Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 19

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

na ’n volle minuut beweeg een van die hande stadig om Ila se gesig op te lig. Hy draai haar kop na die lig om haar gesig te bestudeer. Ila draai haar gesig nie weg nie, maar sy byt haar onderlip senuweeagtig vas en haar oë kan nie in dié van die ou man kyk nie.

      Martin voel magteloos terwyl hy wonder wat hy kan doen om Ila te help. Hierdie is die krisis-oomblik, die grootste hindernis waaroor Ila moet kom. As die moedswillige ou man net meer tegemoetkomend was, dink hy wrewelrig. Hy het net gesê: “Hoog tyd!” Arme Ila het haar seker morsdood geskrik. Dis snaaks dat sy nog so goed kop gehou en by die oukêrel gaan kniel het. Die ou man kon tog darem gesê het: “Welkom, my kind,” of iets van dié aard. Watter soort verwelkoming is hierdie vir die dogter na wie hy kastig so gehunker het?

      Daniel Niehaus sou graag wou sê: “Ek is bly jy het na Rietendal teruggekom,” maar sy tong kan die woorde nie vorm nie. Hierdie oomblik, hierdie ontmoeting waarop hy so lank gewag het, is vir hom te veel. Hy kug twee keer en sê dan met ’n growwe stem: “Jy het … ouer geword.”

      “Ja, Vadie. Ek is nie meer agtien nie.”

      “Ek dank die goeie Vader dáárvoor.”

      Ila is nie seker wat sy daarop moet antwoord nie.

      Die maer hand beweeg voel-voel oor Ila se gesig, dan kry dit een van haar hande beet, die greep verbasend sterk vir sy ouderdom. Toe hy met sy ander hand oor haar hare streel, weet Ila die spanning is verby. Sy is vergewe. Sy lê haar kop teen die ou man se knieë en dan is dit asof ’n damwal meteens in haar meegee om die woorde te laat uitborrel, stamelend en half deurmekaar.

      “Ek is jammer, Vadie. So vreeslik … jammer oor … oor alles. Vergewe my. Ek moes nie weggegaan het nie. Ek het u nie verstoot nie. Ek het nie geweet u is … siek nie. As ek dit geweet het, het ek lankal teruggekom. Ek het verlang …Was Vadie baie, baie kwaad vir my?”

      “As ek sê ja, sal dit jou verdiende loon wees, Daniela. Maar nee, ek was nie vir jou kwaad omdat jy weggegaan het nie, my kind. Ek het verstaan. En ek kan maar net sê dankie dat jy teruggekom het.”

      Ila waag dit om vlugtig in die ou man se gesig op te kyk. Dog dis geslote en onpeilbaar en sy weet nie wat hy met daardie woorde bedoel het nie. Hy sê hy verstaan waarom sy weggegaan het … Wat verstaan hy? Dat sy nie met Martin wou trou nie? Of … of wat het hy bedoel?

      Ook Martin frons onbegrypend waar hy nog steeds op die stoeptreetjies staan. Sedert Daniela daardie nag, vyf jaar gelede, weg is, het die ou man nooit enige woord oor die rusie tussen hulle twee gerep nie. Dit was aan Martin oorgelaat om sy eie afleidings te maak. Maar wat presies tussen Daniel Niehaus en sy dogter gesê is, weet Martin tot vandag toe nie. Hy het egter aanvaar dat die ou man aan sý kant was en vir Daniela gesê het sy is kleinlik en kinderagtig om nie met haar stiefbroer te wil trou nie. Dit was die logiese afleiding, het Martin geredeneer, want hoekom anders het Daniela weggegaan? As die ou man Daniela se kant in die saak gekies het, sou sy op Rietendal gebly het. Maar nou wonder hy skielik: Wat het Daniela destyds vir haar vader vertel? En wat verstaan die ou man vandag? Weet hy wat gebeur het daar … daar by Rooikloof?

      Daniel Niehaus lig nie een van die twee in oor die betekenis van sy opmerking nie. Sy blik dwaal vir oulaas oor Ila se gesig, dan sê hy kortaf vir Martin: “Jy het lank genoeg langs die pad gedraal voor jy Daniela vir my gebring het. Nou kan jy jou bruikbaar maak. Gaan haal vir die kind ’n stoel en sê Mieta moet tee bring. Dan gaan kyk jy wat met die melkery aangaan.”

