Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 18
“Mieta …” waarsku Martin haar onderlangs.
“En vir wat bly jy so lank weg, meisiekind! Het jy vergeet jy het ’n huis en ’n pa? Kyk hoe lyk jy! Jy is so maer soos ’n kraai! Het hulle nie in Janniesburg vir jou kos gegee nie? Ook maar goed ek het skaapboud en bobotie en roomkoek gemaak dat ek jou kan begin vet voer. Jy lyk siek! Jy lyk …”
“Mieta …” val Ila haar sag in die rede. “Mieta … ek het nog nie eers my voet oor die drumpel gesit nie, en jy baklei al klaar met my. Is jy nie bly ek het huis toe gekom nie?”
Mieta wil nog verder raas, maar sy kan geen woord uitkry nie. Die aggressiewe houding verdwyn. Haar hande frommel die wit voorskoot en haar lippe bewe. Dan verkrummel haar hele gesig terwyl trane oor die verrimpelde wange loop. Mieta swaai kortom, druk haar voorskoot teen haar mond en hardloop terug kombuis toe.
“Hindernis een is verby,” sê Martin liggies. “Jy het ou Mieta gefop. Pragtig kop gehou, skatlam.”
Ila sluk aan die pynlike knop in haar keel. Arme ou Mieta se vreugde was aandoenlik. Ook sý het blykbaar ’n baie klein hartjie wat sy agter raas en baklei probeer wegsteek het. En bobotie … Mieta het onthou dat Daniela so lief was vir bobotie met geelrys en rosyntjies.
“Wel, waar wil jy instap?” vra Martin ongeërg. “Voordeur of agterdeur?”
“Waar sou Daniela ingestap het?” vra Ila.
“Jy is Daniela,” herinner Martin haar. “Doen soos jy goed dink. Ek glo nie Daniela self sou ou Mieta beter hanteer het nie. Hou so aan.”
“Ek dink ek behoort seker reguit na haar … my pa toe te gaan.”
Ila stap sonder huiwering regs om die huis, deur die hekkie in die hibiskusheining en oor ’n grasperk na die noordelike stoep aan die voorkant waar Daniela se pa wag …
Maar beide Ila en Martin het van die kwaai rifrughond vergeet. Snuffels het agter die huis in die koelte van die soetdoringboom gelê en slaap en nie dadelik die motor hoor stilhou nie. Sy werk is om hoenders en vreemdelinge op die werf te verjaag. Nou wil hy vir sy aanvanklike pligsversuim vergoed. Hy storm deur die hekkie en toe hy sy baas herken, verwelkom hy Martin luidkeels.
Maar dan steek hy vas. Die stert gaan staan botstil. Die geblaf hou op en hy kyk onseker na Ila. ’n Diep grom stoot in sy keel op en hy kom ’n tree nader.
Met een vinnige beweging koes Ila agter Martin in sodat hy tussen haar en die massiewe rifrug is.
“Ek … ek het vergeet om jou te sê. Ek ly aan ’n ewige vrees vir honde,” sê sy senuweeagtig.
“Snuffels sal nie byt as jy by my is nie.”
“Ek verkies om dit liewer nie op die proef te stel nie. Jaag hom weg. Jaag hom deur die heining en maak die hek toe, asseblief …”
“Kom, Snuf …!” beveel Martin terwyl hy die hekkie oophou.
Die rifrughond is gewoonlik baie gehoorsaam. Maar vandag luister hy nie na die bevel nie. Hy kom snuif-snuif nader aan Ila terwyl sy geel oë haar stip dophou.
“Snuffels! Uit!” gebied Martin. Toe die hond nog steeds nie gehoorsaam nie, gryp hy hom en boender hom deur die hek. Dis lastig dat Ila bang is vir honde, dink hy ergerlik. Sy en die rifrug sal moet maats maak, anders sal die oukêrel agterdogtig raak. Snuffels was Daniela se hond en die twee was onafskeidbaar. Dis nie geloofwaardig dat ’n meisie in haar kinderdae baie lief was vir diere, maar vyf jaar later skielik ’n vrees vir honde koester nie. Ila sal baie vinnig van hierdie onsinnige fobie ontslae moet raak.
