Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 2

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

af. Die arm sak stadig tot langs Martin se sy. Dan steek hy vinnig sy hand uit en haal die donkerbril van haar oë af.

      Van die min slaap verlede nag is Ila se oë branderig. Die lig is skerp, maar sy draai nie haar gesig weg nie. Sy hou haar kop regop en staar Martin Niehaus kalm aan.

      “Tevrede?”

      Dis duidelik dat die jong man die kluts kwyt is. Die spiertjie pluk nog steeds aan sy mondhoek en ondanks die ver­skoning staar hy Ila onseker aan, asof hy nog steeds dink sy probeer bluf.

      “Dis ongelooflik. Selfs jou oë … Daniela s’n was ook groen – groen met bruin kolletjies aan die binnekant van die iris.”

      “Dis nie ’n seldsame kombinasie nie. Elke tweede persoon het sulke oë. Dis in ons familie.”

      “Wie is jou familie?” vra hy skerp. “Wat is jou naam!”

      “Ek weet nie wat dit met jou te doen het nie, maar my naam is Ila,” antwoord sy kortaf op die onbeleefde vraag.

      “Ila … ’n Afkorting waarvan?” Hy staar haar deurdringend aan.

      “Van … van Elizabeth,” stamel Ila opnuut ontsenu.

      Toe die man nie dadelik praat nie, kyk Ila vlugtig na hom. Sy aandag is egter nie by haar nie. Dis by haar tas. Op die deksel van die duur, egte leertas staan daar in goue lettertjies: Elizabeth M. Verster. Dis of die jong man effens ontspan.

      Ila maak haar handsak oop, haal ’n brief uit en wys dit stilswyend vir hom, sodat hy die naam en adres op die koevert kan lees. In duidelike getikte letters staan daar: Mej Elizabeth Verster, Seringrylaan 6, De Wildt-tuine, Johannes­burg.

      “Ek het toevallig my dagboek ook byderhand.” Ila haal ’n klein, rooi boekie ook uit haar handsak en wys vir die jong man die naam wat voorin geskryf staan.

      “Johannesburg … woon jy in Johannesburg, Ila?”

      “Ek is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword – ’n stadsjapie in murg en been. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit tevore op Nelspruit nie.”

      “Wat het jy dan hier kom maak?” vra Martin Niehaus skerp, asof Ila hom die geleentheid gegee het om haar op ’n ongerymdheid te betrap.

      Ila het nie lus om vir hierdie onaangename jong man die hele hartseerstorie te vertel nie.

      “Werk kom soek,” antwoord sy kortaf.

      “Werk? Op Nelspruit?”

      Hy klink skepties en Ila verduidelik onwillig: “Ek was moeg vir die stadslewe en toe ek die geleentheid gekry het, wou ek ’n verandering maak. Van kleins af was dit my ideaal om die wêreld te sien. Daarom het ek gehoop om by Panorama-toere ’n betrekking as toerleidster te kry.” Sy swyg ’n oomblik en voeg dan koel by: “Hulle hoofkwartier is op Nelspruit – nie in Johannesburg nie. Hulle onderneem hoofsaaklik toere na die Nasionale Krugerwildtuin en die Blyderivier-canyon.”

      Martin Niehaus knik. Hy weet blykbaar van Panorama-toere. Hy hou Ila stip dop en vra dan onverwags: “Wanneer is jy gebore?”

      Die vraag was vinnig gestel. Ila weet die bedoeling is om haar dalk te betrap. Hy wil sien of sy aarsel terwyl sy heel duidelik gou ’n fiktiewe geboortedatum uitdink of dalk op die verkeerde voet betrap word en verbouereerd genoeg is om die geboortedatum te verstrek wat hy blykbaar graag sou wou hoor.

      Ila het genoeg van hierdie ongeskikte jong man verduur.

      “Ek is een-en-twintig jaar oud,” sê sy kil. “Ek het ’n geboortesertifikaat om dit te staaf, as jy dit wil sien.”