      Martin is onwillig om Ila en sy stiefvader alleen te laat, maar hy durf hom nie openlik teëgaan nie. Dis een ding om agter sy rug van die ou man te skinder en neerhalend van hom te praat, maar heeltemal ’n ander om dit in sy teenwoordigheid te doen. Wanneer hy by sy stiefvader is, is Martin baie gedienstig en behandel hy Daniel Niehaus met die eerbied wat hy as huidige baas van Rietendal verdien.

      “Vader, voor ek weg is dorp toe, het ek bevele gelaat. Arend-hulle kan alleen met die melkery aangaan,” sê Martin.

      “Bevele gelaat …” sê die ou man iesegrimmig. “En wat wil jý doen? Heeldag op die stoep sit en tee drink terwyl ander jou werk op die plaas doen? Dis nie hoe daar op Rietendal geboer word nie.”

      Niks van Martin se opstandigheid en ergernis is in sy stem hoorbaar nie toe hy gedienstig antwoord: “Goed, Vader, ek sal gaan kyk dat Arend-hulle behoorlik melk.”

      “Ja, en dan gaan maak jy ’n draai by die Simmentalers in die boonste kamp. Laat my en Daniela alleen. Ons het baie om oor te praat …”

      Toe Ila uiteindelik opgaan badkamer toe om haar gesig en hande voor ete te was, keer Martin haar op die trap voor.

      “Was dit baie erg?”

      Ila skud haar kop.

      “Jy en die ou man het ure lank gesels. Wat het hy alles te sê gehad?”

      “Niks besonders nie.”

      “Enigiets oor sy testament?” vra Martin gespanne.

      “Nee.”

      “Is jy seker?”

      “Martin, my vader het my vyf jaar gelede laas gesien. Dink jy hy sou oor so ’n pynlike onderwerp praat pas nadat ek op die plaas aangekom het?”

      “Nee, seker nie. Maar het hy enigiets gesê wat mý raak?”

      “Niks nie.”

      “Iets in verband met die rusie destyds tussen hom en Daniela, waaroor dit gegaan het en wat tussen hulle twee plaasgevind het?”

      “Nee. Dis nóg ’n pynlike onderwerp wat hy sou vermy het.”

      “Ek weet hy wou hê Daniela moes met my trou, maar sy het geweier. Ek het net gedink miskien het hy dalk vir jou vertel presies wat daardie aand tussen hom en Daniela gesê is.”

      “Hoekom sou hy? Ek weet mos net soveel van die rusie af as hy.”

      “Waaroor het julle twee dan die hele tyd gepraat? Hoekom het hy my weggestuur sodat julle alleen kon wees?”

      “Martin, asseblief … Ek is moeg en oorspanne. Laat my net ’n rukkie alleen.”

      Martin klim hoër met die trap op sodat sy gesig regoor Ila s’n is.

      “Jy is nie dalk van plan om my in te loop nie, is jy, Elizabeth Verster? Vanwaar hierdie geheimsinnigheid en ontwykende antwoorde? Is jy dalk self met ’n set besig? Is jy en die oukêrel besig om ’n komplot teen my te smee?”

      Die geduldige leermeester en gesellige vriend van die afgelope tyd is skielik weg. In sy plek is die jong man wat Ila op die stasie ontmoet het, die Martin Niehaus wat haar onwillekeurig van die bewegende treinwiele af laat padgee het. Net soos daardie oggend op die perron, laat die kille stemtoon haar ’n rilling ondervind. Sonder dat sy dit besef, klim sy ’n paar trappies hoër op om van hom af weg te kom.

      “Want as dit jou plan is, skatlief, kan ek jou nou reeds waarsku: dit sal ’n gevaarlike speletjie wees. Ek wil Rietendal hê, en ek is nie ’n man wat my laat dwarsboom nie.”

      “Ons het oor die … oor die ou dae gesels.” Ila verag haarself omdat sy so senuweeagtig is. “Ek het hom gevra of hy nog die storie van Floors en die roomkoek onthou en …en van die tyd toe ek ’n brandweerman of ’n renjaer wou word – sulke storietjies. Ons het sommer oor die ou

Скачать книгу