Die soete dwaling. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die soete dwaling - Helene de Kock страница 5

Die soete dwaling - Helene de Kock

Скачать книгу

moet word. En sy het haar geykte argument gebruik:

      “Jy’s net moeilik, boetie! Martine het jou lief!”

      Hy het stadig geantwoord, kalm:

      “Nie vir mý nie! Ek is maar net die konkrete vervulling van háár ambisieuse drome! Aansien, status, geld . . .”

      Sy ma het ’n hand na haar voorkop gebring en in ’n gepynigde stemtoon gesê:

      “Ek begryp jou nie. Daar is niks daarmee verkeerd nie! ’n Mens móét weet waar jou toekoms lê. Ek het geweet wat ek wou hê toe ek met Pappa getrou het!”

      Toe het hy maar liewer stilgebly. Eenvoudig geweet dat dit niks, niks sou baat om verder te praat nie. Sy sou nie begryp nie. Nie tóé of óóit nie.

      Die gesprek met Martine was veel moeiliker. Hy het dit mooi probeer doen. Haar uitgevra vir ete en daarna hoog bokant die stad op ’n koppie stilgehou. Onder hulle het die stadsnag soos ’n tapyt vol blinkertjies gelê. En Dai kon dit nie langer uitstel nie.

      “Martine, jy weet dat ek Sondag vertrek, nè?”

      Sy was heelaand opgeruimd, selfs dierbaar, maar hy het skielik besef dat hy haar nie moes uitgeneem het nie. Só iets kan nie minlik geskik word nie. Nie met iemand soos Martine nie. En die oomblik toe sy begryp wat hy aan haar probeer sê, het sy teruggekap:

      “Vlug jy of vlieg jy?”

      Hy het al twee sy hande op die stuurwiel geplaas om te voorkom dat hy haar oor sy skoot trek en die pak gee wat sy kleintyd al moes gekry het. Waarom lê party mense se verweer tog altyd in nydigheid?

      “Martine . . .” het hy geprobeer, “begryp een ding . . .”

      “Ek begryp niks. Niks! Maar in die vervolg sal ek weet om nooit weer ’n man te vertrou nie! Dankie vir dié duur les!”

      “Nou is jy onnodig drasties!”

      “Wel!” het sy gestik in haar gramskap. “As dit darem nie die toppunt van . . . van . . .”

      “Kyk hier, Martine,” het hy skerp gereageer toe sy geduld eindelik meegee, “ek het jou nooit enige rede gegee om te dink dat ek met jou ’n ernstige verhouding wil aanknoop nie. Jy is lief en baie mooi, maar . . .”

      “Ry! Rý!” het sy hees gesê, haar gesig strak teen die donker koper van haar hare.

      Hy het dit gedoen, kwaad en ongelukkig omdat hy dit so plathand aan haar gestel het. Hy moes dit lankal gedoen het, het hy toe spytig gedink. As hy haar lankal die voet dwars gesit het – ook sy ma – sou dit nie nou nodig gewees het om alles ru oop te vlek nie. Dis eintlik ’n lelike ding as die man die afsêwerk doen, maar nou is daar geen ander genade nie!

      Voor hul huis het hy stilgehou en verwag dat sy sonder meer sou uitspring en die deur toeklap. Sy het nie. Sy het bly sit, voor haar uitgekyk sodat hy geen keuse gehad het nie en dieselfde gedoen het.

      “Dai . . .?”

      “Ja?”

      “Sal jy . . . sal jy soms aan my dink?”

      Hy het sy tande opmekaar geklem. Hoe kan Martine en sy ma tog nie hul eie wense parallel weef met ’n ander se wrange versugtinge nie! Dis nie dat hulle reg in sy pad staan nie – hulle hardloop saam met hom. As hy swenk, swenk hulle ook. Sy wéét dat hy wil wegkom van haar, en nou dring sy aan op ’n plek in sy gedagtes. En sorg dat sy só by hom bly . . .

      Sy het haar gesig na hom gekeer, en in die lig van die straatlamp kon hy sien dat haar wange blinknat is. Toe het hy geweet waarom sy ma en hierdie meisie mekaar so goed vind – hulle is van dieselfde stoffasie. Hulle gee nooit op nie. Hulle wil-en-sal voortdurend. Tog het haar hartseer hom week, amper skuldig, laat voel. Hy het haar gesig versigtig in sy hande geneem, maar sy het haar met groot dringendheid teen hom aangedruk en sodoende alle bekoring uit haar nabyheid gewis. Hy het haar ferm aan die skouers gevat, op die voorkop gesoen en die deur agter haar oopgemaak, haar sag uitgehelp. Op die mooi gesig by hom kon hy die ingehoue woede sien, maar sy het net sag gesê:

      “Nag, Dai . . . En tot siens!”

