Sarah du Pisanie Omnibus 9. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie страница 26

Sarah du Pisanie Omnibus 9 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

soek my. Dit het hulle oortuig dat ek net die man vir hulle is.”

      “Wat gaan nou gebeur?”

      “Ek gaan nou saam met jou sodat ons die beeste by Otjimbingwe verby kan kry. Die ander, Klaus en die een wat vanaand hier was, dink dat die Beskermingstroepe jou saam met jou beeste sal wil sien.”

      “Ek verstaan die hele opset nog nie. Hoe weet hulle so presies wanneer daar met groot troppe beeste getrek word?”

      “Ou Lewis, die koper van jul beeste, is die meester agter die organisasie.”

      “Wat?” Hierdie keer is Katrien opreg verbaas.

      “Ja, hy gaan uit in die noorde of suide en dan bied hy aan om die vee te koop. Hy bied ’n goeie prys aan, maar dan moet die beeste in Windhoek gelewer word voordat hy betaal.”

      “Die opperste skelm!” Katrien is so kwaad dat sy lus het en voeg nog ’n paar lelike woorde by. Alles is nou vir haar baie duidelik. Hy weet natuurlik van elke trop wat aan die kom is en die diewe slaan dan toe op ’n plek waar dit hulle die beste pas, maar verkieslik elke keer op ’n ander plek.

      “Ja, hulle wissel altyd hul strategie af. Partykeer neem hulle die beeste al by die Waterberg af en jaag dit met hul eie mense aan, maar meestal, veral in die jongste tyd sedert die Beskermingstroepe en die polisie op die uitkyk is vir hulle, laat hulle die mense hul eie beeste so ver moontlik aanjaag. Gewoonlik slaan hulle dan kort voor Windhoek toe. Hulle is altyd gemasker en hulle vat altyd die mense in verskillende rigtings weg. Soms maak hulle hulle vas en stuur dan iemand wat kastig toevallig daar verby sal kom om hulle weer los te maak.”

      Katrien klink so bitter toe sy praat dat Dewald haar net styf vasdruk en sag in haar nek soen. “Dit is darem een ligstraaltjie; dit lyk nie juis of hulle nog moord ook op hul kerfstok wil hê nie.”

      “Katrien, ek het jou gesê ek gaan jou nou help. Dit is hoekom ek so daarop aangedring het dat jy my moet vertrou. Ek kon nie eerder die plan aan jou verduidelik het nie.”

      “Hoekom nie? Ek sou jou dan kon glo en vertrou het.”

      “Sien, dit is hier waar my planne en hulle s’n begin kruis.”

      “Nou verstaan ek glad nie.”

      “Hulle sou jou tot op Bloukrans gebring het . . .”

      Breedvoerig begin hy die storie verduidelik net soos wat sy dit gehoor het toe sy hulle afgeluister het. Katrien kan hom net verstom aangaap.

      “Wel, ek en Hein Schlusse – dit is nou my vriend in die Beskermingstroepe – se plan werk nou anders. Hulle stuur nou ’n klomp van die soldate op Otjimbingwe toe en versprei dan ’n storie in die fort wat hulle wil hê by Klaus-hulle moet uitkom. Ons weet dat iemand uit die fort nuus aandra na hulle toe.”

      Katrien wring haar hande saam. Hoe gaan sy ooit uit hierdie gemors kom? Dan luister sy verder.

      “Wat Klaus-hulle egter nie weet nie, is dat ek die Beskermingstroepe volledig inlig oor al hul planne. Sodra die wa dan by Otjimbingwe verby is en klaar deur die troepe geïnspekteer is, sal Klaus-hulle gerus wees en dink die gevaar is verby. Hulle sal ook dan nie meer bang wees vir agtervolging nie, want hulle dink die lokval is naby Windhoek.”

      Katrien sluk om die droogheid in haar keel weg te kry. As sy net kan weet wie en wat om te glo.

