Die baron van Rauenshof. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die baron van Rauenshof - Sarah du Pisanie страница 3

Die baron van Rauenshof - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

sonder ’n moeder wees nie.

      Sal u my asseblief antwoord, selfs as u nie kans sien om die lening toe te staan nie? Ek sal dan ander reëlings moet probeer tref.

      By voorbaat baie dankie vir u aandag.

      Heidi Kessler

      Heidi lees die brief oor en oor. Dit klink ellendig – so pateties en dan ook weer so arrogant.

      Sy sug en plak die koevert dan beslis toe. Sy sal dit tog nie beter kan stel nie, al skryf sy dit ook met ’n goue pen. Met netjiese, ewe groot letters skryf sy die adres op die koevert en steek dit dan in haar roksak. Die middag, toe sy met haar fiets huis toe ry, hou sy eers by die poskantoor stil. Haar hand huiwer by die opening van die rooi posbussie. Dit voel so finaal toe sy die brief deur die gleufie laat gly.

      Sy stap stadig en tel haar fiets op. Die lang wag het begin en die dae sal nou met loodvoete verbykruip.

      2

      Heidi se hart mis ’n slag toe sy die koevert met die Von Rauensteins se familiewapen in die een hoek op haar lessenaar sien lê.

      Sy druk die deur stewig toe en kom dan versigtig nader asof sy bang is die koevert sal enige oomblik grom en sy tande vir haar wys.

      Haar bene voel lam en sy sak stadig in die stoel neer, haar blik vasgenael op die brief, maar nog steeds ontbreek die moed haar om dit op te tel en oop te skeur.

      Stadig steek sy haar hand uit en tel dit op. Dit is maar vyf weke sedert sy haar brief gepos het. So gou het sy nie ’n antwoord verwag nie. Die koevert is van duursame papier en die koningsblou-en-goue wapen laat dit aristokraties en baie deftig lyk.

      Haar hand bewe terwyl sy die koevert versigtig met ’n briewemessie oopmaak. Sy bekyk eers weer die handskrif op die koevert. Dit is ’n sterk en netjiese handskrif, manlik, en dra ’n stempel van gesag.

      Haar keel is droog toe sy die brief oopvou.

      Geagte juffrou Kessler

      Ek skryf die brief op versoek van my vader, baron Oscar Carl von Rauenstein. Hy is ongesteld en kan dit nie persoonlik doen nie. Soos u versoek het, beantwoord ek dit onmiddellik.

      Ek is jammer om van u suster se ongesteldheid te verneem. Sy was egter nooit deel van hierdie familie nie.

      My broer het sy toekoms en erfporsie verbeur deur met haar te trou. Sy het geen aanspraak of reg op iets van die Von Rauensteins nie.

      Heidi laat die brief effens sak en snork van verontwaardiging. Arme Maria! Geen wonder sy was so beslis om nie hul hulp te vra nie. Haar nuuskierigheid kry egter die oorhand en sy lees verder.

      Ek het egter ’n ander voorstel aan u en u suster. Adolf se kinders is die enigste nageslag van die Von Rauensteins. Daar sal ook waarskynlik nie nog wees nie.

      Heidi kyk verdwaas na die letters op die wit papier. Sy skud haar kop onbegrypend. Adolf-hulle was tog drie seuns. As hierdie een nie kinders het nie, dan is die jongste een tog daar.

      Ek sal die volle bedrag van die reiskoste en behandeling aan u stuur. Ek sal genoeg daarby voeg sodat u nie nodig sal hê om te gaan werk solank u hier is nie. U en die kinders kan hier op Rauenshof tuis gaan vir die tydperk wat u suster in die kliniek is.

      Die kliniek is op Burgdorf, wat feitlik op die Switserse/Duitse grens geleë is. Dit is ook nie ver van Freiburg af nie, per trein maar ’n rit van ses uur.

      Daar is egter een voorwaarde daaraan verbonde. Maria moet die oudste van haar seuns, wat sekerlik Oscar Carl gedoop is, hier op Rauenshof agterlaat wanneer sy teruggaan. Hy sal die beste opvoeding en opleiding ontvang sodat hy waardig en bevoeg sal wees om eendag Rauenshof, asook die baronskap, te kan erf.

