Die ontwaking. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ontwaking - Chris Karsten страница 6

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die ontwaking - Chris Karsten

Скачать книгу

uit. Hy week die dassievel vlugtig in water en begin die breinmengsel met sy vingers in die huid invryf. Hierdie is die heel belangrikste deel van die hele looiproses. Hy het aanvanklik geëksperimenteer met ander substanse as beesbreins, soos natuurlike plantolies, om die kollageenweefsel en -proteïene van die vel te olie en soepel te hou. Maar die brein van ’n dier bevat net die regte natuurlike tannien om die vel te looi, was die advies uit Brugge. Die gliserol dien as antibakteriese middel om die lewensduur van die vel te beskerm.

      Abel behandel albei kante van die huid met sy breinmengsel, wring dit uit, smeer dit in, wring dit uit, herhaaldelik.

      Die laaste deel van die proses geskied nie in die werkkamer nie, maar buite by die vleisbraaivuur wat nou tot net gloeiende kole uitgebrand het. ’n Digte rookwolk sonder vlamme styg op toe hy nat bloekomhout op die kole plaas. Hy hang die dassiehuid aan die haak van ’n driepoot oor die rook, vou ’n ou stuk seil om die stellasie en haak dit vas sodat die rook nie ontsnap nie maar op die huid gekonsentreer bly. Enige teken van ’n vlammetjie blus hy onmiddellik met ’n spatsel water.

      Abel voel die tinteling van opgewonde afwagting, betrap homself ’n slag dat hy na die grondpad agter die bloekoms loer. Los dan die beroking van die dassiehuid en begin die bloederige karkasse en weefsel van die afgeslagte diertjies op sy werkbank opruim. Die vloer van die werkkamer nou soos dié van ’n informele slagplek, beplas en bemors van vloeistowwe – van gestolde bloedplasma, van geel bloedserum, van water en looipreparate, vermeng met weefsel, vet, hare en beentjies van klein diere. In die werkkamer hang die reuk van bloed en dood. Daaraan is hy gewoond.

      Hy dra die emmer met karkasse uit, die twee pit bulls om sy bene, hygende tonge, rooi oë glurend. Langs die muur van die stoor keer hy die inhoud van die emmer op ’n hoop ou verbleikte bene uit. ’n Stank van verrotting en ontbinding styg op terwyl die twee honde gulsig begin vreet.

      Terug in die kombuis spoel hy sy hande in die wasbak tussen vuil skottelgoed af, verskuif die versapper opsy waarin die reste van die beesbrein stol. Hy skakel ’n ketel aan vir koffie, ontdooi spaghetti bolognaise uit ’n supermark se yskas in die mikrogolf. Op die blad van die kombuistafel stoot hy tussen stapels ou koerante, tydskrifte en vuil eetgerei plek oop en eet sy Sondagmiddagete en drink sy koffie. Hy los die foeliehouer met oorblyfsels van die spaghetti bolognaise op die tafel tussen die ander borde met kosreste toe hy terug vuur toe uitstap.

      Hy is van plan om sy moeder later die middag, wanneer die son begin sak, oor sy nuwe projek in te lig, en oor sy plan vir ’n nuwe gesig. Sondagmiddae gesels hy en sy moeder, dit is hulle gehaltetyd saam.

      Net die gedagte aan ’n saggelooide vrouevel oor sý gesig stuur ’n sensuele prikkeling deur hom. Maar seks, selfs net persoonlike aanraking met enigiemand, man óf vrou, is nie een van Abel se behoeftes nie. Daarvoor het sy moeder hom té goed grootgemaak. Seks is ’n duiwelse ding, het sy hom geleer, by hom ingedril.

      Langs die vuur in die skadu van die huis dein dit stuk-stuk in sy geheuespens soos dryfhout op golwe, al haar verwysings uit die Bybel, van die Ou tot die Nuwe Testament, na sedelose en listige vroue, van Eva in Genesis tot die hoer van Babilon in Openbaring, en al die teregwysings tussenin:

      Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery.

