Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie страница 24

Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

nie. Hulle inspekteer glo die beeste wat daar verbykom en sien toe dat dit die werklike eienaars is wat daarmee trek. Ongelukkig het hulle nou gehoor hier is ’n vrou by hierdie trop. Hulle het blykbaar deesdae hul informante wat hulle laat weet wanneer daar ’n trop aan die kom is.”

      “So! Dit raak dan mos nou gevaarlik.”

      “Ja, en ons het nogal gedink dit gaan een van die maklikste rooftogte wees, juis omdat ’n vroumens hulle bring. Nou lyk dit vir my asof dit juis ons probleem is. Ons kan nie nou sommer een van ons manne daar sit en maak asof ons die eienaar is nie.”

      “Waar kry julle al die gegewens?”

      “Ons het ’n Herero in die fort wat ons goed betaal om vir ons die nuus uit te bring.”

      “Dit is slim van julle. In verband met die nuwe plan, wat word nou van my verwag?”

      “Jy moet net sorg dat jy haar gedurig onder skoot het. Jy slaap by haar in die wa. Jy los haar nie ’n oomblik alleen nie.”

      “Nee, dit kan ek darem nie doen nie.”

      “Julle was die hele week alleen in die berg. Hoekom nou skielik so vroom?” Katrien hoor die ander man se sissende stem, laag en wantrouig. “Luister, ek het oë in my kop. Ek dink ek moet liewer self saam met haar ry, dan neem jy my werk oor. Dit lyk mos vir my asof daardie vrou jou sag begin maak. Ek het vir Klaus gesê hy moet liewer dat ek dit doen . . .”

      “Ag, man, moenie simpel wees nie. Ek werk net op ’n ander manier as jy. Daar is baie maniere om ’n ding reg te kry. Ek het haar so verlief gemaak op my, sy eet uit my hand uit! Dit is baie makliker as om haar heeldag met ’n geweer op te pas.”

      Geskok staan Katrien agter die rots. Trane van magtelose woede loop oor haar wange.

      Die gemaskerde man lag sag en wellustig. “Ja, dit is seker ook ’n manier, maar daar sou nie veel van haar oor gewees het as ek ’n week lank saam met haar alleen was nie.”

      “Ek vreet nie alles in een dag op nie; ek kou liewer lank aan die lekker.” Dewald klink egoïsties en vol van homself.

      “Wel, dit klink nogal asof dit kan werk.” Dit is ’n rukkie stil en dan praat die gemaskerde man weer. “Nou hoe gaan jy die saak so oplos?”

      “Nee, sy dink ek gee vir haar om en ek sal haar help om haar beeste terug te kry. Sy maak nou net soos ek sê.”

      “Ja, dit kan nogal werk. Jy sorg net dat sy nie die een of ander gek ding aanvang nie, want dan is dit verby met jou.”

      “Nee wat, man, sy sal niks doen nie. Ek sê jou mos, sy eet uit my hand uit.”

      Die groot man klap met sy lippe en lag luidrugtig. “Nee, kyk, soveel selfbeheersing kan ek tog nie aan die dag lê nie. Nie eens vir so ’n vet slag soos ons met hierdie klompie beeste gaan slaan nie.”

      “Dit is dalk hoekom Klaus liewer vir my gebruik om die vrou op te pas as vir jou.” Dan vra Dewald so terloops: “Waar gaan jy nou heen?”

      “Ons is net agter julle om julle dop te hou. Festus vat die perde deur tot by Otjikango sodat ek en Klaus julle te voet kan volg, dan is daar minder kans dat hulle ons sal hoor.”

      “Nee, dit is goed so. Nou weet ek darem julle is in die nabyheid as ek in die moeilikheid raak.”

      “By wie? By die vrou? Jy sê dan sy is verlief op jou.”

      “Natuurlik is sy! Dit lyk my sy sien nie juis veel mans daar op die plaas nie. Ek sê jou, ek gaan nog probleme hê om van haar ontslae te raak.”

