City Girl en die swart hings. Marga Jonker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу City Girl en die swart hings - Marga Jonker страница 2

City Girl en die swart hings - Marga Jonker

Скачать книгу

oopmaak. Sy’t nie eens besef hulle het stilgehou nie. Dit is al donker buite. Hulle staan voor ’n ouwêreldse huisie met ligte wat dof oor die stoep skyn. Potplantjies hang uit die stoepdak, staan die lae stoepmuurtjie vol en gooi skaduwees teen die mure. ’n Groot geel hond met ’n swart gesig staan waaksaam op die stoep. Langs die hond staan ’n maer vroutjie met ’n werkersoorpak en rubberstewels. Sy het ’n wriemelende Jack Russell onder elke arm.

      “Ant Pol!” sê haar ma en klim vinnig uit die motor.

      “Zetta, jy’s hier!” Die vroutjie laat die twee hondjies uit haar arms spring. Sy gryp vir Elzette met haar dun armpies om die lyf en draai haar in die rondte. Sy lyk vir Nicole nes ’n dwergie uit Sneeuwitjie se storie. ’n Dwergie wat met haar ma in die rondte dans met twee blaffende Jack Russell-hondjies wat in kringe al om hulle hol asof hulle so pas die geheim van alle vreugde ontdek het.

      Nicole staar verstom na die huisie. Kan dít wees waar sy die vakansie moet kuier? By ’n tannie skaars langer as ’n dwergie en met ’n gesig soos Liewe Heksie wat in ’n sinkdakhuisie woon? Hoe gaan hierdie plekkie vergelyk met Chané se Mauritius-foto’s! Of met Monique se perdrykursus by Golden Acres, dié perdryklub van Pretoria. Nicole laat sak haar kop in haar hande. Sy is gedoem, hierdie vakansie gaan haar naam ruk.

      2

      Die stertkant van die aarde

      Nicole word uit ’n diep slaap wakker van die son wat deur die gordynlose vensters skyn. Sy maak haar oë stadig oop, maar bly roerloos lê. Haar lyf en hande voel traag om te beweeg. Deur die slaap kyk sy om haar rond.

      Die bed het ’n dakkie waarvan die boonste deel versier is met valletjies, asof die bed ’n rok dra.

      “Dis ’n hemelbed,” het haar ma gisteraand gesê.

      “Help! Ek is nog steeds in die boeremuseum,” fluister Nicole vir haarself terwyl sy regop sit, nou helder wakker. Sy rek na die spieëlkassie toe vir haar selfoon. Agtuur.

      “Ek sal nie foto’s van hierdie plek op ons blog kan sit nie,” sê sy vir die stilte in die kamer.

      Gelukkig was die troue darem asemrowend genoeg vir Chané se spog-blog.

      Claire se bruiloffotograaf het ’n blog waar sy die bruid en bruidegom se verlowingsfoto’s, die onthaal- en troudagfoto’s saam met die troupaartjie se romantiese storie plaas. Nicole was deel van die romantiese blogstorie wat die fotograaf geskryf het en Monique en Chané is ook genoem.

      “Moet ons nie ook ’n blog begin nie?” het Monique een middag gewonder nadat hulle weer hulle rokke moes gaan pas.

      “Absoluut ’n fantastiese idee, Moni!” het Chané saamgestem.

      “Ja, ons kan dit die Ruitersblad-blog noem,” het Nicole gesê. “Ons kan die ruiterklub se perde en die interskole-skouspringuitslae daarop blog.”

      “Vervelig! Nee, Nicole, nie ’n perde-blog nie. Ons wil nie net vir ons perdryvriende blog nie, dit moet ’n baie beter naam hê. Iets sensasioneel!” het Chané gesê. “Niemand in graad 9 in Hoërskool Jakaranda het so ’n blog nie, ons kan regtig iets spesiaals begin.”

