Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 13

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

ons gaan in. Ek wil net gaan kyk wat ons vanaand kan eet en dan gaan ek julle tweetjies bad.”

      Die kleingoed huppel vrolik saam met haar, heeltemal tevrede en op hul gemak.

      Volgens Anna kry die kinders saans sewe-uur hul aandete sodat hulle agtuur kan gaan slaap. Hugo en sy broer eet eers heelwat later.

      Sarie snuffel in die kombuis en ontdek ’n hoenderpastei in die vrieskas. Dit sal maar net moet deug vir vanaand. Sy sal groente en rys daarby voorberei en ’n warm nagereg.

      Die vries- en yskas is vol groente en vrugte. Sarie besef dat daar in hierdie kombuis geen skaarste aan enigiets is nie.

      Gladys is stil en ingetoë en praat nie veel nie. Sy staan net nader om die groente wat Sarie eenkant sit, te skil.

      Sarie draai na die kinders. “Kom ek gaan bad julle gou. Of eet julle eers en bad dan?”

      “Nee, tannie. Ons bad altyd eers en dan eet ons sommer hier in die kombuis. Net partykeer as Pappa en oom Hugo vroeg kom, eet ons saam met hulle.”

      Sarie geniet die kinders se baddery meer as hulle. Sy is die jongste in haar gesin en die enigste dogter, met die gevolg dat daar nooit juis kans was om te help met kinders grootmaak nie. Daar is net Piet en Alet se twee kleingoed, wat sy tot in die afgrond bederf, en hulle is baie geheg aan hul tannie Sarie.

      Karl lyk dierbaar in sy blou kamerjassie en Annemie lyk soos ’n engeltjie met haar blonde haartjies en wit nagrokkie.

      Sarie druk klein Annemie ’n oomblik styf teen haar vas. Sy kan baie goed verstaan dat hul ma meer gerus voel wanneer hierdie twee pragtige kleingoed in die nabyheid is. Sy trek die ligroos kamerjassie oor die wit nagrokkie aan en knoop dit stewig toe tot onder die kleintjie se keel.

      Die kinders eet saans baie lig, aangesien hulle hul hoofmaaltyd in die middag nuttig. Gladys het reeds vir hulle heerlike groentesop ingeskep en vir elkeen ’n stukkie roosterbrood met roereier daarop voorberei.

      Sarie verlustig haar in die deeglik ingerigte kombuis met sy moderne oond. Die hoenderpastei is besig om goudbruin te bak en die groente prut saggies op die stoof.

      “Gladys, moet ek nie nog ’n vleisgereg voorberei nie?”

      “Mevrou Visser sit gewoonlik net een soort vleis voor, tensy ons onthaal.”

      Diep ingedagte staan sy in die middel van die ruim kombuis. Sy wonder watter soort nagereg sy sal maak. Dit is so koud. Miskien moet sy pannekoek bak, of … of souskluitjies. Ja, dit is wat sy gaan maak: heerlike, veerligte souskluitjies!

      Sy maak die kaste oop en soek gou al die nodige bestanddele.

      Gelukkig spoor sy alles maklik op.

      “Juffrou … e … ek gaan gewoonlik saans vyfuur van diens af.” Gladys trek haar oorjas uit en staan onseker rond. “Ek skil vroegmiddag die groente en dan gaan ek huis toe. Ek woon ’n hele entjie hiervandaan en moet nog ’n bus haal …”

      “Ag, Gladys, ek is jammer! Hoekom het jy nie eerder gesê nie? Ek kon mos self die groente geskil het. Jy moet dadelik gaan.”

      “Ek wil darem nie vir juffrou so alleen los in die vreemde huis nie.”

      “Nee, aarde, Gladys! Dit is al amper halfagt – jy moet regtig nou gaan.”

      “Dankie, juffrou.” Sy tel haar handsak op, maar draai dan eers weer om voordat sy by die deur kom. “Is daar regtig niks anders wat ek vir juffrou kan doen nie? Ek het die tafel gedek. As dit baie laat geword het, het mevrou Visser sommer die kos in die louoond gesit en dan het meneer self vir hom kos ingeskep.”

