Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 15

Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

      “Nag, Sarie, en my naam is Paul. Ek is maar ’n informele soort mens, hoor! Nogmaals baie dankie vir jou bereidwilligheid om hier te kom help.” Paul staan galant op en stap saam met haar tot by die deur.

      “Goeienag.” Sy verdwyn vinnig, voordat sy weer in die donker, onleesbare oë van Hugo Kritzinger moet kyk.

      5

      Sarie skrik wakker en lê ’n oomblik doodstil. Sy weet nie of sy gedroom het en of iets haar wakker gemaak het nie.

      “Mamma!”

      Dié keer hoor sy dit duidelik: die sagte gehuil van ’n kind.

      Sarie spring vinnig op en gryp haar kamerjas wat oor die stoel lê. Kaalvoet hardloop sy na die aangrensende kamer. Klein Annemie sit regop en vryf verdwaas haar ogies. Sy huil harder toe sy vir Sarie sien en vryf haar magie.

      “Wat is dit, Annemie?” Sarie gaan sit eenkant op die bedjie en skakel die bedlampie aan. Voordat sy haar hande na die kind kan uitsteek, word die meisietjie met die wit haartjies naar, bo-oor die beddegoed en haar nagkleertjies.

      “Ag, my poplap, is tannie se ou kindjie dan siek?”

      Die kind huil nou hard en Sarie tel haar vinnig op en draf met haar na die badkamer.

      Sy laat haar oor die toilet staan, net ingeval daar dalk ’n laat uitgawe ook is en maak solank ’n waslappie nat om haar gesiggie ’n bietjie af te vee.

      Bekommerd loer Sarie om haar rond. Sy het geen benul waar om medisyne in hierdie huis te kry nie.

      Annemie drink die water wat Sarie vir haar gee, maar dan kramp die magie opnuut.

      “Staan solank hier, tannie gaan net gou jou bedjie skoonmaak,” sê Sarie simpatiek en gee haar ’n sagte drukkie.

      Sarie trek die beddegoed af en staan besluiteloos rond. Sy maak die kaste oop, maar sien nêrens skoon beddegoed nie. Dit moet seker iewers in ’n linnekas wees.

      Sy tel die bleek, koue meisietjie op en trek vir haar skoon nagkleertjies aan, voordat sy haar in haar eie kamer in die groot bed toemaak.

      “Tannie gaan nou eers vir jou ’n bietjie medisyne soek. Lê mooi stil hier in tannie se bed, hoor?”

      Annemie se magie pyn ook nou, want die kleinding huil en kerm en hou haar magie vas.

      “Ek gaan nou gou vir Pappa roep.”

      Sarie staan besluiteloos in die gang. Watter een van hierdie kamers sou Paul s’n wees?

      Wel, sy kan net by Paul óf Hugo uitkom, maar een van hulle sal nou moet kom help.

      Sy tik liggies aan die deur naaste aan hare. Daar is egter geen reaksie nie en sy klop harder. Versigtig draai sy die knop. Daar is egter niemand in die kamer nie en sy beweeg met die gang af na die volgende deur.

      Sy klop hard en dringend aan die deur. Sy sal een van hulle móét wakker kry, voordat Annemie weer naar word en haar bed ook in die slag bly.

      “Meneer Kritzinger!” Sy roep gedemp maar dringend by die deur.

      Ná ’n rukkie hoor Sarie ’n beweging in die kamer en sug van verligting. Sy bid woordeloos dat dit tog Paul moet wees wat agter hierdie geslote deur beweeg, maar dit is Hugo wat, groot en manlik in sy wynrooi kamerjas, die deur oopmaak.

      “Ja?” Hugo kyk verbaas na die deurmekaar skepseltjie in die blou kamerjas. Sy lyk kleiner as gewoonlik met haar kaal voete en baie, baie jonk en onskuldig.

      “Dit is Annemie. Sy is siek en ek weet nie waar om medisyne en skoon beddegoed te kry nie.”

