Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 12

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

klank van die masjien misgis nie. Dit is ’n nuwe Mercedes – met Johan Retief agter die stuurwiel, ’n baie haastige dokter Johan Retief te oordeel na die manier waarop hy weggetrek het en met skreeuende bande tussen die verkeer invleg.

      Die suising in Ila se ore vervaag. Haar kop draai ook nie meer nie. Sy voel nie meer asof sy naar en duiselig op die rand van ’n gapende afgrond staan nie. Sy druk haar hande teen Martin se bors om hom weg te stoot.

      “Jy misgis jou, Martin Niehaus,” sê sy koel. “Ek is nie een van jou ander nooiens wat voor jou sjarme swig die oomblik wat jy die kraan oopdraai nie. Ek is nie van plan om soos ’n ryp pruim in jou skoot te val as jy jou vingers klap nie.”

      “Vanwaar dié onverwagte ommeswaai? Een oomblik was jy soos klei in my arms, die volgende oomblik weer die stokstywe besemstok. Ek kon sweer jy wou graag gehad het ek moes jou soen. Nou lyk jy soos iemand wat ’n spook gesien het.”

      “Nie ’n spook nie. Allesbehalwe …”

      “Het ek iets gesê wat jou kwaad gemaak het?”

      “Nee, ek het ’n uitputtende dag agter die rug. Ek is moeg en ek wil gaan rus.”

      “Mag ek môreaand weer kom, Ila?”

      Terwyl Martin die blonde meisie gespanne dophou, merk hy die wisseling van emosies op haar gesig – eers onwilligheid en teësin, dan onsekerheid gevolg deur ’n mate van twyfel en uiteindelik instemming …

      “Ja, goed,” antwoord Ila so sag dat Martin dit byna nie kan hoor nie.

      “Sal jy intussen my aanbod oorweeg?”

      Ila knik en draai vinnig weg. Toe sy by die voordeur instap, hoor sy hoe Martin Niehaus fluit-fluit na sy motor toe loop waar dit voor die hotel geparkeer is – twee plekke weg van waar dokter Retief se groen Mercedes gestaan het …

      5

      Ila staan voor haar kamervenster en kyk na die verkeer onder in die bedrywige straat. Daar is voetgangers en fietse en houtlorries, hoog gelaai met lemoene en bloekompale, en baie motors … Maar nie een van hulle is ’n donkergroen Mercedes nie en nie een van hulle hou weer voor die hotel stil nie.

      Was Johan Retief in die hotel om dalk ’n pasiënt te besoek, of het hy op die voorstoep gesit? wonder Ila. Sy het hom nie opgemerk nie, maar sy was nie in ’n toestand om na die ander mense op die stoep op te let nie. Sy het nie rondgekyk nie, want sy het hom nie daar verwag nie. Hoekom het hy so haastig vertrek? Hy moes haar en Martin by die voordeur sien staan het en hy het haar seker herken, maar hy het nie nader gestap om te verneem hoe dit gaan nie. Vanoggend was dokter Retief besonder vriendelik en baie besorg oor haar welstand. Vanoggend wou hy haar met alle geweld hotel toe neem en verseker dat sy haar pilletjies gereeld neem. En vanmiddag ignoreer by haar en trek weg asof tien duiwels hom agtervolg. Hoekom het hy nie net gegroet en gevra hoe dit gaan nie?

      Sou jý? vra die stemmetjie in Ila se binneste. Sou jy – selfs as was dit in jou professionele hoedanigheid as geneesheer teenoor ’n pasiënt – ’n meisie gevra het hoe dit gaan terwyl ’n ander man besig is om haar vurig te omhels en te probeer soen?

      Ila se wange word rooi terwyl sy besef hoe die toneeltjie op die stoep vir ’n buitestander moes gelyk het. Dit het Johan Retief seker baie ongemaklik laat voel. Geen wonder hy was taktvol genoeg om haar te ignoreer en hom uit die voete te maak nie.

      Daardie dekselse Martin, dink Ila wrewelrig. Hoekom moes hy haar juis dáár – reg by die voordeur en so te sê reg onder dokter Johan Retief se neus – in sy arms neem? En hoekom het sy haar nie dadelik losgewikkel en Martin gouer weggestoot nie? Dokter Retief weet sy het slegs gisteroggend op Nelspruit aangekom, en hy weet natuurlik dat Martin haar nie op die stasie gaan ontmoet het nie. Wat moet hy van haar dink dat sy so gou ’n vreemde man toelaat om haar te omhels? Dokter Retief het seker die afleiding gemaak dat sy ’n goedkoop klein flerrie is. Hy sal nie verder in haar belangstel nie, selfs nie eers as pasiënt nie …

      Dis ’n ontstellende besef. Ila stuur haar gedagtes so gou moontlik in ’n ander rigting. Sy dink aan Panorama-toere en aan die twee prokureursfirmas by wie sy vergeefs om werk aangeklop het. Sy vrees dieselfde gaan gebeur as sy by die bank probeer of ’n betrekking as ontvangsdame by die een of ander hotel of motel soek. Hulle sal vra of sy vorige ondervinding het en wat haar kwalifikasies is. Op albei vrae sal sy moet antwoord: “Geen.” Die bietjie tikwerk – met twee vingers – wat sy vir Maria Meintjies gedoen het, sal nie as ’n kwalifikasie of as ondervinding in aanmerking kom nie.

