Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 4

Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman

Скачать книгу

wande van die afgrond vasklou, maar sy kan geen geluid uitkry nie en dit klink asof iemand lag terwyl sy oor die kranse stort – lag en haar uitkoggel …

      Toe Ila haar bewussyn herwin, is die grys teerstraat, die gapende afgrond, die seringboom en die kring starende mense weg. Sy kan ook nie meer die gelag hoor nie. Daar is dowwe kolletjies voor haar gesig en haar oë kan nie behoorlik fokus nie. Dit voel asof sy op ’n bed lê met haar kop teen ’n kussing en ’n kombers oor haar bene. Eers het sy gedink dis bloekombome wat sy ruik; nou kom sy agter dis ontsmettingsmiddels. En iewers klink die geluid van skottelgoed, en van ’n klokkie wat lui … soos in ’n … in ’n hospitaal? Ila vee verdwaas oor haar oë terwyl sy probeer regop kom om te sien waar sy haar bevind. Wat het gebeur? Was sy in ’n … ongeluk betrokke?

      “Lê stil, Elizabeth,” beveel ’n stem wat vaagweg bekend klink – dieselfde persoon wat netnou bly was omdat sy oor die afgrond gestort het?

      Ila frons. Sy herken nie dadelik haar naam nie en besef nie dat die persoon met háár praat nie. Waar het sy daardie stem al tevore gehoor? Sy probeer haar kop draai om te kyk wie dit is.

      “Hoe voel jy? Mislik? Duiselig? Dubbele visie?”

      Dis dieselfde stem, maar nou is dit koel en saaklik, nie so warm en vriendelik soos dit die vorige keer geklink het nie. Was dit … Waar was dit? Op die stasie?

      “Kan jy my hoor, Elizabeth?”

      Die gebeure van die afgelope tyd spoel skielik soos ’n golf oor Ila. Haar verstand voel nie meer so afgestomp nie en sy onthou wat gebeur het. Sy byt die agterkant van haar hand vas terwyl sy woordeloos knik.

      “Hoe voel jy? Het jy pyn?”

      “Nee, geen pyn nie.” Ila is verbaas omdat haar antwoord so normaal klink. Dit voel asof sy sweef, asof die bed nie op vaste grond staan nie en asof die wêreld nou-nou weer gaan begin kantel.

      ’n Figuur in ’n wit oorjas stap om die bed en betrag haar fronsend. Dis die jong man wat vanoggend – of was dit gister of eergister? – aangebied het om haar met haar tas te help. Ila se verstand voel beneweld. Wanneer het sy van die trein afgeklim? Hoe lank lê sy al hier? Sy probeer orent beur om rond te kyk.

      “Jy is gelukkig. Die x-straalplate toon geen gebreekte bene nie en daar is nie inwendige beserings nie – slegs kneusplekke aan die kop, skouer en regterbeen, en jy ly natuurlik nog aan skok.”

      “Was ek … bewusteloos?”

      “ ’n Kort rukkie, ja, as gevolg van die stamp teen jou kop toe jy op die teer geval het.”

      “Wat het gebeur? Is ek om … omgery?”

      Johan Retief lyk grimmig. Bokant die wit jas is sy gesig wasbleek. Sy wenkbroue is in ’n ontoegeeflike frons saamgetrek, en die bruin oë is ysig terwyl hy na die skraal figuurtjie in die hospitaalbed kyk. Hy voel lus om die dekselse meisiekind se nek om te draai. Het sy nie besef dat sy dood kon gewees het nie? Hy word van nuuts af koud toe hy in sy gedagtes die blonde meisie reg voor sy motor se wiele sien instap. Hyself het ook al noue ontkomings gehad en een keer was hy ’n passasier in ’n eenmotorige vliegtuig wat teen ’n stel kragdrade vasgevlieg het, maar hierdie ondervinding sal in sy geheue gegraveer bly, so lank as hy leef. As hy die rem ’n breukgedeelte van ’n sekonde te laat ingetrap het … Waar het sy in elk geval so skielik vandaan gekom? Hy dag sy is lankal reeds by ’n hotel, maar sy moes op die stasie versuim het – net so lank as wat dit geduur het om sy motor uit die parkeerterrein te haal en in Smitstraat verby te kom presies op die oomblik toe sy kop onderstebo en vas aan die slaap oor die straat gestap het.

