Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 13

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

verwys as die spogplaas van die distrik nie.

      Martin het kortliks beduie watter die slaapkamervensters is. Ila kry ’n knop in haar keel toe sy na die een op die punt kyk. Agter daardie venster wag ’n eensame ou man op sy dogter se terugkeer. Hy glo sy lewe nog. Moet sy onwrikbare geloof dan beskaam word? Moet hy vergeefs wag en sterf sonder dat sy droom bewaarheid is?

      Ila vee met ’n bewerige hand oor haar oë. So baie vrae, waarop die antwoorde so bitter moeilik is. Die allerbelangrikste is: Sal dit baie verkeerd van haar wees om onder valse voorwendsels na die plaas toe te gaan?

      In haar onderbewussyn weet sy wat die antwoord is. Die doel heilig mos die middele, nie waar nie? En haar doel sal wees om aan ’n sterwende ou man van tagtig rus en vrede te gee. In haar hart sal sy wel die hele tyd soos ’n agterbakse bedrieër voel, maar Daniel Niehaus sal dit nie weet nie. Nóg hy nóg sy stiefseun sal weet wat in haar hart omgaan.

      Meteens lui die telefoon op haar bedkassie.

      “Mejuffrou Verster?” vra dokter Retief met sy diep stem. Dit klink nie warm en vriendelik soos vanoggend toe hy so besorg oor haar welstand was nie. Sy stem klink soos gister toe hy haar as ’n onnosele en stiksiende dwaas uitgeskel het.

      Ten spyte daarvan begin haar hart met uitgelate bokspronge teen haar ribbes bons. Hy het haar darem weer geskakel … Dankie tog dat hy nie besluit het om haar heeltemal te ignoreer nie. Dalk het hy nie gemerk dat Martin haar probeer soen het nie, en miskien wil hy haar vir koffie nooi. Ila se oë dwaal na haar kas terwyl sy solank wonder wat sy gaan aantrek ingeval die wonderwerk gebeur – haar nuwe blou rok of die liggroen broekpak? Martin het gesê die kleur pas haar mooi. Of moet sy ’n wit rok aantrek sodat sy koel en fris …?

      “Juffrou Verster, is u daar?”

      Ila kom nou eers agter dat sy nog nie geantwoord het nie.

      “Is dit … is dit dokter Retief wat praat?” vra sy uitasem, asof sy daardie stem nie uit tienduisend sal herken nie …

      “Hoe klink u so snaaks? Voel u nie wel nie, juffrou Verster?”

      “Nee. Nee, ek makeer niks. Ek voel piekfyn.” Hy moenie dink sy is miskien te siek om te gaan koffie drink of uiteet nie. Sy is nie honger nie, maar sy sal die kos inwurg net om by hom te wees.

      “Dis goed,” sê Johan Retief kortaf. “Ek was ongeveer ’n uur gelede by die Alexander, maar dit bespaar my die moeite om weer te gaan aangesien u gesond voel.”

      “Dan hét hy genoeg belanggestel om haar te kom besoek, jubel dit in Ila se hart.

      Ek voel honderd persent beter, in die sewende hemel van geluk! wil Ila uitroep. Beskeie sê sy: “Dankie vir die belangstelling en die moeite wat u gedoen het, dokter.”

      “Dit was geen moeite nie. Ek was toevallig in die omgewing.”

      Ila se hart weier dat daar ’n emmer koue water op hom omgekeer word. Goed, hy was miskien toevallig in die omgewing, maar hy het darem ’n biétjie spesiale moeite gedoen om haar op te soek. Dit bewys dat hy begerig was om haar te sien en dis darem ’n troos.

      “Ek het dit as my plig beskou om u te besoek. Hoewel u reeds uit die hospitaal ontslaan is, beskou ek die nasorg van pasiënte as ’n belangrike aspek van my werk.”

      Nasorg … En hy beskou haar maar net as nóg een van sy talle pasiënte. Sy is nie belangriker as die baie ander nie.

      Daar heers ’n ongemaklike stilte. Ila is bang hy lui af.