      En veral insiggewend oor vroue met merke aan hulle velle:

      En op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.

mask.jpg

      6

      Van Southgate na Doradopark, steeds op haar koers, is haar bestemming later die Sondagaand die Vaaldriehoek. Haar oornagbespreking vir die aand in ’n viersterhotel aan die Vaalrivier by Vereeniging, binne bereik van haar eerste afspraak Maandagoggend. In ’n hoewehuis by Rietspruit aan die Barrage is ’n ou katel van skaars mopanie, die hout so hard as klip. Daarna Sasolburg toe vir die Laat-Victoriaanse lampettafel met marmerblad en art nouveau-teëls as spatplaat, ’n sirkelroete na Koppies vir die ses Thonet Nr. 14-stoele van beukehout, Parys vir die eikehoutbuffet met ingelegde houtmosaïek, Fochville vir die jonkmanskas van lindehout. Teen Vrydag terug in Johannesburg met haar waardasielys sodat Tom Spottiswoode sy goedkeuring kan teken en die lorrie stuur. Sy het haar afsprake netjies geskeduleer; Mia Vermooten hou van orde in haar lewe, dog nie ongeneë vir soms ’n aangename verassing nie, soos wat die Lotz-huis alles kan oplewer.

      Met die GPS en die padkaart langs haar op die sitplek vind sy maklik sy aanwysings deur die doolhof van Doradopark se villagestrate. Teen vyf voor vier op ’n stil Sondagmiddag kry sy Opaalstraat met sy groot erwe en die ou plaashek regs, skeef aan geroeste skarniere. Sy klim uit die RAV, die wit verf van die bakwerk nou rooi van die padstof, sleep die hek oop, ry in, sleep die hek toe. Ver agter ’n bos bloekoms merk sy die huis, maar eers toe sy verby die bome is, kry sy ’n beter blik, en is half verbaas. Sy het meer verwag van die netjiese meneer Lotz.

      ’n Aura van groot verwaarlosing. Die huis ’n vierkantige dubbelverdieping, skyn-Tudor, meen sy. Weerskante van die voordeur skuifraamvensters, simmetries bo herhaal. Klimop begroei wild die skilferende fasade, verberg die vensters, rank oor die portiek van die voordeur. Eens pragtige houtrame verdor. In die versameling van stof en modder van jare se versuim groei onkruid welig in dakgeute. In die voortuin vae aanduidings van eens fleurige blombeddings, nou oorgeneem deur kikoejoe, hakea, suring, omgedolwe deur molle.

      Sy hou stil, betrag die stil huis en werf, word skielik bewus van beweging by haar deur. Leun venster toe, sien die honde, geruisloos wagtende. Sou meneer Lotz haar kar hoor aankom het? Hy verwag haar tog. Sy sit en wag, beskou die huis, waag dit nie uit met die honde nie.

      Hy kom nie by die voordeur uit om haar te verwelkom nie, maar van agter om die huis aangeslof. Meneer Lotz dra ’n voorskoot waaraan hy nou sy palms afvee terwyl hy haar tegemoetkom.

      “Trek hier agter in, in die skaduwee van die huis, sodat die son nie jou kar bak nie,” nooi hy met sy groot tong en blosende gesig.

      Toe sy die RAV se deur oopmaak, aan die skadukant uit sig van die grondstraat agter die bome, vra sy: “Maak jy biltong?”

      “Jy kan seker so sê.”

      Slanke bene toe sy uitklim, elegant asof sy aan meneer Lotz se werf ’n groot guns betoon. En toe sy opkyk, merk sy weer die geknip van sy lui oog. Sy betrap ’n vreemde emosie in haar: bejammering. Ja, dink sy, eintlik voel sy jammer vir arme meneer Lotz, en dit is nie dikwels dat sy iemand jammer kry nie. ’n Week hart, het sy in die stad kom leer, is ’n vloek; ’n dik vel, dit is wat jy nodig het vir sukses.

      “Hier’s die geld vir die tallboy, soos jy gevra het.”

      Hy hou sy hand uit. “Klam, droog en vetterig,” sê hy, druk die geld in die sak van sy voorskoot sonder om te tel.

      “Wat?”

      “’n Mens se vel. Die drie belangrikste ekologiese gebiede op ’n mens se vel: klam, droog en vetterig.”

      “Jy weet baie van vel af.”

      Hy lig sy gesig na haar op. “Het ek jou al oor jóú mooi vel gekomplimenteer?”

      “Jy hét, meneer Lotz.”

      Sy wil die meubels sien, nie oor vel ginnegaap nie, buig en vee met ’n Kleenex die stof van haar sandale af.

      “Jy

Скачать книгу