Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 11

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

branderige gevoel is weer in Ila se keel toe sy aan die arme sieklike ou man dink. Sy eie dogter het hom verlaat en al wat oorgebly het, is ’n stiefseun wat die dae tel totdat hy sy laaste asem uitblaas, totdat hy die plaas in die hande kan kry … en intussen wag die ou vader vir sy dogter, glo hy dat sy nog leef en dat sy betyds sal terugkom …

      “Ila …” Martin se stem klink vreemd en hy staar haar ondersoekend aan.

      Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Ek … ag, ek weet ek is oordrewe sentimenteel. Ek ken hom nie eers nie, maar tog voel ek hartseer oor die arme ou oom. Ek sal dit … sê my eerlik, sal dit baie verkeerd wees om plaas toe te gaan en hom gemoedsrus te gee? As ek inwillig, sal dit die rede wees; nie die geld wat jy my sal betaal nie. Dié wil ek nie hê nie, selfs al stoot jy die omkoopbedrag op na vyftigduisend rand. Skandegeld – dis wat dit sal wees; die dertig silwerlinge van Judas Iskariot …”

      “Dis baie edel van jou,” spot Martin, “om ’n fortuin van die hand te wys … en ek dink dis ’n bietjie melodramaties om jouself met Judas Iskariot te vergelyk. Jy verraai niemand nie. Miskien, Daniela, maar dit maak nie saak nie, want sy is dood.”

      Hoe kan hy so ongevoelig van haar praat? dink Ila. Hy het dan voorgegee dat hy Daniela liefgehad het … Sy glo nie Martin Niehaus ken die betekenis van die woord liefde nie.

      Ila dink aan iets wat sy Martin netnou al wou gevra het. Sy verstaan nie mooi hoe hy dit uitgewerk het nie. Dit behoort hom mos beter te pas as die vermoede bestaan dat Daniela in ’n vliegramp omgekom het. Wat sal die verskyning van sy stiefdogter en die regmatige erfgenaam van die plaas in Martin in die sak bring?

      “Ja, nou kom ons by die kern van die saak,” sê Martin in antwoord op haar vraag. “Hiervoor sal ons na ’n betrou­bare prokureur toe moet gaan om ’n wettige en baie duidelike ooreenkoms op te stel, anders is die versoeking dalk groot om my in te loop, skatlam. Jy is ’n mooi entjie vroumens, maar ek moet vir myself sorg. Ek moet sorg dat jý nie dalk op die ou end met Daniel Niehaus se skatte sit, in plaas van ék nie. Ek het ’n baie goeie prokureursvriend wat sal swyg mits hy ’n aandeel uit die transaksie kry. Derek Strydom sal vir ons ’n kontrak opstel wat vir albei partye bindend is. Ek onderneem om jou die som van dertigduisend rand – of die bedrag waarop ons besluit – te betaal vir … e … ons sal maar stipuleer vir sekere dienste wat gelewer is. Op jou beurt onderneem jy om die volle en allesinsluitende boedel van wyle Constant Salmon Daniel Niehaus onvoorwaardelik aan my te sedeer. Jy doen ook onvoorwaardelik afstand van enige voordeel wat jy hoegenaamd uit die boedel mag trek, hetsy nou of in die toekoms, hetsy as enigste dogter van die oorledene, hetsy as erfgename van genoemde Daniel Niehaus. Ek dink so ’n kontrak behoort ons albei tevrede te stel en teen mekaar te beskerm.”

      Martin Niehaus het alles goed deurgedink en die slim set deeglik uitgewerk, mymer Ila. Hy het gou gespeel. Hy het haar maar gisteroggend die eerste keer op die stasie gesien. Of straks het die plan tóé reeds by hom posgevat, daarom dat hy haar met alle geweld hotel toe wou neem en baie bang was sy ontglip hom.

      Sy is bly sy het nie ingewillig nie. Daar is ’n heerlike warm gevoel van opwinding in haar binneste. As sy ingestem het dat Martin haar hotel toe neem, sou sy nie gisteroggend vir dokter Johan Retief ontmoet het nie. Weliswaar ’n redelik kras en pynlike kennismaking, maar dit was die moeite werd. Hy moet net asseblief nie vir haar kwaad bly nie en hy moet haar groot asseblief kom besoek. Miskien, as sy hom skakel en sê sy voel nog steeds duiselig of sy dink daar het komplikasies ingetree …

      “Sien jy kans om binne twee weke Daniela te word?” vra Martin. “Ek sou jou graag meer tyd toegelaat het, maar ek weet nie hoeveel tyd ons het om te verspeel nie. Die ou man mag enige dag omkap. As jy ná sy dood as die lank verlore erfgename opdaag, sal ons dit moeilik vind om jou identiteit te bewys. Voor sy dood is dit geen probleem nie. Niemand sal enigsins daaraan dink dat jy ’n bedrieër mag wees nie. As die ou man jou self aanvaar het, sal niemand agterdogtig wees nie. Jy moet net Daniela se handtekening oefen om moontlike probleme by die eksekuteurs te voorkom wanneer jy later dokumente sal moet onderteken. Wat sê jy, astertjie? Gaan ons twee vennote word?”

