Die soete dwaling. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die soete dwaling - Helene de Kock страница 7
Daarom pleit hy nie met Sylvia nie, maar hy aanvaar ook nie haar weiering nie. Hy gee bloot ’n opdrag.
“Suster Saunders,” sê hy, en sien hoe sy onpersoonlike stemtoon haar laat ontspan, “ek besef dat jy baie besig is en nog gaan wees veral noudat ék hier is. Jy sal my met ongelooflik baie dinge móét help. Ék sal bepaald geen tyd hê om te gaan kies tussen plakpapiere en materiale nie. Kry dus vir my ’n erkende binneversierder soos Al Brizzi, maar gee jy sélf maar rigting aan sy idees. Ek gee nie om vir appelkooskleur en perskepienk in die slaapkamers nie, maar die studeerkamer . . .”
“Moet prakties en manlik wees!” val sy hom sagkens in die rede, maar sonder om hom in die oë te kyk. Sy stap by hom verby en bly staan in die studeerkamer se deur. “Leer, chroom en hout . . . en daardie oorkantste muur moet van bo tot onder boekrakke kry. Gordyne, mat en kussings in skakerings van bruin en oranje . . .?” sê-vra sy oor haar skouer.
Dai kyk grimmig-geamuseerd na haar stywe rug. Dus is ons op saaklike voet, dink hy. Wel, des te beter!
“Daaroor sal jý besluit!” troef hy haar nietemin, en toe sy nie reageer nie behalwe met ’n klein kopknikkie, kyk hy op sy horlosie en sê: “Dokter Mounthallow behoort al terug te wees. Ek het heelwat om met hom te bespreek.”
“Natuurlik,” antwoord sy dadelik, en hulle stap saam motor toe nadat Sylvia die voordeur gesluit het. “Ek sal vanmiddag nog ’n duplikaat van die sleutel laat maak!”
“Alles reg,” sê Dai afgetrokke.
Hulle ry in stilte spreekkamers toe.
“Wie het vandag jóú werk behartig?” vra Dai eenkeer.
“O ja, ek het vergeet om jou te sê. Daar is twee van ons . . . ek en mevrou Thatcher. Jy sal haar bekwaam vind, dokter. Sy is nie ’n gekwalifiseerde verpleegster nie. Doen eintlik die ontvangswerk. Maar sy kan kophou en . . .”
Dai vind dat hy meer na haar stem luister as na haar woorde. Dit is rustig, met lae, ronde klanke.
Hulle parkeer reg voor die baie moderne spreekkamergebou.
“Aitsa!” sê Dai toe hulle uitklim. “Mounthallow het nie sleg gedoen nie!”
Sylvia loer versigtig na hom en sê ernstig:
“Ja, dokter Mounthallow is regtig ’n baie suksesvolle ortopedis!”
Dai kyk af in haar groot oë met die swart wimpers. ’n Mag buite homself laat hom aanhou kyk. Kalm gelaatstrekke, geen groot skoonheid nie . . . maar tog. Daar is iets omtrent die reguit neusie en spits kennetjie, en ’n flikkering in die oë, wat nooit werklik tot uitdrukking kom nie. Miskien was daar nog nooit ’n man wat kringe op die stil waters kon maak nie, dink hy. Toe lag hy, hou sy kop skeef toe hy sê:
“Dus sal ek versigtig moet trap in die spore van die groot Mounthallow?”
Sy gaan staan, haar mond effens oop in protes.
“Nee, dis nie hoe ek dit bedoel het nie!”
Hy neem haar aan die elmboog en stuur haar die gebou in tot by die hysbak.
“Ek spot, suster Saunders. Ek spot met jou.”
En hy dink: daar is iets aan haar mond ook, ’n beweeglikheid wat veel meer sê as haar versigtig gekose woorde . . .
Hulle kom Charles-Henry in die gang teë. Die maer student van byna twee jaar gelede is weg, en hy is nou die toonbeeld van ’n man wat suksesvol in sy beroep is. Hy was nog altyd ’n ekstrovert en slaan sonder meer sy arm om Dai se skouers.
“My liewe man! Jy weet nie hoe bly ek is om jou te sien nie! Kom ons gaan gesels! Ek sien suster Saunders het jou toe in ’n goeie toestand hier gekry!” Hy glimlag na Sylvia se kant toe en sy knik net haar kop in erkenning van die ietwat dwarse bedanking vir haar moeite.
Dan verdwyn sy, en die mans gaan sit in die groot en gerieflike spreekkamer. Hulle val dadelik weg met lang en ingewikkelde besprekinge van Charles-Henry se werk. Die kliniek, verduidelik hy, is in dieselfde gebou as die spreekkamers, en bedien ses ortopediste. Dit is volledig toegerus met drie hipermoderne operasiesale en die allernuutste toerusting. Baie van sy erfgeld, erken Charles-Henry, het hierdie dinge moontlik gemaak. Dit heet dan ook die Mounthallow-kliniek. Verder is die personeel hoogs gekwalifiseerd en baie gewillig.
Die gesprek gaan ook oor vooroperatiewe pasiënte, wat nou Dai se verantwoordelikheid word. Hulle is spoedig so verdiep in die nuutste operasietegnieke, wetenskaplike artikels en Charles-Henry se navorsingsprojekte dat die tyd omvlieg, en dis skemer voordat hulle verpoos.
“Wel, daar het jy nou die hele prentjie,” sug Charles-Henry en rek genoeglik met min konsiderasie vir sy Saville Row-pak.
“Ja-nee, ek sal regkom,” stel Dai hom gerus. “Ons is na alles uit dieselfde skool.”
Toe loer Sylvia in om te groet voordat sy huis toe gaan. Sy trek die deur agter haar toe en Charles-Henry leun vooroor.
“Só ’n verstandige meisie daardie. Ek kan nooit genoeg dankbaar wees dat sy dié pos aanvaar het nie . . .”
“Dit glo ek goed,” antwoord Dai. “Maar sê my, hoekom hét sy gekom? En wat maak haar so danig verstandiger as ander van haar spesie?”
Charles-Henry kyk verbaas na hom.
“Wat pla jou, Dai? Jy ken suster Saunders tog? Jy behoort te weet hoe bekwaam sy as operasiesuster was? Hemel, man, tot ou Van Zeust wou niemand anders naby hom hê as hy kom lesings gee in die operasiesaal nie. Jy onthou tog hoe ons as studente daar op die galery ons soms verstom het aan haar buitengewone kalmte en vaardigheid die keer toe Cholms die hartaanval langs die tafel gekry het? Sý was die een wat kop gehou het! Guy’s het ’n week lank daaroor gejuig . . .”
Dai lig sy hand in ’n vredesgebaar.
“Juis, juis! Maar dis presies waarom ek wonder wat haar beweeg het om hiérheen te kom!”
“Dit weet ek self nie. Ek is maar te bly dat sy hier is!”
“Ek begryp . . .”
“Dan is ek bly,” sê Charles-Henry kripties, kyk Dai meteens reg in die oë, en spot fyntjies: “Ek weet jy’s bang vir vroumense, Dai. Ek sou ook gewees het as ek jy was. Jou voorkoms maak natuurlik dat jy heelwat las het van bewonderaars – ’n arme outjie soos ek moet maar op my fantastiese persoonlikheid staatmaak!”
“Gaan vang die haan, hoor!” brom Dai. “As jy weet wat ek moes deurmaak die afgelope tyd, sal jy grys