      “Ek het u nie gesien nie, dokter Retief,” sê sy die eerste die beste ding waaraan sy kan dink. Dit was egter nie ’n baie intelligente opmerking nie, want sy wil hom nie aan daardie voorval op die stoep van die hotel herinner nie.

      “Nee, want u was te besig,” merk Johan kil op.

      Ila herken nie die rooi vlag wat voor haar wapper nie. Sy sien nie die gevaartekens in die pad nie, en sy weet nie dat sy nou slapende honde behoorlik wakker gemaak het nie. Sy het Johan Retief die opening gegee waarop hy gewag het.

      “Besig?” vra sy vriendelik. “Nee, ek was nie besig nie, dokter Retief. Hoekom het u nie gegroet en ’n rukkie gesels nie?”

      “Omdat ek nie van die geselskap hou waarin jy verkeer het nie,” antwoord hy koud.

      “M-Martin?”

      “Ja, Martin Niehaus. Maar smaak verskil natuurlik en die fout mag by mý lê. Moontlik sal ek meer van Niehaus hou as ek hom so goed ken soos jý hom blykbaar ken.”

      Skaakmat, dink Ila. Wat kan sy sê? Dat sy Martin glad nie so goed ken as wat hy insinueer nie en dat sy nie van Martin hou nie? Maar dan sal hy dalk vra of sy enige Jan Rap en sy maat toelaat om haar te soen, al ken sy hom nie en al hou sy nie van die betrokke man nie?

      Ila is nie ’n bedrewe skaakspeler nie. Sy weet egter dat aanval jou beste taktiek is. Om terug te val en op die verdediging te bly, sal jou nie die spel laat wen nie.

      “Hoekom hou jy nie van Martin Niehaus nie?” vra sy reguit.

      “Ek glo nie dis ter sprake nie, juffrou Verster. Ek beskou dit ook nie as goeie maniere om ongunstige kritiek teenoor jou medemens uit te speek nie.”

      Johan weet dit klink uiters vroom en skynheilig. Wie is hy om homself as ’n sedepreker of ’n heilige voor te doen? Hy het dan nog ’n kort rukkie gelede moordgedagtes gekoester. Hy wou Martin Niehaus ’n opstopper gee en Elizabeth se nek omdraai. Die woorde is egter gesê en hy kan hulle nie terugtrek nie.

      Hy weet in elk geval nie hoekom hy Elizabeth Verster geskakel het nie. Toe hy ’n uur gelede by die Hotel Alexander weg is, was hy so kwaad vir die meisiemens dat hy haar nooit weer wou sien nie. Maar skaars vyf minute later tel hy die gehoorbuis op en kan hy nie wag dat die telefoniste van die hotel hom na kamer tien toe moet deurskakel sodat hy weer Elizabeth se stem kan hoor nie … Hoe rym dit? Wil hy die meisie nooit weer sien nie of begeer hy om nou in sy motor te klim en vir haar te gaan kuier?

      “Ek sien,” antwoord Ila.

      Johan vra nie wát sy sien nie. Hy is bang sy sien die tipe persoon wat homself as so edel van inbors beskou dat hy die vermetelheid het om vir ’n pragtige klein blondine sedepreke af te steek.

      “Drink u elke drie uur die tablette wat ek voorgeskryf het?” vra hy formeel. Hoekom skuil hy altyd agter ’n professionele houding? dink hy ergerlik. Elizabeth is nie een van die verpleegsters by die hospitaal wat hy probeer vermy of ontmoedig nie. Sy werk is in elk geval ook nie meer so allerbelangrik as wat hy tot dusver gereken het nie. Dis skielik nie meer vir hom voldoende nie. Daar het ’n leemte ontstaan. Daar is nou plek vir ’n meisie …

      “Ja, dokter,” antwoord Ila soos ’n gehoorsame dogtertjie.

      “Met ’n halfglas water, soos ek aanbeveel het?”

      “Ja, dokter.”

      “En dit voorkom hoofpyn?”

      Ila is bang sy klink soos ’n grammofoon wat vashaak. “Ja, dokter … dit verlig die hoofpyn, ja.”

      “U sê daar is geen nagevolge as gevolg van die stamp teen die kop nie?”

      Ila

Скачать книгу