      “Jy is nou net soos ’n broeis hen, Gladys – net soos my ma. Toe, draf nou, anders vang die spoke jou vanaand.” Sarie glimlag breed.

      “Nag, juffrou.”

      “Goeienag, Gladys, en baie dankie vir jou hulp.”

      Sarie skakel die plate af en sit die pastei in die louoond. Sy gaan eers die kinders in die bed sit en dan sal sy die slaai kom maak.

      Die kinders geniet die aandag en hou haar langer in die kamer as wat sy beplan het. Sy kan nêrens ’n Kinderbybel kry nie en vertel dus maar vir hulle die verhaal van Moses in die mandjie. Karl lê met groot oë en luister, sonder om kommentaar te lewer, en Sarie wonder ongemaklik of sy ouers ook saans vir hulle ’n stukkie uit die Bybel voorlees.

      “Sê julle gebedjies ook op?”

      “Ja, tannie. Mamma laat ons altyd gebedjies ook opsê.”

      Karl wip van die bed af en staan doodstil op sy knieë. Sarie besef dat sy hulle moet voorsê, maar skielik kan sy nie haar gebedjie uit haar kinderdae onthou nie en moet sy vinnig een uitdink.

      Vinnig knip sy die trane weg toe Annemie die gebedjie agterna lispel. Die pragtige kleinding! Hoe bekommerd moet hul ma nie vanaand oor hulle wees nie!

      In die kombuis beskou Sarie haar handewerk. Die kos is gereed en alles lyk keurig. Wel, sy glo nie hy sal hieroor kan kla nie. Die souskluitjies het sy heel laaste gemaak sodat dit nie te lank hoef te staan nie.

      Sy stap na die eetkamer om te kyk of alles daar ook reg is. Die pragtige swarthouttafel laat die enorme vertrek tot sy volle reg kom. Daar is seker plek vir veertien of meer mense aan die swaar tafel. Die eetgerei is van die beste gehalte en die fyn porselein is beslis baie duur en waardevol.

      Verbaas kyk sy na die gedekte plekke. Het mevrou Visser dan nie altyd saam met hulle geëet nie? Gladys het dan net twee plekke gedek. Vaagweg wonder sy wat hulle van haar verwag. Sal hulle dit as reg beskou as sy vir haar ook hier ’n plek dek?

      Sy stap na die kas om nog eetgerei te kry, maar staan dan vertwyfeld stil met die goed in haar hande. Snobisme ken sy nie. Dit is ’n verskynsel wat gelukkig nog nie sy kop in Suidwes uitgesteek het nie. Daar lewe die mens elke dag met gevaar en die uitgestrektheid van die vlaktes om hom – en na aan sy Skepper.

      Iets wat haar hier in die stad, en veral vandat sy Hugo Kritzinger se sekretaresse is, baie opgeval het, is dat ’n mens in ’n sekere groep afgebaken word na gelang van jou bankbalans.

      Sarie grinnik. Haar pa sal maklik met Hugo Kritzinger kan meeding waar dit by die grootte van sy bankbalans kom, maar wanneer ’n mens hom saam met sy vrou en kinders sien op wie hy so trots is, sal jy hom vir niks anders aansien as die boer wat hy is nie.

      Sy sit die eetgerei weer terug in die laai en stap kombuis toe.

      Hy kan haar maar nooi as hy wil hê sy moet saam met hulle eet. Sy het hom kom help, nie op sy tone kom trap en haar kom opdring waar sy dalk nie welkom is nie.

      ’n Klokkie lui hard in die kombuis en Sarie wip soos sy skrik. Sy het sowaar niemand gehoor inkom nie. Vinnig stap sy deur die lang gang na die sitkamer.

      ’n Groot man, so groot soos Hugo en met ’n bietjie meer grys in sy hare, staan voor die kaggel.

      “Goeienaand.” Sarie kom skugter nader.

      “Goeienaand, dame. Ek is bevrees ek ken jou nie …”

      “Is u meneer Kritzinger? Meneer Hugo Kritzinger

Скачать книгу