      “Is jy kleurblind, juffrou Verster?” vra Johan kil.

      “Nee.”

      “Kan jy rooi van groen onderskei, of ly jy aan Daltonisme?”

      “Hoekom vra jy?”

      Die tirade wat volg, is totaal onverwags.

      “Omdat jy soos ’n stiksiende dwaas reg voor my motor ingestap het, reg teen die verkeerslig wat op daardie oomblik baie duidelik rooi was. Dis hoekom ek wil weet of jy kleurblind is, juffrou Verster. Of is dit jou gewoonte om jou oë toe te maak sodra jy oor ’n bedrywige straat stap? Wat sou gebeur het as ek nie betyds kon rem nie, of vinniger gery het, of per ongeluk anderpad gekyk het, of as my reflekse te stadig was?”

      “Dan sou ek seker dood gewees het,” sê Ila met ’n klein stemmetjie.

      Johan voel lus om die meisie aan die skouers beet te kry en heen en weer te skud. Ja, dis presies wat sou gebeur het. Sy sou morsdood gewees het.

      “Ek behoort jou oor my skoot te trek en jou die pak slae te gee wat jy verdien,” sê Johan kwaad. “Maak nie jou oë oop nie, loop onder ’n aankomende motor in …”

      “Ek is jammer.”

      Ila se boetvaardigheid het nie die gewenste uitwerking nie. Die man is blykbaar ’n geneesheer, want hy het ’n wit jas aan en daar hang ’n stetoskoop om sy nek. Maar wat Ila nie kan verstaan nie, is waarom hy so woedend vir haar is. Sy kan aanvaar dat hy waarskynlik geskrik het omdat hy haar raak gery het, maar dis nie genoegsame rede om so briesend te wees nie, is dit? ’n Ongeluk is ’n ongeluk, en sy het mos gesê sy is jammer. Of het hy dalk ook seergekry – dalk sy kop teen die voorruit gestamp toe hy so vinnig moes rem?

      “Jammer help niks. As jy daar in ’n lewelose bondeltjie in die middel van die straat gelê het, sou dit niks gehelp het om agterna te sê jy is jammer nie.”

      Selfs in sy eie ore klink Johan se woorde vir hom verspot en onsinnig. Onder normale omstandighede sou hy miskien self lag gekry het oor sy agterstevoor redenasie, dog hy is nie in ’n luim om enigsins geamuseerd te voel nie. Daarvoor het hierdie snip van ’n vroumens hom te kwaad gemaak.

      Ila het verwag ’n verskoning sou hom vriendeliker stem, maar die fors geboude jong dokter se gesig lyk nog steeds soos ’n donderwolk.

      “Is die hospitaal oorvol en die personeel baie besig?” probeer Ila ’n rede vir sy gramskap vind. “As dit die geval is, vra ek om verskoning dat ek nog meer werk vir die dokters en verpleegsters veroorsaak het. Ek het niks oorgekom nie en ek is nie siek nie. Dis nie nodig dat ek ’n bed moet beset nie. Ek kan huis toe gaan en dan … dan is daar darem een pasiënt minder.”

      “Daar is geen tekort aan beddens nie,” sê Johan bruusk. “Hier is nie ’n noodtoestand wat veroorsaak dat die personeel nie vir die aantal pasiënte opgewasse is nie.”

      “Ek sien.” Ila aarsel en vra dan reguit: “Is dit dan jou motor, dokter … e …”

      Johan frons. Wat bedoel die meisiekind? Is dit die stamp wat sy teen die kop gekry het, of is dit vertraagde skokreaksie wat intree? Dis goed hy het beveel dat sy ’n nag vir waarneming in die hospitaal gehou moet word.

      “Is dit hoekom jy so kwaad is? Het ek jou motor se modderskerm ingeduik? Ek sal die skade betaal.”

      Johan Retief kan eers nie sy ore glo nie; dan is hy weer opnuut ergerlik omdat die meisie so min van hom dink. Asof hy enigsins in ’n toestand was om op te let of die hele Mercedes verfrommel was en albei die modderskerms afgebreek en in die straat bly lê het …

      “Daar was geen skade aan my motor nie, juffrou,” antwoord hy styf.

      “Ek is bly. Het jy dan

Скачать книгу