Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 6

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

      “Net van die begin van die jaar af. Ek was eers op Witbank, maar my kêrel is in November hierheen verplaas. Ek moes agterna kom om ’n ogie oor hom te hou en hom daaraan te herinner om vir my verloofring te spaar.”

      “Ken jy baie mense in die distrik?”

      “Redelik.”

      “Weet jy dalk van ’n meneer Niehaus wat op ’n plaas in hierdie omgewing boer?”

      “Op Rietendal? Ja, almal ken ou oom Daniel Niehaus. Hy is glo skatryk, amper ’n miljoenêr. Rietendal is die spog­plaas van die distrik. Maar oubaas Niehaus is ’n regte ou korrelkop – outokraties en seker een van die moeilikste pasiënte wat ek nog ooit gehad het. Hy is ook dokter Retief se pasiënt, maar die oubaas luister mos g’n na doktersbevele nie. Dis ’n ewige stryd om hom ’n pil te laat sluk, en dit kos mooipraat om hom ’n inspuiting te gee. Hy jaag gereeld die susters en verpleegsters uit sy kamer. Sê hy wil nie ’n spul vroumense om sy bed hê nie, ons is nes ’n klomp kloekende henne en hy makeer niks. Maar dis valse bravade. Die arme ou oom se gesondheid is in ’n treurige toestand.”

      “Wat makeer hom?”

      “Hart en hoë bloeddruk. Hy het koronêre trombose gehad en verlede jaar ’n tweede hartaanval. Dokter Retief sê ’n derde sal noodlottig wees. Hy is oud en sy gestel is uitgeput. Maar briek aandraai? Aikôna, nie daardie oubaas nie. Hy weier om die lewe gemakliker te neem, en as dokter Retief hom vermaan, sê hy hý weet beter wat sy toestand is – beter as ’n jong snuiter van ’n doktertjie wat nog op die skoolbanke hoort.” Verpleegster Ansie Nel giggel geamuseerd. “Om dit vir dokter Retief te sê … Johan Retief is seker so sewe- of agt-en-twintig – glad nie meer so ’n snuiter nie en ’n uitstekende chirurg, die beste wat hierdie hospitaal nog gehad het. Dink jy ook hy is absoluut beeldskoon?”

      Ila het nie met aandag geluister nie. “Wie?” vra sy afgetrokke.

      “Dokter Johan Retief. Hy kan enige tyd sy voete onder mý ontbyttafel instoot. Ek dink hy is die mooiste mansmens op die hele aarde. As hy net sy vingers klap, gooi ek my ou Sias oorboord, verloofring en al. Al die verpleegsters is dol oor dokter Retief, maar dit lyk nie of hy veel in meisies belangstel nie. Hy het nie eers ’n vaste nooi nie. Dink jy ook hy is ’n fantastiese ou, Ila?”

      “Ek het nie juis opgelet nie,” ontwyk Ila die vraag.

      Ansie is ongelowig. “Nie opgelet na daardie paar breë voorspelerskouers en die kuiltjie in sy ken nie? Jy is sieker as wat jy dink, of anders het jy ’n bril nodig.”

      “Dis wat dokter Retief ook gesê het.” Ila glimlag effens. “Nee, nie omdat ek sy kuiltjie en sy ander deugde misgekyk het nie. Hy het na die rooi verkeerslig verwys wat ek nie raakgesien het nie. Hy wou weet of ek kleurblind is en hy was bitter kwaad.”

      “Ja, hy is al van vanoggend af in ’n omgekrapte bui. Vanmôre, toe hy jou gebring het, moes ons net bontspring en regstaan met suurstof en die x-straalapparaat. Snaaks, dokter Johan is gewoonlik baie gemoedelik, altyd vrolik en nooit so onredelik nie. Hy het seker vanoggend met die verkeerde voet uit die bed geklim. Ek moet ook nie te lank by jou sit en gesels nie, anders sê hy dalk ek vermoei die pa­siënt. Hy is baie besorg oor jou toestand. Hoe voel jy?”

      “Moeg en nog effens lighoofdig.”

      “Jy sal môre beter voel nadat jy rus gehad het. Suster sal jou ’n slaappilletjie gee.”

      “Hoe laat sal ek ontslaan word?”

      “As alles goed gaan en mits dokter Retief met jou vordering tevrede is, net na ontbyt. In die omgewing van nege-uur.”

