Karoonag. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Karoonag - Deon Meyer страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Karoonag - Deon Meyer

Скачать книгу

Dan ontplof die bakkie agter my, ’n rukwind tel my op, sit my vier tree verder neer, die jaggeweer uit my hand uit, die teleskoop se lens gebreek.

      Ek staan op, los dit daar, net die Russiese sluipskutwapen in my hand, hinkend in die teerpad af, dit kan nie veel meer as twee kilometer vliegveld toe wees nie.

      * * *

      Ek hoor die enjins voor ek hulle sien, die diep dreun van twee motore en ek weet ek gaan te laat wees. Dan sien ek die ligte van die vliegtuig, regs van my, ’n kilometer van die teerpad af, een wit, een rooi. Ek gaan staan stil. As die wind verkeerd waai … Maar daar’s niks, net die perfekte windstilte van ’n yskoue Karoonag, al sweet ek van die hardloop, die adrenalien. Watter kant toe gaan hulle vlieg?

      Hierdie kant toe.

      Ek kniel, lig die groot geweer, semi-outomaties, kyk deur die nagskoop, sien die vliegtuig. Piper Seneca V, goeie keuse. Wag vir hom. Net een kans – skiet die vlieënier, enigiets anders is ’n dobbelspel. Skuif die kruisdraad, besef die loods kan enige kant sit, links of regs. Hier kom hy, motore vol oop, beweeg te vinnig, wiele lig van die grond af. Trek die sneller, diep knal. “Dis vir my Ford,” prewel ek.

      Geen effek nie. Ek skuif die skoop, links, as die vlieënier anderkant sit, skiet, te haastig, laaste kans, dan is hulle oor my kop, ek staan op, draai om, volg hulle in die teleskoop, skiet nog drie, vier, vyf, ses skote in woede en magteloosheid, hulle is weg, ek het misluk.

      En dan val die Piper, skielik, duik na links, ’n honderd meter, en tref die klipharde Karoo met ’n oorverdowende slag.

      * * *

      Halfsewe in die oggend, seer, moeg, bloedskaaf aan die been, bakkieloos, staan ek in my slaapkamer se deur. Emma le Roux roer onder die dik duvet, maak haar oë oop, glimlag stadig. “Haai,” sê sy, “jy’s vroeg op …”

      Nawoord

      “Waar kry jy die idees vir jou stories?” is bes moontlik die vraag wat die meeste aan skrywers gevra word.

      Ek vind dit dikwels baie moeilik om te beantwoord, want die skep van byvoorbeeld ’n roman is ’n stadige proses – baie soos die bou van ’n legkaart – waarin tientalle idees gemeet en gepas word tot jy by ’n konsep uitkom wat aan alle vereistes voldoen. En wanneer jy eindelik tevrede is met die storie, kan jy nie onthou waar al die brokkies vandaan kom nie.

      “Karoonag” is ’n uitsondering op dié reël. Dit is deur werklike mense en ’n ware verhaal geïnspireer, natuurlik met ’n dik laag fiksie bo-oor. Maar hier is die storie agter die storie:

      Ek het Loxton op Dinsdag 7 Desember 2004 ontdek. Per ongeluk.

      Ek het vir die eerste keer in 2000 met die Bo-Karoo kennis gemaak toe ek die grondpaaie noord van Beaufort-Wes op ’n motorfiets gaan verken het as deel van my navorsing vir Proteus, die boek waarin Tobela Mpayipheli van Kaapstad na Lusaka op ’n motorfiets moes jaag. Dié streek se Nuweveldberge was vir my ’n openbaring – die boeiende geomorfologie, wye, asemrowende landskap en kronkelende grondpaaie.

      Toe BMW Motorrad my ’n paar jaar later kontrakteer om ’n jaarlikse byeenkoms vir hul GS-kliënte te ontwikkel, was die Bo-Karoo hoog op my ranglys van streke waar ek dit wou aanbied. (Die GS-reeks kan, terloops, beskryf word as die 4x4 van motorfietse. Hulle is ewe tuis in die boendoe as op die teerpad.)

      Een van die groot uitdagings van die GS Challenge, soos die byeenkoms bekend gestaan het, was om ’n plek te kry wat as basiskamp kon dien. Die kriteria was straf: Dit moes ver van die “beskawing” wees, mooi, interessant, met baie plaaslike kleur en geur. Maar dit moes ook die soort infrastruktuur bied wat ’n paar honderd motorfietsryers kan voorsien van kampering, twee stewige maaltye per dag en ’n warm stort ná lang, taai ure in die saal.