      “Jy moet liewer maar net sorg dat sy aan jou kant is totdat ons by die troepe verby is, want as sy iets moet agterkom, is dit verby met jou. Hoe gaan jy in elk geval aan haar verduidelik dat julle nie daar kan gaan hulp vra nie? Veral as sy reken jy wil haar help.”

      “Nee, ek het ’n goeie storie wat ek haar kan vertel. Ek werk nog van die begin af na daardie punt toe. Sy dink ek is ’n goeie outjie. Sy sal die storie sluk soos botter, man! Ek het van die begin af daaraan gewerk dat sy my moet glo en vertrou.”

      “Nee, dit is goed jy sê my, anders sou ek julle ’n bietjie gewantrou het. Ek het vanaand al gewonder toe jy haar so liefies van die perd afhelp.”

      “Dit is beter om slim te wees, dan kom jy baie verder.”

      “Ja, ’n mens kan sien jy is ’n slim mannetjie. Ek sê vir Klaus jy sal ’n goeie vennoot uitmaak, jy het ’n kop op jou lyf. Ek het dit van die begin af gesien.”

      “Luister, julle sal vir my ’n ander geweer moet gee. Myne is saam met die ander perd oor die krans.”

      “Hoe het dit gebeur? Dit was dan die vrou se perd en jou geweer.”

      “Dit is ’n lang storie wat ek een aand vir julle om die kampvuur sal vertel wanneer alles eers verby is.”

      “Vat dan vir eers myne. Die vrou se geweer is nog daar by Klaus, dan sal ek dit kry.”

      “Dankie.”

      Katrien besef die gesprek staan einde se kant toe en sy beweeg vinnig terug tot by die klip waar Dewald haar gelos het.

      Sy sluk hard aan die trane in haar keel. So ’n vermetele, ongepoetste skurk! Wat staan haar nou te doen? Wat moet sy maak? Hulle gaan nou terugkom en wanneer die gemaskerde man weg is, sal hy wil hê hulle moet aangaan waar hulle netnou geëindig het. Sy het haar selfs netnou verbeel sy is lief vir hom, maar nou weet sy sy haat hom! Sy haat hom omdat hy so lieg en bedrieg en sy haat hom omdat sy vir hom lief was. Sy haat hom omdat sy bereid was om alles prys te gee om hom te vertrou en dit net sodat hy haar oupa kan besteel.

      Dewald en die ander man kom agter die rots uit. Die ander man haal sy geweer uit die saalsak en oorhandig dit aan Dewald.

      “Die beeste en die wa is ongeveer twee uur te perd hiervandaan. Reg suid.”

      “Dankie, ons sal dit kry.”

      “En onthou nou, jy is die man vir wie sy gaan kuier het. Julle het pas getrek en sy het jou toe by die ander plaas opgespoor. Dit was die storie wat hulle vir die ou voorman vertel het daar op Bloukrans. Maak maar die pap ’n bietjie dik aan voor die Herero’s, sodat hulle die storie sal sluk. Sê sommer julle is getroud, sodat jy by haar in die wa kan slaap.”

      Katrien kan die knop in haar keel nie wegkry nie en is nie in staat om iets te sê nie. Sy moes dit seker geweet het! Sy moes van beter geweet het. ’n Ordentlike mens sal nooit met veediefstal iets te doen hê nie.

      Die gemaskerde man klim op sy perd en verdwyn die donker nag in.

      Dewald staan eers doodstil totdat die perdepote in die verte wegsterf, dan stap hy nader en hou sy hand na haar toe uit. “Kom, liefie!”

      Onmagtig om iets te sê, stap sy gedwee nader om losgemaak te word. Sy wag dat hy haar moet ophelp, maar dan gaan sy arms om haar en druk hy haar baie styf teen hom vas. Sy lippe kom hongerig en eisend op hare neer en wild soen hy haar lippe en haar wange. Hy lig haar gesig met sy hand op toe sy haar kop wil wegdraai en soen weer haar lippe en haar wange om dan haar ooglede een vir een te vertroetel en dan weer luierend met haar wang al langs af te kom en fyn soentjies op haar mondhoek te druk.

      Soos

Скачать книгу