      3

      Dis amper elfuur voordat al die formaliteite uiteindelik afgehandel is en Ila met haar jas aan in die hospitaal se ontvangslokaal staan.

      “Is jy seker ek kan jou nie gou hotel toe neem nie, juffrou?” vra ’n besorgde dokter Retief. “My motor is naby. Dit sal net ’n paar minute duur.”

      “Doodseker, dokter Retief,” antwoord Ila. “Ek het u alreeds te veel moeite en ergernis aangedoen. Die hotel is in elk geval net om die hoek van die hospitaal.”

      “Moenie vergeet om daardie pilletjies elke drie uur te neem nie.”

      “Ek sal nie vergeet nie, dokter Retief.”

      “En as jy dalk weer duiselig voel of hoofpyn kry, skakel my onmiddellik.”

      Johan Retief is daarvan bewus dat hy nog op die trap bly staan lank nadat die skraal geboude figuurtjie met die tas reeds verdwyn het. Hy is ook daarvan bewus dat suster Badenhorst hom nuuskierig aanstaar. Hy draai kortom, klap die voordeur agter hom toe en stap met lang treë in die gang af.

      Vroumense! dink hy ergerlik. Net as ’n man dink jy het jou lewe netjies georden en jy het nie tyd om in hulle belang te stel nie, gooi die noodlot ’n snip van ’n vroumens in jou pad – letterlik reg voor jou voete in … en dan kan jy skielik met die beste ter wêreld nie op jou ander pasiënte konsentreer nie. Dan dwing jou voete kort-kort om ’n draai by privaatsaal drie te gaan maak en staan jy soos ’n verliefde standerdses-skoolseun op die trap om ’n blonde meisietjie agterna te staar en te wens sy het hierdie keer jou aanbod aanvaar om haar met haar tas te help en haar na ’n hotel toe te neem. Wat is dit met hom? wonder hy. En wat is dit wat maak dat hy Elizabeth Verster nie kan vergeet nie? Agt-en-twintig jaar lank was sy hart ongeskonde en was sy werk belangriker as vroumense. Nou is hy egter nie meer so seker dat daar nie ’n krakie in die muur gekom het nie. Kan dit werklik wees dat hy met die eerste oogopslag halsoorkop verlief op die blondine geraak het? Hy het geglo hy is immuun teen die vroulike geslag …

      Die ontvangsklerk by die Hotel Alexander lyk verlig om Ila se naam in die register te sien.

      “ ’n Meneer Niehaus was gisteraand twee keer hier en het vandag al ’n paar keer geskakel op soek na u, juffrou Verster,” stel hy Ila in kennis. “Dis glo uiters dringend. Hy het gevra ek moet u ’n boodskap gee as u by hierdie hotel ’n kamer bespreek.”

      Ila neem die nota saam met haar sleutel, maar wag totdat sy in die privaatheid van haar kamer is voordat sy dit oopvou.

      Dis van meneer Martin Niehaus – nie van die ryk ou oom Daniel Niehaus wat volgens verpleegster Nel so ’n moeilike oubaas is nie – en die boodskap klink dringend.

      Skakel my dringend – Rietendal – 682, lees sy.

      Martin Niehaus het natuurlik nie geweet by watter hotel sy tuisgaan nie, dink Ila. Hy het blykbaar baie moeite gedoen om haar op te spoor en seker by meer as een hotel op Nelspruit dieselfde dringende boodskap gelaat. Hoekom? Hy weet mos nou sy is nie sy stiefsuster nie. Waarom soek hy so naarstiglik na haar? Of glo hy nog steeds dat sy Daniela is?

      Ila frommel die velletjie papier op en gooi dit in die snippermandjie. Teen haar slape kan sy die begin van ’n kloppende hoofpyn voel. Sy wonder of daardie wit pilletjies van die besorgde dokter Retief daarvoor sal help. Sy glo nie. Maar sy drink nietemin twee van hulle, bad, pak uit en trek ander klere aan. Dan gaan sit sy by die telefoon. Sy het ’n oproep om te maak, maar dis beslis nie na Rietendal 682 nie.

      “Kan u my asseblief na die kantoor van Panorama-toere deurskakel?” versoek sy die telefoniste by die Hotel Alexander se skakelbord. “Ek is vreemd op Nelspruit en ken ongelukkig nie die nommer nie.”

      Martin

Скачать книгу