Uit die Beek 2015. Attie van Wijk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk страница 16
Hanna het haar beloftes gehou. Sy het die Here belowe as Hy haar ’n kind gee, sal sy hom aan die Here toewy. Dit was nie vir haar maklik om haar seuntjie aan Eli se sorg toe te vertrou nie, maar sy het haar belofte nagekom. En die Here het ’n plan met hierdie seuntjie gehad. Hy sou die hele volk teruglei na die Here toe, soos ons nog sal sien.
Die Here het ’n plan met ons elkeen – reeds van voor ons geboorte af. Dit sal tragies wees as enigeen van ons God se plan misloop, net omdat ons onwillig is om Hom te gehoorsaam. Ons kan die Here vertrou. As Hy dus iets van jou vra, kan jy dit met vreugde gee. Dit is oor en oor die moeite werd.
GEBED: Here, ek wil niks van U terughou nie. Gebruik my.
Lees vanaand in 1 Samuel 2:1-11 hoe Hanna die almag van God besing. Nou was haar aanbidding vir haar vreugde.
Vrydag 27 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:12-17
Selfsug se vrug
Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor (2:17).
GESELSVRAAG:
Watter kerkleier se optrede het groot skade gedoen?
“Ons elkeen het ’n doel – al is dit bloot om as ’n waarskuwing vir ander te dien,” lees ek op die internet. En as ’n mens kyk na die soort stories wat deur die TV in ons huise ingedra word, lyk dit asof die skrywers verplig voel om soveel afbrekende en slegte gedrag moontlik uit te beeld en enigiets opbouend te vermy. Die probleem is dat ons later so gebreinspoel word dat ons begin dink almal is net so sleg soos die karakters in die sepies.
Eli se kinders was heel anders as hul pa. Hulle was opstandig, ongehoorsaam en selfsugtig. En dit het groot skade veroorsaak. Hulle het geen respek vir die Here of die toegewyde aanbidders gehad nie. Dít het op ’n verskriklike einde afgestuur.
“Die predikant se kinders is die stoutste,” word graag gesê. (Dis omdat hulle net gemeentekinders het om mee te speel, voeg sommige by.) In ons Kweekskoolklas was ons ’n hele paar predikantskinders. Toe ons saam gesels, het ons ontdek dat almal die druk van pastoriekinders ervaar het. Sommige het daarteen in verset gekom en opsetlik stout opgetree, en ander het huigelaars geword. Tog het ons almal ons uiteindelik aan die Here oorgegee en sy roepstem tot die bediening gehoor. Waarvoor roep die Here jou?
GEBED: Here, bewaar ons kinders van verkeerde keuses.
Lees vanaand in 1 Samuel 2:18-26 hoe Samuel se optrede anders was as dié van Eli se seuns.
Saterdag 28 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:27-36
Wie is die baas?
En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My …? (2:29).
GESELSVRAAG:
Hoekom het ons dissipline in ons huis nodig?
“Dit het my tydens my besoek aan Amerika getref hoe gehoorsaam die ouers aan hul kinders is,” het koning Edward VIII glo by geleentheid opgemerk. Ons kan amper dieselfde van ons ouers en kinders sê vandat dissipline uit baie van ons huise en skole verdwyn het. Baie ouers leef in vrees en bewing vir hul kinders en die kinders doen net wat hulle wil. Buite-egtelike seks en enkelouergesinne het algemeen geword. Die gevolg is dat duisende kinders alleen grootword sonder ouers wat hulle op die regte pad kan begelei. Jeugbendes het baie woonbuurtes oorgeneem. Misdaad is algemeen. Niemand is meer veilig nie.
Die seuns van Eli was ook sonder dissipline. Ons weet nie hoekom hulle so geword het nie. Het hul pa nie omgegee as hulle verkeerd doen nie? Ons lees van ’n keer dat hy met hulle gepraat het, maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie (vgl v 23-25). Eli kry dus die boodskap dat sy twee seuns op dieselfde dag sou sterf (vgl v 34).
Om ’n ouer te wees is ’n baie groot verantwoordelikheid. Ons moet nie net sorg vir elke behoefte van ’n kind nie. Ons moet self die regte voorbeeld stel, want kinders leer baie beter uit voorbeelde as deur woorde. Hoe gaan dit met jul gesin? Is jul kinders veilig?
GEBED: Here, help ons om ons prioriteite reg te kies ter wille van ons kinders en u koninkryk.
Lees vanaand in 1 Samuel 3:1-9 hoe die jong Samuel die Here se stem vir die eerste keer gehoor het.
Maart
Sondag 1 Maart 2015 • Lees eers Psalm 31:1-9
Oorgee maak vry
In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak (31:6).
GESELSVRAAG:
Wanneer gee ’n mens oor?
“Kyk net na daardie ryk man wat ewe vroom op slawe bie. Ek haat hom. Ek wens ek kan hom doodmaak,” dink ’n slavin by haarself terwyl sy wag om opgeveil te word. Toe haar beurt kom, bie die man sowaar op haar en hou aan totdat sy bod aanvaar word. Toe hy haar kom haal, val sy hom summier aan. “Wag, wag, ek wil jou nie kwaad aandoen nie,” verduidelik die koper. “Ek het jou gekoop sodat ek jou kan vrylaat. Jy is nou vry. Jy kan gaan waar jy wil.”
“In daardie geval wil ek jou kom dien,” was haar antwoord.
Niemand kan hulleself vrykoop van die mag van sonde nie. Maar Jesus het ons met sy bloed vrygekoop sodat ons waarlik vry kan wees (vgl Joh 8:36).
Dawid was gedurig in ’n stryd, soos ons uit baie van sy psalms kan aflei. Maar te midde van elke dag se stryd het sy geloof hom gedra. Hy het geweet dat die Here hom vrygemaak het. Daarom wou hy hom aan die Here oorgee.
Vandag wil die Here jou herinner dat Hy jou waarlik vrygemaak het. Jy kan vandag gaan waar jy wil en doen wat jy wil. Maar as jy besef wat dit vir Hom gekos het, dan wil jy nie meer jou eie wil doen nie. Jy wil doen wat Hy wil hê. Jy gee jou aan Hom oor sodat Hy jou kan gebruik – ook om ander mense te seën en na Hom toe te lei.
GEBED: Ek gee my aan U oor, omdat U my vrygemaak het.
Lees vanaand in Psalm 31:10-19 hoe Dawid se depressie en moedeloosheid plek maak vir blydskap en vertroue.
Maandag 2 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 3:10 – 4:1a
Betroubare boodskapper
Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here (3:20).
GESELSVRAAG:
Wat sou jy graag oor die toekoms wou weet?
“As ons sien dat ’n leier verkeerd optree, mag ons hom of haar nie langer navolg nie. Kinders van die Here moet anders wees.” Samuel het die voorreg gehad om in die regte kringe te beweeg. Die tempel was natuurlik nog nie in Jerusalem gebou nie. Die huis van die Here waarvan hier sprake is, is die tabernakel, wat in Silo gestaan het. Samuel kon sien wat Eli reg doen, maar ook wat hy verkeerd doen. Hy moes self besluit