      Hugo antwoord haar nie, maar stap vinnig voor haar uit na die kinders se kamer. By die deur keer Sarie en beduie na haar kamer.

      “Ek is bevrees sy het haar beddegoed bemors en ek het haar in my bed gesit.”

      Hugo sak langs die bleek Annemie op die kant van die bed neer. “Wat is dit dan, kleintjie?”

      Annemie begin huil en vryf haar magie.

      Sonder verskoning gryp Sarie haar vinnig voor Hugo weg en hardloop net betyds met haar na haar eie badkamer.

      Hugo loer verskrik om die deur. “Ek sal Paul gaan wakker maak. Hy is ’n mediese dokter en sal weet wat om te doen.”

      “O, asseblief, meneer Kritzinger! Ek kry haar só jammer.” Sarie sit op die bad se rand en vryf die blonde haartjies weg van die klam voorkoppie af.

      Hugo voel iets soos teerheid in hom roer. Die pragtige, intieme toneeltjie in die onsmaaklike omstandighede maak hom onverwags week. Hy draai om en verdwyn in die donker gang om vir Paul te gaan roep.

      Minute later storm Paul verskrik by die badkamer in. Annemie is bleek en pap en lê styf teen Sarie se skouer. Hy vat sy fyn ou dogtertjie met soveel teerheid by haar dat Sarie die trane agter haar ooglede voel brand. Vinnig ondersoek sy lang doktershande haar terwyl die kommer sy gesig in diep plooie vou. Die kommer op die groot man se gesig ontstel Sarie en haar stem is sag en paaiend. Sy kom nie eens agter dat sy hom op sy naam noem nie.

      “Sy het seker maar iets geëet, Paul. My broer se tweetjies word baiekeer so. Môre weet hulle nie eens meer dat hulle vannag siek was nie.”

      “Ja, dit is seker maar so. ’n Mens skrik net groter as dit jou eie kinders is … veral nou met Cynthia.” Paul glimlag verleë.

      Hy lê vir Annemie weer op Sarie se bed neer en stap na sy kamer om sy tassie te kry. Dan gee hy haar ’n inspuiting wat haar gou lomerig maak.

      “Ek sal môreoggend vir haar medisyne laat huis toe stuur.”

      “Dankie, Paul. Ek sal bly wees as jy my kan wys waar ek goedjies soos ontsmettingsmiddel, pleister en sommer sulke alledaagse medisyne kan kry, dan hoef ek jou nie heeldag daaroor lastig te val nie.” Sy trek die komberse oor Annemie en druk dit styf om haar vas. “So ja, nou gaan my kleinding lekker slaap, hoor?”

      “Maar sy kan nie hier by jou slaap nie, dit sal te ongemaklik wees!” Paul kyk bekommerd na haar.

      Sarie glimlag net gerusstellend en draai na Hugo. “Meneer Kritzinger, kan u vir my wys waar die skoon beddegoed gebêre word?”

      Hugo vryf verward deur sy hare. “O aarde! Ek weet nie.”

      Sarie lag en onverwags voel sy lus om die groot man styf teen haar vas te druk. As hy net nie altyd so nors en buffelagtig was nie, sou hy ’n heel skaflike ou gewees het.

      Saam stap hulle deur die lang gang en maak kaste oop totdat hulle by die kas met die linne kom. Soos twee samesweerders glimlag hulle breed toe hulle eindelik op die netjiese stapeltjies linne afkom.

      Hugo bly verdwaas alleen in die gang agter toe Sarie se kamerdeur sag agter haar toegaan.

      Wat ’n pragtige meisie met haar groot, blou oë wat ’n naar meisietjie met soveel teerheid teen haar kan vasdruk! En nou is sy nog bereid om hierdie tyd van die nag te gaan beddens skoon oortrek, glimlag sy selfs stralend daaroor asof …

Скачать книгу