      “Daniela sou nou drie-en-twintig gewees het … Ek is jammer, meisie. Maar … maar ek kon sweer jy is Daniela. Selfs nou nog … Jy lyk wel ’n bietjie ouer en jou hare is kort geknip, maar sý sou ook na vyf jaar ouer gelyk het, en dis nie te sê dat sy nog steeds lang hare het wat oor haar skouers hang nie. En die donkerbril het my agterdogtig gemaak … Dit spyt my, astertjie. Regtigwaar, ek vra om verskoning oor die misverstand en agterdog.” Hy glimlag effens. “Ek het jou seker groot laat skrik. Storm uit die bloute op jou af, maak rusie en sê jy moet op die trein klim en teruggaan na die plek waarvandaan jy gekom het … Wat het jy van my gedink?”

      “Ek moet erken – nie veel nie,” sê Ila reguit. “En ek het die indruk gekry dat jý ook nie veel van hierdie Daniela-meisie hou nie.”

      “Inteendeel. Ek was verlief op haar.”

      “Jy het ’n snaakse manier gehad om dit te wys,” sê Ila droogweg.

      “Daar was ’n …” Martin aarsel. “By gebrek aan ’n beter benaming sal ek sê daar was ’n misverstand tussen ons twee.”

      “Ek sien. Wel, noudat óns misverstand uit die weg geruim is, sal jy my verskoon, meneer Niehaus? Ek is haastig.”

      “Ek dink ek skuld jou ’n koppie koffie – net om weer eens te sê hoe jammer ek is.”

      Ila is honger en dors en baie lus vir koffie. Maar nie saam met Martin Niehaus nie. Miskien sou sy saam met daardie ander gawe jong man – die een wat so vriendelik aangebied het om haar tas te dra – gaan koffie drink het, maar hy het haar nie genooi nie. En op hierdie veelbewoë oggend is sy in elk geval meer lus vir haar eie geselskap.

      “Dankie, maar ek wil liewer reguit hotel toe gaan.”

      “By watter hotel is jy van plan om tuis te gaan?”

      “Ek het nog nie besluit nie.”

      “Regtig nie?” Martin se stem is tergend. “Of wil jy maar net nie vir my sê nie? Jy hoef nie vir my bang te wees nie. Toe, kom drink saam koffie. Ons twee het baie dinge om oor te gesels.”

      “Ek glo nie. Dankie, maar ek wil by my hotel kom om te bad en uit te pak.”

      “Nee, die risiko is te groot.”

      Ila frons. “Watter risiko?”

      “Dat jy nou gaan wegstap en dat ek jou miskien nooit weer sal kan opspoor nie.” Martin laat vaar sy tergende houding en hy klink peinsend. “Glo jy aan die noodlot, Elizabeth Verster?”

      “Ek weet nie.”

      “Ek glo vas daaraan. Ek glo dis die geluksgodin wat jou juis vanoggend van die trein laat afklim het, toevallig júis op die dag wat die besoekende rugbyspan vertrek het en ons almal op die stasie was om Suidoos-Transvaal se klinkende oorwinning in te vryf. Anders was ek op die plaas, salig onbewus daarvan dat Daniela ’n dubbelganger het. Ons kan nie uitmekaar gaan – jy na ’n hotel en ek terug plaas toe – sonder dat ons uitgevind het wat die noodlot se doel met hierdie ontmoeting was nie. Ek … ek het dit nog nie in my gedagtes mooi uitgewerk nie, maar daar is iets wat ek met jou wil bespreek, iets wat ek jou wil vra, of … e … ’n voorstel wat ek aan jou wil doen.”

      “Kyk, meneer Niehaus,” sê Ila redelik, “ek begryp dat dit vir jou seker interessant was om onverwags die ewebeeld van jou stiefsuster raak te loop, veral aangesien jy haar lanklaas gesien het en blykbaar verlief op haar was. Maar vir my het hierdie ontmoeting geen spesiale betekenis nie, want jy is vir my ’n algehele vreemdeling, en ek glo nie ek hou van die gedagte dat daar iewers ’n ander meisie

Скачать книгу