“Toe ek klein was, het ’n wolfhond my eendag gebyt,” verduidelik Ila. “Van toe af is ek bang vir honde. Ek is jammer.”
“Jy moes my gesê het, dan het ek Snuffels vanoggend in die motorhuis toegemaak. Wat sou gebeur het as die ou man by was toe die hond op jou afgestorm het?”
“Ek weet nie. Dan sou ek my vrees dalk kon bedwing het.”
“Is jy kalm genoeg om die ou man te ontmoet?”
“Ja, ek dink so.”
Hierdie ding met die hond kan dalk probleme veroorsaak, dink Ila. Sy kyk om na waar die groot, bruin hond teen die hek staan, dan stap sy vinnig agter Martin aan oor die grasperk.
Net soos daardie oggend op die stasie, voel Ila lus om om te draai en te vlug. Hoe kan Martin seker wees Daniel Niehaus sal haar met ope arms ontvang? Hy is ’n harde en trotse man, ontoegeeflik en onverbiddelik. Wie sê hy het sy dogter vergewe?
Ila is ’n goeie toneelspeelster, maar sy kan nie vir Martin verberg hoe senuweeagtig sy voel nie. Martin neem haar hand in syne en gee dit ’n bemoedigende drukkie.
“Ek sal die hele tyd naby wees. As ek kan, sal ek help. Moenie soos ’n gekweste wildsbokkie lyk nie, skatlam. Die ou man sal miskien jou kop was, maar dit nie afbyt nie. En doller as kopaf kan dit in elk geval nie gaan nie.”
“Dis ’n skrale troos. Martin, sê nou maar hy weet dadelik ek is nie Daniela nie?”
“Dan lag jy hom uit en jy vra vir hom hoe dit moontlik is dat ’n vader nie sy eie dogter herken nie.”
“Lag? Ek glo nie ek sal ooit in my lewe weer in staat wees om te lag nie.”
“Ja, jy sal. As ek daardie tjek vir vyf-en-dertigduisend rand vir jou gee, sal jy lag – al die pad bank toe sal jy lag.”
Ila trek haar hand uit Martin s’n. Sy wou nie op hierdie oomblik aan die geld herinner word nie. Sy woorde het banaal geklink en haar diep seergemaak.
“Het Judas gelag toe hy die dertig silwerlinge ontvang het?” vra sy met ’n vreemde hartseerklank in haar stem.
“Hou op om jouself as ’n martelaar te beskou,” sê Martin ergerlik. “Kom … Die ou man sal wonder waar ons so lank draai.”
Ila voel na aan trane en haar knieë voel bewerig, maar sy het geen ander keuse as om saam met Martin na die voorstoep toe te stap nie.
Die ou man sit in ’n rystoel, ’n kombers oor sy bene en sy kierie op die stoep langs hom. Sy hare is spierwit en sy vel het ’n wasagtige, half deurskynende voorkoms. Ila skrik toe sy hom sien. Martin het haar voorberei op wat sy toestand is, maar dit lyk asof die geringste windjie hom sal omwaai. Sy blou oë is egter helder en deurdringend toe hy sy kop draai om na haar en Martin te kyk.
Ila voel asof sy aan die stoeptreetjies vasgespyker is. “V-Vadie …?” fluister sy onseker, haar stem pynlik hees en haar keel toegetrek. Hierdie was die oomblik wat sy bo alles gevrees het. Nou kan sy nie meer omdraai nie … pleks dat sy gevra het Martin moet nie staan en toekyk nie, dan was dit dalk makliker vir haar.
Die ou man praat nie. Hy groet nie en hy heet Daniela nie welkom nie. Die blou oë is deurpriemend en die lippe in ’n ontoegeeflike lyn saamgepers. Ila vrees hy gaan geen enkele woord vir haar sê nie. Dan kom dit soos ’n sweepslag: “Hoog tyd!”
Ila het egter gesien hoe aangedaan hy is. Hy moes twee keer sluk voordat hy die woorde kon uitkry, en die benerige hande klem gespanne om die armleunings van die rystoel.
Met