Lobola vir die lewe. André P. Brink
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Lobola vir die lewe - André P. Brink страница 10
“My vrou kon nie sleg pap maak op haar dag nie,” sê Serfontein. “Sy was orraait tot die kind gebore is. Toe’s dit nét so.” Hy klap sy vingers. “En van toe af maak ek dit al met klonte.” Hy sit ’n rukkie sy gas aandagtig en betrag. “Hoe oud is jy?”
“Een-en-dertig, sy dit jare of eeue. En ek mag ’n paar tussenin verloor het.”
“Karel sou nou ’n bietjie ouer gewees het. Ook ’n skralerige outjie. Maar so taai soos ’n sening. Jy moes hom gesien het.”
MIDDELJARIGE MAN (L op; waardige figuur met grys hare; steek vas as hy JONG MAN by lessenaar gewaar): Ek het jóú nie hier in my kantoor verwag nie.
JONG MAN (staan vinnig op; bleek; hou ’n lêer tussen sy hande): Vader—
MIDDELJARIGE MAN: Wat het jy daar?
JONG MAN: Hier. (Gee lêer aan hom.)
MIDDELJARIGE MAN (Vinnig): Waar het jy dit gekry? Het jy in my private dokumente rondgesnuffel?
JONG MAN (Beweeg na deur L): Verskoon my asseblief.
MIDDELJARIGE MAN: Waar gaan jy heen?
JONG MAN (Kalm): Na die naaste aanklagkantoor.
MIDDELJARIGE MAN (Gryp hom aan die mou): Bly hier. Moenie gek wees nie!
JONG MAN: Moet my asseblief nie probeer keer nie.
MIDDELJARIGE MAN: Dink jy vir een oomblik ek sal jou laat gaan? Is jy van jou sinne berowe?
JONG MAN: Los my! (Woedend.) Nie jy nie, niemand sal my vandag keer nie. Ek sal niks meer verduur nie! (Byna met ’n snik.) Al die jare en jare wat jy my gedryf het, my in jóú smal vormpie gegiet het, my ’n robot gemaak het—! Ek het al die jare tóg aan jou bly glo. Jy was vir my ’n afgod, al het jy alles wat ek ooit besit het stuk-stuk afgebreek. Miskien daaróm—Ek het geglo aan jou, verstaan jy dit nie? En nou—dít—! (Stik.)
MIDDELJARIGE MAN: Wag, my seun. Jy verstaan verkeerd.
JONG MAN: Verkeerd! As ek hier in my hande die bewys gehad het van vyftienduisend pond wat jy vir jou eie sak verdien het uit die skandalige verkoop van die Trust-gebou! As ek terugblaai en sien dat al jou vernuf en briljantheid eintlik maar oëverblindery was vir bedrog, gruwelike, misdadige bedrog!
MIDDELJARIGE MAN: Bly stil!
JONG MAN: Probeer my keer! Hoekom probeer jy my nie liewer omkoop nie, jy ken die kuns tog al goed—!
MIDDELJARIGE MAN: Ek waarsku jou—
JONG MAN: Ses weke lank werk ek nou al hier in jou kantoor. Ses weke lank sidder ek by die gedagte aan wat jy sal doen as jy uitvind wat in die eindeksamen gebeur het. Sidder, omdat dit vir my die grootste skande denkbaar was om te dink dat ek moes druip, jou moes teleurstel, selfs al was dit jy wat my gedwing het in ’n rigting waar ek nooit wóú in nie. En nou—dít—en jý—!
MIDDELJARIGE MAN (Buite homself): Dan het dit tóg gebeur. Dan het jy op die ou end tóg maar jou ware, verfoeilike afkoms met jou saamgedra —!
JONG MAN: My afkoms—?
MIDDELJARIGE MAN: Ek kon dink dat geen kind van mý so ’n gemors van alles sou maak nie. Ék het jou ’n huis gegee, ék het jou ’n opvoeding en ’n toekoms gegee, ek het jou ’n naam gegee! Maar nou kan jy in jou maai in loop en moenie weer by mý iets kom bedel nie, verdomde optelkind!
“Die pap is gaar,” sê Serfontein en stoot die bord oor die vloer na hom toe aan.
“Dankie.” Hy buk en tel dit op. “Terloops,” sê hy, “as jy dit nodig vind om met my te praat: jy kan my François noem.”
“Dis goed.” Hy proe aan die klontjiespap. “En bly jy nou hier?”
“Dalk. Maar as jy weet van ’n goedkoop kamer naby—”
“Het jy geld?”
“Ek kan kry.”
“Hoe?”
“Daar is maniere.”
(Maniere om aan die lewe te bly hardnekkig klouend soos ’n neet aan enigiets wat vatplek het dis beter noudat alle dinge gelyk geword het nul gelyk aan nul gelyk aan nul maar al die tyd van soek sonder vind klop sonder oopmaak roep sonder antwoord verskoon my asseblief maar weet jy dalk wie ek is ek het myself verloor ek weet nie waar nie en dis nogal ongerieflik en nêrens spore nie in reën of wind soos hare vanslewe die duisternis langs afgronde deur eeue—moenie weer met my die loop neem nie.)
“Nog suiker?” vra Serfontein.
Hy skud sy kop en stoot sy bord weg; duik dan met sy hand onder die bed in en soek ongenooid sy gasheer se halwe bottel; sy oë vra gretig—Mag ek?—en dan keer hy dit in sy keel om en laat dit deur hom sprei, behaagliker, behaagliker.
En later klim hy bottel in die hand op die bed, druk teen die muur om staande te bly, en sê: “Dames en here, ons het geen gode en afgode meer oor nie, ook nie meer onsself nie en selfs die aarde is nie wat hy was nie.” Hy buig effens, kuif oor sy voorkop, en sê: “Laat ons sing.”
Bring weer die bottel na sy mond, maar probeer gelyktydig sing, en verstik, en struikel, en die ou man help hom terug op sy voete en slaan hom op die rug tot hy boosaardig losruk.
“Ek sal een van die dae opruim en begin werk,” sê Serfontein toe hy bedaarder eenkant sit. “Een van die dae. Maar wat sal ek dan met die meisiekinders doen—?”
vierde stasie
En nou: wat omtrent Marie? Dis tyd dat jy van haar praat.
—Nee. Dit spyt my innig, maar ek het nie die geringste idee van waar sy vandaan gekom of van waar ek haar gesien het die eerste keer nie.
Was dit wel die eerste keer?
—Dit kon ook ’n ander keer gewees het.
Die hoeveelste?
—Die laaste, byvoorbeeld.
Of?
—Of enige ander.
Kan jy dit toelig?
—Met die kringe van die glas se boom die nat glas se boom die glas se nat boom.
Hoeveel kringe?
—Twee of drie of enige denkbare getal oormekaar.
En het jy in elkeen van die kringe ’n aparte bestaan?
—Ek het, na die beste van my oordeel en vermoë.
Hoe