      “Hul plan is nou om die beeste in ’n oostelike rigting te laat aanjaag nadat hulle by Otjimbingwe verby is. Daar sal hulle tien tot veertien dae oorstaan en dan word hulle met ’n draai Rehoboth toe gejaag, waar daar reeds ’n koper wag.”

      “Nou gaan jy saam om my op te pas!” Sy probeer bly en vriendelik klink, maar vir haarself klink dit maar na ’n swak poging.

      “Ja, en ek is so bly. Ek het geweet daar moet ’n verandering kom in hul planne, maar ek kon nie voorspel wat hulle gaan doen nie. Dit is hoekom ek jou nie vroeër in my vertroue kon neem nie. Ek was bang hulle beplan iets anders en jy kon dan maklik iets laat uitglip het. Dinge moet so natuurlik moontlik lyk.”

      Dewald is so ingenome met die sukses van sy plan tot dusver dat hy nie eens agterkom hoe styf en formeel Katrien word nie. “Hein en sy manne sal ons van agter af volg sodra ons verby die fort is. Daar sal dan uit verskillende rigtings manne kom wat hulle behoorlik sal omsingel.”

      Katrien sit doodstil en Dewald vryf sy wang teen hare.

      “Dit is net uiters belangrik dat jy by my moet bly en nie iets onsinnigs aanvang nie; daarom is ek so vreeslik dankbaar dat ek nou vir jou die hele verhaal kan vertel en ook dat ek nou bedags by jou sal wees. Nou is daar mos darem nie gevaar dat jy iets aan een van hulle kan verklap nie. Nou hoef jy nie eens op jou hoede te wees nie.”

      “Ek kan nie verstaan hoekom dit dan so vreeslik belangrik is dat ek by julle moet bly nie. As ons by die fort verby is, kan ek mos maar gaan.”

      “Katrientjie, jy besef nie die erns van die saak nie. As jy probeer vlug of as ek jou laat gaan en Klaus en sy trawante sien jou, sal hulle dadelik onraad merk en dit sal hulle op hul hoede stel. Hulle kan jou selfs agtervolg en sodoende afkom op die soldate wat besig is om die kring om hulle nouer te trek. Dit kan tot gevolg hê dat ons nog steeds nie kan bewys dat hulle die beeste wou steel nie.”

      “Nou hoe op aarde wil julle dit bewys?”

      “Ons moet hulle vastrek die aand wanneer hulle die beeste wil steel. Ons moet hulle op heter daad betrap.”

      “En as die troepe misluk?”

      “Dan is ons laaste kans daarmee heen. Dit is net Hein en ’n paar van sy manne wat van die plan weet. Die res van die Beskermingstroepe weet niks nie. Hein sal eers wanneer die plan in aksie moet kom vir die manne daarvan sê, anders kan daar ook iets uitlek. Dit is dus belangrik dat jy nie met hulle in aanraking moet probeer kom wanneer ons daar verbygaan nie, want sodoende kan jy alles verongeluk.”

      Katrien antwoord hom nie, sy sit net diep ingedagte. So, dan is dit sy plan! Hy wil haar weghou van die troepe af.

      “Katrien, is jy nou bly, my meisie?”

      Katrien sluk ’n paar keer voordat sy haar reggeruk kry. “Ja! Ja, natuurlik is ek bly.”

      “Hoekom is jy dan nou so stil?”

      “Dit is van vreugde. Ek kan nou aan niks dink om te sê nie. Ek is net vreeslik dankbaar dat ek my beeste gaan terugkry.” Sy draai na hom toe en vryf liggies met haar hand teen sy wang. “Dankie, Dewald. Ek het geweet jy kan nie regtig ’n rower wees nie.”

      Sy klink blykbaar oortuigend genoeg, want Dewald vang haar hand en druk ’n soentjie in die palm. “Jy moet onthou, jy het gesê dat, as ek jou beeste vir jou terugkry, jy met my sal trou.”

      “Ek sal onthou.” Katrien se stem is dik van trane, maar Dewald dink dit is omdat sy voel soos wat hy nou voel.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком,

Скачать книгу