      Dit het hom amper meer ontstel as haar aanvanklike verset. Dié skielike inskiklikheid was gemotiveerd, dit kon hy voel . . .

      Dai kom tot homself toe die vliegtuig se wiele met ’n effense stampie die aanloopbaan raak. Die ou tantetjie langs hom leun gretig oor om haar eerste glimps van dié Engeland te kry, waar haar dogter nou woon. Haar ou rimpelgesiggie val en sy draai na Dai.

      “Lyk dit dan altyd so trietsig hier?” wil sy weet.

      “Nee wat, tannie, moenie jou blind staar teen die wolkies nie. Die gras is hier feitlik altyd groen. En die somer is sommer om die draai . . .” Hy maak sy gordel los en help haar ook. Sy is ’n tannie Van Zyl van die Vrystaat. Dai besluit terstond om hom oor die verlore ou mensie te ontferm. Hy help haar deur die doeane en kry lag vir haar doodverskrikte uitdrukking.

      “Ek was die bangste dat hulle dalk my medisyne sal vat,” beken sy bewerig aan Dai. Met die verwarrende mensemassa om haar het sy egter vrede. Spoedig weet Dai dat sy aan haar rug ly en baie las van pyn het, en o, wat gaan sy doen as sy in die ses maande van haar kuier ’n dokter nodig kry? Dai stel haar dadelik gerus, gee haar die adres van Charles-Henry se spreekkamer, en sê sy moenie huiwer om hom te kom sien nie. Dit maak die ou tantetjie se dag, en Dai kyk met iets soos deernis hoe haar dogter haar in haar arms toevou. Dan kry hy sy eie bagasie en gaan sit in die ruim ontvangslokaal, waar Charles-Henry beloof het om hom te kom ontmoet.

      Hy sit skaars of iemand sê sy naam.

      “Dokter Deetlefs . . .?”

      Hy swaai om op die draaistoel. Sy staan skuins agter hom. ’n Lang meisie met pikswart hare wat sy van haar hoë voorkop af terugkam en in ’n groot chignon in haar nek saamvat. Sy is in ’n heldergeel tweestukpakkie gekleed, met ’n geelbont syserpie om haar nek. Oor haar skouers hang ’n deftige donkerblou leerjas. ’n Huiwerige glimlag raak aan haar vol mond toe sy merk dat hy haar herken.

      “Sylvia . . .!” roep hy verras uit en kom na haar toe. Dis sý wat saam met Charles-Henry by Hugo en Sanet gaan kuier het om Dai se hospitaaladres by hulle te kry. Hugo wou juis in sy brief weet of Dai haar nog onthou.

      “Hallo, dokter . . .” Haar stem is laag en rond soos hy dit onthou.

      “Hoekom so formeel?” vra hy toe hy haar met die hand groet, en sy glimlag haar stadige glimlag, wat eerste in haar donker oë begin. Hy het vergeet dat Sylvia só lyk, ontdek hy met verbasing. Miskien omdat sy nie werklik mooi is nie. Tog wek sy die indruk dat sy pragtig is. Miskien het dit iets daarmee te doen dat ’n mens feitlik dadelik ’n tweede keer na haar kyk. Dai besef met ’n ligte skokkie dat haar oë nie donker is nie; hulle is ’n diep pers. Sy het regte viooltjie-oë, en haar sensitiewe mond het ’n kuiltjie in die linkerhoek.

      “Wel, dokter,” antwoord sy sy vraag, “jy is nie meer ’n student nie en ek is nou jou ontvangsdame, klinieksuster, teemaakster . . .” en sy maak ’n sprekende gebaartjie met haar hand om aan te dui hóé ’n pos van vele kleure sy nou het.

      “O, dus is jy Charles-Henry se vonds?” vis hy. Hy kan byna nie glo dat die knap suster Sylvia Saunders haar hospitaalpos sou verruil vir die een wat sy nou beklee nie. Sy het heelwat aansien as operasiesuster in Guy’s Hospital

Скачать книгу