      Nicole het met ’n internetsoektog begin. Sy was vies oor Chané nie van haar idee gehou het nie, want sy sou graag haar perdefoto’s op die blog wou plaas. Bárry meen haar perdefoto’s is besonders.

      “Ons noem ons blog Populars’ corner!” het Chané opgewonde verklaar.

      Monique was ewe opgewonde. “Só ’n blog sal gons en almal in die skool sal weet wie ons is. Ons kan dit as ’n CV gebruik, ’n tipe advertensie vir as ons vir die leerderraad wil staan!”

      “Soos ’n Amerikaanse verkiesingsveldtog?” het Nicole gewonder.

      “Monique, jy is ’n genius! Ons kan in ons toesprake verwys na ons blog, nes Amerikaanse tieners,” het Chané geborrel asof sy reeds aan haar toespraak begin skryf het.

      Sy het haar skooldagboek uitgehaal en na die vakansiedatums geblaai. “Kom, vriendinne, uit met die dagboeke. Skryf!” Chané het haar pen met die geveerde pienk tosseltjie soos ’n dirigeerstokkie deur die lug geswaai.

      Vakansie: Blog-huiswerk: Populars’ corner.

      • Maak ’n blog. Bloggers.com of WordPress. Dankie, Monique!

      • Versamel inligting en kry dit gereed om op die blog te plaas. Charné, Monique en Nicole. Stories en foto’ s. NB: Versigtig, Nicole, net nie nog perdefoto’ s nie! Perdryfoto’ s van ons skool se skouspring kan onder die sportafdeling kom.

      • SMEL : Slim, Modieus, Eksoties en Luuks.

      “Girlfriends, ons moet wakker wees, let op hoe julle iets oorvertel. Hierdie blog moet spoggerig wees. Ons kan mekaar met een afkorting op koers hou: SMEL – ons eie akrom- … mononiem.”

      “Akroniem,” het Monique gehelp.

      “Ja, dit is die woord, akroniem: Slim, Modieus, Eksoties en Luuks!”

      “Ons moet nog ’n ‘L’ bysit,” het Nicole gesê. “Mens spel smell mos met twee l’e.”

      “Ek weet, maar hierdie is net ons akromononiem. Met een L.”

      “Akroniem,” het Monique weer gehelp. “Ek stem saam, niemand moet dink ons kan nie spel nie.”

      “Ja, whatever, nog ’n L dan,” het Chané ongeduldig toegegee.

      “Vir Liefde,” het Monique voorgestel.

      “Of Leierskap?” het Nicole gevra.

      “Goed, ons sê dit is vir leierskap, maar ons drie weet dit kan ook vir liefde staan, mens weet nooit watter potensiaal ’n vakansie kan oplewer nie,” het Chané haar goedkeuring aan beide Monique en Nicole se voorstelle verleen.

      Hulle het almal gelag en saamgestem: die ekstra L van SMELL staan eintlik vir Liefde, soos in ’n vakansieromanse.

      “Slim, Eksoties, Luuks en Leierskap – of Liefde.”

      “Populars’ corner gaan dié blog wees wat alle graad 9’s in Hoërskool Jakaranda gaan wil lees,” het Monique verklaar.

      “SMELL! Ruik die geur van ons fantastiese blog. Lees hier hoe gewildheid rock! Populars’ corner – dié graad 9-blog!”

      Nicole sug en sak terug teen die roomkleurige kussing van die hemelbed met die valletjiesdakkie. Kyk waar sit sy nou: in haar ma se vreemde tannie se plaashuisie – ’n tannie en ’n huisie wat nou nie juis by Chané se SMELL-tema inpas nie. Chané sal haar neus vir dié plek optrek. Nie Monique nie; Monique en haar ma hou van outydse meubels. Maar Ouma Grace sou saam met Chané baie te sê gehad het oor dié huisie.

      Daar is net een badkamer wat sy met haar ma en tannie Pollie moet deel. Die badkamer

Скачать книгу