      Maria moet haar toestemming verleen en u moet aan my ’n kabelgram stuur om te bevestig dat sy die voorwaarde aanvaar. Ons kan dan verder dinge met die prokureurs reël en die geld kan binne ’n week beskikbaar wees.

      Die kind moet ook bewus wees van die reëlings, sodat daar geen trane en gesanik is wanneer julle die dag vertrek nie. Ons sal u aan u woord hou en daar is geen moontlikheid dat u of u suster op die laaste oomblik van besluit kan verander nie.

      Die tydperk wat u saam met die kinders hier op Rauenshof is, sal dan vir klein Oscar die geleentheid bied om aan die kasteel en personeel gewoond te raak sodat hy tuis en gemaklik hier sal wees wanneer hy alleen agterbly. Ek vertrou dat alles duidelik gestel is. Sodra ons die kabelgram ontvang, sal verdere reëlings getref word.

      Hoogagtend die uwe

      Baronet Johann Friederich von Rauenstein

      Genade! Heidi kners die woordjie onhoorbaar tussen geklemde kake deur. ’n Mens kan behoorlik die sataniese genot in die brief aanvoel. Wat ’n nare mens! Wie dink hy sal nou sy kind daar los, en dit vir ’n ou kasteel? Sy is bly Maria het net dogters . . .

      ’n Nare, lam gevoel van teleurstelling sypel deur haar. Hulle het verloor nog voordat hulle begin het. Dit is tog so duidelik soos daglig. Geen seun nie, geen geld nie!

      Heidi laat sak die brief moedeloos op haar skoot. Hoe kan alles so geheel en al teen hulle wees? Dit is mos tog nie vir haarself wat sy die geld soek nie. Ook nie vir klere en luukse artikels nie. Dit is vir Maria wat beslis nie volgende Kersfees gaan haal as sy nie behandeling kry nie.

      Heidi laat sak haar kop op haar arms, maar sy is te verslae om te huil. Heelwat later staan sy op en gaan was haar gesig. Die brief sluit sy in haar lessenaar se laai toe. Maria moet nooit hiervan weet nie.

      Maria is vandag sieker as in ’n lang tyd. Sy is koorsig en haar vel het ’n grysgeel kleur. Haar asem is hortend en vlak en Heidi kan sien dat sy baie benoud is.

      Sy versorg Maria en gee vir haar medisyne voordat sy die kinders gaan kos gee en bad. Hulle kwetter soos voëltjies oor die nag se gebeure en Heidi moet sukkel om haar trane te bedwing. Hulle is so dierbaar. Wat gaan van hulle word as Maria nie meer hier is nie?

      Nare, arrogante baronet! Hy is seker net so hooghartig soos sy ou vader, die baron. As hy hom net die geleentheid wil gun om hulle te leer ken. Hulle sal so diep in sy hart kruip. Verwaand ook nog! Om sommer aan te neem daar sal ’n seun tussen sy broer se kinders wees. Nogal die oudste een . . . Oscar Carl! As sy Maria was, sou sy nie ’n seun van haar na hulle vernoem het nie.

      Toe die kinders in die bed is, neem Heidi ’n rokkie van Gretchen wat geskeur het, en gaan sit ’n bietjie by Maria en gesels terwyl sy dit heelmaak.

      Hulle gesels oor koeitjies en kalfies, maar Heidi se gedagtes bly kring om die Von Rauensteins.

      “Hoe oud was julle onderskeidelik toe julle getroud is?” vra Heidi. Maria, wat altyd gewillig is om oor Adolf te gesels, se gesig helder sommer op.

      “Hy was ses en twintig. Ek was toe so twee of drie en twintig; ek vergeet altyd presies hoe oud. Adolf was so aantreklik, veral in sy uniform. Van die eerste dag af het hy my heeltemal van my voete af gehad.” Maria se oë raak dromerig. “Ek wonder of ek myself sou toegelaat het om op hom verlief te raak as ek geweet het hy was die seun van ’n baron. Ek glo nie, maar hy was altyd so natuurlik . . . so opreg en lief vir die eenvoudige dinge . . .” Maria sit haar alleenspraak voort en Heidi glimlag sag.

      “Ag,” terg Heidi, “dit is ook maar net jy wat so gedink het.

Скачать книгу