      Vroeg Desember in 2004 is ek per motorfiets Beaufort-Wes toe om ’n basis te gaan soek. Ek het twee dae lank die gebied tussen dié dorp en Victoria-Wes verken, en besef die paaie sou perfek wees vir die roetes wat ons vir deelnemers beplan het. Maar geen oord of plaas was heeltemal reg om as hoofkwartier te dien nie. Tot ek oor die De Jagerspas na Loxton koers gekies het.

      Die dorp self was ’n heerlike verrassing – ’n klein oase tussen die klipkoppies, met lowergroen peer- en dennebome langs die straat, leivore waarin die water blink, en ’n mooi ou kerk reg in die middel. Stil, rustig en pragtig. En by die koöperasie het hulle my vertel van Jakhalsdans, die spogplaas tien kilometer buite Loxton. Ek het daar aangery, en onmiddellik geweet ek het my basis gekry.

      In Julie 2005 het ek en my ou vriend Jan du Toit drie weke daar deurgebring om die byeenkoms se roetes te beplan, in die proses meer as 10 000 km se Karoopaaie platgery en die groot voorreg gehad om die dorp en sy mense van nader te leer ken. Ek het gou hopeloos verlief geraak, en twee jaar later eiendom op Loxton gekoop, waarheen ons nou gereeld vir naweke en vakansies wegbreek.

      En die grootste bonus van ons verblyf daar is die stories. Met sy groot afsondering en interessante karakters, die eise wat die klimaat en die landskap stel, en die tradisie van storievertel onder alle bevolkingsgroepe, is die Bo-Karoo ’n ryke bron van ware verhale wat dikwels veel meer boeiend is as die beste fiksie.

      Een daarvan is die storie van Ebie van Wyk en Nicole Pesch.

      Ek het dit die eerste keer gehoor in 2006, tydens die jaarlikse boeresportdans, want Nicole het ons dié aand in haar eksotiese Duits-Afrikaanse aksent verwelkom. Toe ek versigtig uitvra oor die oorsprong daarvan, het ons tafelgenote my met die gewone behendigheid vertel: Hoe Ebie, jong boer van die plaas Juriesfontein, per toeval ’n Duitse meisie ’n saamrygeleentheid gegee het uit die Kaap uit, hoe hulle verlief geraak het en eindelik getroud is.

      Dit het lank in my agterkop bly vassteek, en ek het dikwels die tipiese skrywerspel van “sê nou maar …” daarop toegepas. Tot Huisgenoot my in 2008 gevra het om ’n vervolgverhaal van drie hoofstukke te skryf.

      Ek het “Karoonag” eers vir Ebie en Nicole gewys voor ek dit aangebied het vir publikasie. Hulle het goedgunstiglik ingewillig dat ek kon voortgaan. Maar die groot verrassing was toe Ebie vra: “Hoe het jy geweet my skoonpa was in die Duitse sekerheidsdienste?”

      Die antwoord was dat ek glad nie geweet het nie. Dit is maar net nog een van daardie groot toevallighede wat in die skryfproses gebeur.

      Ek moet ook byvoeg dat al die Loxton-inwoners en kontreiboere in die storie regte mense is. Dit was groot pret om hulle elkeen in te skryf. (Die omslagfoto is ook, terloops, op Bob Meintjes se plaas Welgevonden geneem – deur my vrou, Anita.)

      Ten slotte, en ter illustrasie van die genot wat ek uit die Bo-Karoo se stories put, bied ek graag ’n rubriek aan wat enkele jare gelede in BuiteBurger verskyn het:

      Okkie Wiehahn se vark

      Die hele ding het begin met Okkie Wiehahn se vark.

      Die vorige aand nog sê ek vir die Gautengers die ding van die Karoo is die stories. Ons sit op Jakhalsdans en lê weg aan die skaapboud en die wildspastei en Lourens Pretorius sê dis die kos en Johan Kriek sê dis die landskap en ek sê nee, dis die mense en die stories wat hulle vertel – een van daardie motorfietsryerargumente wat jy net vir die lekker aan die gang hou.

      En die volgende dag vat ek en Anita hulle op die servituutpad tussen Van der Waltspoort en Slangfontein wat oor Okkie se werf by Abramskraal loop. Ons hou in die koelte by die dam skuins onder die opstal stil, want die Gautengers het vyf kilo’s terug in die sand neergeslaan, die een na die ander, en nou is my vrou soos ’n

Скачать книгу