. “Voel u nie lekker nie? Wat makeer?”

      “Niks nie. Trek oop die gordyne, Daniela, en gaan haal vir jou ook koffie sodat jy by my kan kom sit en gesels.”

      “Ek dink dit is gister se baie gesels wat Vader vermoei het.”

      “Bog! Ek is g’n moeg nie. Ek gaan vandag vir jou die plaas wys.”

      “Daar is nog baie tyd, Vadie. U kan dit môre doen.”

      “Baie tyd, sê jy, Daniela? Nee, my kind, jy is verkeerd. Tyd is een ding wat ek nie het nie.”

      Toe Ila by Martin gaan verneem of hulle nie die dokter moet ontbied nie, skud Martin sy kop. “Dis nie nodig nie. Daardie perdedoktertjie sal wel die een of ander tyd vanself hier aangesit kom. Voel jy beter as gisteroggend, my skat?”

      “Ek makeer niks nie. Ek is oor my pa bekommerd.”

      Martin kyk vlugtig oor sy skouer waar Mieta is. “Ek is oor my pa bekommerd …” koggel hy. “Jy klink meer soos Daniela as Daniela self.”

      “Dis jy wat gesê het ek moet my in my rol inleef en nie van oom Daniel praat nie. Is daar nie pilletjies wat my pa vir die hartkloppings moet neem nie?”

      “Daar op die kas …” beduie Martin. “Daar is ’n bottel pille wat die perdedokter voorgeskryf het.”

      “Hy is nie ’n perdedokter nie. Die hospitaalpersoneel dink baie van dokter Retief se bekwaamheid.”

      “Jy is pragtig, my skat, as jou groen oë blits en daar twee rooi kolle op jou wange is. Jy het my nog nie eers ’n goeie­môre-soentjie gegee nie, weet jy?”

      “Ek is nie nou in die luim vir ’n flirtasie nie, Martin. Hoeveel van hierdie pilletjies moet hy neem?”

      “Drie. Wanneer sal jy in die luim wees?” terg Martin. “Vanaand, as ek volmaan bestel en ons tweetjies sit styf teen mekaar op die relings van die brug? Die sterre en die maan wat in die kabbelende water weerkaats word …”

      Ila is besig om die pilletjies uit te tel. Ingedagte sê sy: “Daar­die brug is nie veilig nie.”

      Martin se oë vernou. “Hoe weet jy dit, skatlam?” vra hy vinnig.

      Ila plaas die botteltjie terug op die kas, skink vir haar ’n koppie koffie en sit dit op die skinkbord saam met ’n glas water.

      “Ek het opgelet toe ons gisteroggend oor die brug gery het,” sê sy kalm. “Daar is van die relings wat los is en die balke onder die brug lyk bra wankelrig. Ek sal nie romanties voel nie, veral nie as ’n storm besig is om op te steek nie.”

      “Hoekom? Dit was mos Daniela en haar ma wat soos katte op ’n warm stoof te kere gegaan het as daar ’n storm opgesteek het. Of ly jy – saam met al jou ander fobies – ook aan ’n vrees vir donderstorms?”

      “Nee, ek gee nie om vir donderweer nie. Al waarvoor ek bang is, is groot honde.”

      “Ek sal Snuffels uit jou pad hou. Sê my, Ila … Hoekom was jy netnou so kwaad toe ek neerhalend van die perdedoktertjie gepraat het?”

      “Was ek?” skerm Ila. “Ek kan nie onthou dat ek vies was nie.”

      “Jy was hoogs ontstoke. Jy het baie vinnig vir Johan Retief ’n lansie gebreek. Hoekom?”

      “Ek voel skuldig oor arme dokter Retief. Ek het hom baie moeite en ergernis aangedoen, en hy was baie goed vir my in die hospitaal.”

      “Is dit al?” Martin lig vraend ’n wenkbrou. “ ’n Skuldige gewete teenoor die doktertjie?”

      “Dis al.” Voordat Martin verder kan uitvra, tel Ila die skinkbord op en laat hom alleen in die kombuis. Sy het amper haar mond verbygepraat, dink sy toe sy met die wenteltrap na die boonste verdieping toe opklim. In die toekoms sal sy versigtiger moet wees. Martin Niehaus is uitgeslape.

      Ila het meer met die koppige ou man bereik as wat Martin en Mieta en al die ander tot dusver kon regkry. Hy het ingewillig om die oggend in die bed deur te bring mits sy by hom sit en gesels – net gesels, nie soos ’n ou vrou torring en kerm nie …

      Na middagete kondig Daniel Niehaus egter aan dat hy gaan opstaan. En basta teëpraat. Dis hoog tyd dat hy vir sy dogter haar erfenis gaan wys.

      “Vadie, dit kan tot môre wag,” probeer Ila keer. Gister was ’n uitputtende dag en vanoggend voel sy nog steeds moeg en oorspanne. Sy het gehoop Daniel Niehaus sou vanmiddag ’n rukkie slaap sodat sy ’n uur of twee vry kon hê om in haar kamer in te gaan en alleen wees om tot verhaal te kom en haar voete te vind. Te veel het met haar gebeur sedert sy op Nelspruit aangekom het. Dit voel asof daardie selfde trein waarvan sy afgeklim het, oor haar geloop het. Sy het tyd nodig om alles te deurdink en haar reg te ruk.

      Die ou man se fletsblou oë is deurdringend op haar gerig. “Jy is soos ’n stuk styf gespanne doringdraad. Wat skort met jou, Daniela?” vra hy skerp. “Stel jy dan nie meer in die boerdery belang nie? Het jy in vyf jaar soveel verander dat jy nie meer in Rietendal belangstel nie? Hoekom wil jy nie die plaas gaan besigtig nie?”

      Ila besef dat sy

Скачать книгу