      Dis nie vir Ila nodig om haar beursie oop te maak om te tel hoeveel geld sy nog oor het nie. Sy weet. Sy weet baie goed hoe kritiek haar finansiële posisie is. Die nuwe klere wat sy ’n paar dae gelede gekoop het, tesame met haar treinkaartjie, die onverwagse hospitaalonkoste, plus haar hotelrekening, laat haar totaal platsak. Sy het met slegs ’n paar rand in haar sak Laeveld toe gekom. Sy het nie geweet presies wat sy van plan was om te doen nie. Sy het gehoop sy sou sekerheid kry sodra sy op Nelspruit aankom. Maar dis nie die geval nie. Te veel dinge het gebeur. Te veel dinge is nie soos sy gehoop het nie … Sy was nie daarop voorbereid dat sy sou sukkel om tydelik ’n werk te kry nie. Hoekom is daar ’n oorvloed aan toerleidsters? Hoekom het Panorama nie liewer ’n dringende tekort aan dames gehad nie?

      Wat gaan sy doen? wonder Ila. Waarvan gaan sy leef totdat sy iewers werk gekry het? En word nuwe werknemers nie eers aan die einde van die maand betaal nie?

      Ja, ek weet wat jy wil sê, spring Ila die tergende stemmetjie in haar binneste voor.

      Maar hoekom nie? torring dit aan haar. Martin se voorstel is ’n geskenk van die gode. Om Rietendal toe te gaan as Daniela Niehaus … Sy skerm weg en sê sy durf nie. Hoekom erken sy nie dat dit is wat sy graag sal wil doen nie? Dan is al haar probleme mos opgelos … Hoekom van die waarheid wegvlug? Hoekom, as sy tog weet dat sy op die ou end sal instem?

      Ila vleg haar hande inmekaar terwyl sy radeloos voor die venster bly staan. Dis oneerlik om onder valse voorwendsels Rietendal toe te gaan. Maar wat anders staan haar te doen? En, soos Martin haar talle kere verseker het, sal sy niemand daardeur skade berokken nie. Daniel Niehaus is haar grootste oorweging en Martin was reg. Hy sal verheug wees om sy vervreemde dogter op die plaas terug te verwelkom. Hy is oud en sieklik en ’n gebroke man. Hy sal seker nie meer lank lewe nie. Het sy die reg om ’n arme eensame en sterwende ou man die rus en vrede gedurende sy laaste paar maande op aarde te ontsê?

      Ila skud haar kop. Sy is besig om die waarheid te verdraai om haar te pas en haar skuldige gewete te salf. Daniel Niehaus se toestand is kritiek. Hy het ’n swak hart. As Martin per ongeluk sy mond verbypraat of laat blyk dat sy nie Daniela is nie, sal dit sy einde beteken. Eers die vreugde omdat sy dogter huis toe gekom het, en dan die skok as hy besef dat dit in werklikheid ’n wildvreemde meisie is wat toevallig net soos Daniela lyk … Nee, dit sal wreed wees. Sy sal hom vanselfsprekend probeer oortuig dat sy wel Daniela is, maar die gevaar bestaan dat hy haar nie sal glo nie. En sy kry miskien nie eers die kans om te probeer regmaak wat sy en Martin verbrou het nie. Die skok is dalk te veel vir sy hart en dan is dit te laat …

      Maar tog – as sy haar rol slim genoeg speel, hoef hy mos nooit van die dubbelspel uit te vind nie, redeneer Ila. Martin het gesê die doel heilig die middele. Op hierdie oomblik, terwyl haar gedagtes in ’n malende warboel van vertwyfeling is, besef Ila dat daar nog nooit voorheen ’n spreekwoord was wat beter by die omstandighede gepas het nie.

      Sonder dat sy besef wat sy doen, draai sy van die venster af weg en tel die pak foto’s en ou briewe op. Dis ’n pragtige ou opstal. Dubbelverdieping-gewelhuis met ’n grasdak en breë toegegaaste stoepe. Op sommige van die

Скачать книгу