      Martin sien dat Ila haar kop begin skud. Hy het verwag daar sal aanvanklik besware wees, maar hy is oortuig dat Elizabeth Verster uiteindelik sal instem. So ’n groot bedrag vir so ’n snip van ’n meisiekind – dis ’n aanbod wat sy nie sal kan weerstaan nie.

      “Met dertigduisend rand sal jy die wêreld kan sien, al die plekke besoek waarvan jy tot dusver net in boeke en manuskripte gelees het. Selfs as toerleidster by Panorama-toere kon jy seker maar net die Krugerwildtuin en binnelandse plekke besoek. Begeer jy nie om Europa te sien nie, Ila? En wat van Amerika, Australië, die Ooste? Dis alles binne jou bereik as jy my aanbod aanvaar.”

      Martin steur hom nie aan Ila se teëstribbeling nie. Hy laat glip die pak foto’s, die briewe en die plan van die huis in haar handsak.

      “Om solank te bestudeer terwyl jy wik en weeg,” sê hy. Hy stap saam met haar oor die voorstoep van die hotel tot by die voordeur. Dan plaas hy sy hande op haar skouers en trek haar nader.

      “Hopelik sal dít jou help om tot ’n besluit te kom …”

      “Martin, my kop is seer en ek voel nie lekker nie. Het jy vergeet ek is deur ’n motor omgery? Asseblief, moenie …”

      “Wat is dit met die nooientjie?” vra Martin geamuseerd. “Al wat ek wil doen, is om haar ’n broederlike soentjie te gee – op die wang … Dis nie nodig dat jy so wegrem nie, meisie. Of … is jy bang vir my?”

      “Nee, natuurlik nie. Maar ek … ek voel nie lekker nie.”

      “Seker jy is nie bang vir my nie?” Daar is ’n vreemde klank in sy stem.

      “Doodseker,” herhaal Ila bewerig. Sy dwing haarself om stil te staan.

      Martin se hande gly oor haar boarms, oor haar rug en sluit dan vaster om haar middel.

      “Weet jy wat jy aan my doen, liefste?” fluister hy gesmoord, met sy mond teen hare. “Jy laat die bloed deur my are bruis, vinniger selfs as toe ek Daniela in my arms gehou het.”

      “Asseblief … Jy het gesê op my wang …” hakkel Ila. Sy verag haarself omdat haar bene skielik lam voel en haar hart in haar keel klop.

      Martin lag saggies. “Eers ’n steeks perdjie, nou weer ’n houtpop … Is daar nie ’n middeweg nie, Blondie? Dis nie vir ’n man lekker om ’n meisie te soen as sy haar verbeel sy is ’n stywe besemstok nie.”

      Ila se knieë voel bewerig en haar kop draai. Sy kom agter dat sy aan Martin se arm vashou om nie haar ewewig te verloor nie.

      “Dis beter,” fluister Martin. Die donker kop buk nader en sy mond soek hare. “Ek is nie ’n man wat met ’n wang tevrede is nie, Elizabeth Verster …”

      Ila probeer haar kop wegdraai, dog daar is ’n veraf suising in haar ore, soos in die hospitaal toe sy wakker geword het en half deurmekaar was. Dit klink soos ’n waterval, soos water wat oor kranse in ’n afgrond stort en soos iets wat dreun … ’n dreuning en motorbande wat skreeuend op ’n teerstraat gly …

      Ila se kop ruk op en Martin se lippe raak net aan die hoek van haar mond. Haar oë beweeg oor die stoep, na die motors in die bedrywige straat voor die Hotel Alexander. Sy het ’n bekende dreuning gehoor, een wat sy nie sal vergeet nie, ’n dreuning wat sy dadelik as dié van ’n diesel-Mercedes herken …

      “Wat is dit, astertjie?” wil Martin weet. Die meisietjie is baie bleek in die gesig. Dalk voel sy regtig nie lekker nie …

      Ila

Скачать книгу