Liefde in laslap. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde in laslap - Elsa Winckler страница 5

Liefde in laslap - Elsa Winckler

Скачать книгу

wil die lap die volgende paar aande knip. As Amelie nou nie so geneul het oor môre nie, kon sy dan al begin het. Vies druk sy die kas toe. Dis vir haar heerlik om saam met Amelie en haar mense te kuier. Maar ai, daai vent!

      Haar voordeurklokkie lui. Sy kyk op haar horlosie en frons terwyl sy voordeur toe stap. Wie sou so laat op ’n Saterdagmiddag by haar aanklop? Sover sy weet, het sy geen afspraak nie.

      Sy kyk deur die loergaatjie. ’n Netjiese man staan voor haar deur, maar dis nie iemand wat sy ken nie. Sy maak die voordeur oop, maar hou die veiligheidshek gesluit.

      “Kan ek help?” vra sy.

      Hy staan met sy hande op sy heupe, ’n halwe glimlag lig die een kant van sy mond op. Sy sluk. Hy lyk so bekend.

      “Natalie? Natalie Olivier?” vra hy.

      “Ja?” sê sy onseker.

      Hy kyk af na sy voete, maak sy keel skoon en toe hy sy kop oplig, blink sy oë.

      “My naam is Francois. Francois Olivier, en ek dink ek is jou broer.”

      3

      Natalie stap op en af in die sitkamer. Amelie sal seker nou-nou hier wees om haar te kom oplaai, en sy kan nie wag om vir haar van Francois te vertel nie. Sy het laas nag niks geslaap nie, net met wydgesperde oë na die dak lê en staar.

      Sy is skepties. Baie skepties. Is hy regtig haar broer soos hy voorgee om te wees? Maar hoekom sou hy sê hy is? Om seker te wees moet sy wag tot Maandag. Die adminpersoneel van die weeshuis sal eers dan weer beskikbaar wees, en sy gaan sorg dat sy daar is.

      ’n Motor hou voor haar huis stil, en sy gryp haar sak en voordeursleutels. Sy storm voordeur toe, maak die deur oop en onthou van die poeding wat sy gemaak het. Sy draf weer terug kombuis toe. Amelie wil nooit hê sy moet iets saambring nie, maar sy moes iets doen om haar nag om te kry. Teen drie-uur vanoggend het poeding maak na ’n goeie idee geklink.

      “Ek kom, ek kom,” roep sy vir Amelie toe sy voetstappe in die gang hoor. “Ek kry net gou die poeding.”

      Sy sit die bak in ’n mandjie en draai deur toe. “Jy sal nooit raai wie gister by my opgedaag . . .”

      Haar woorde droog op. Dis nie Amelie nie, maar Neethling wat nadergestap kom. En sjoe. Haar hart gaan vrolik aan die huppel. Hy het jeans aan met ’n ligte wit langmoutrui en lyk ongelooflik, onbehoorlik, onregverdig sexy.

      “Waar is Amelie?” vra sy, sommer ergerlik. Sy is nie voorbereid om die vent nou al te sien nie. Sy sou nog die hele ent na Amelie en Chris se huis tyd hê om haar in te stel om hom weer te sien. En nou is hy hier!

      “Goeiemôre, Natalie. Chris het gevra of ek jou sal oplaai, hy het Amelie laat laat slaap vanoggend, en nou is sy in ’n flat spin,” sê hy ewe rustig.

      Natalie voel dadelik sleg. Sy weet Amelie word tydens haar swangerskap maar gou moeg en gister se rondlopery het sekerlik sy tol geëis. Sy moes seker gemaak het hulle kom vroeër terug.

      “Dit was nie nodig om my te kom oplaai nie, ek het vir haar gesê dis julle familiedag, ek hoef nie ook daar te wees nie. Chris kon maar net laat weet het.”

      “En sy vrou ongelukkig maak? Dan ken jy nog nie my broer nie. Jy is Amelie se familie, daarom is jy ons almal se . . . wel, Chris se familie ook,” sê hy en vat die mandjie by haar.

      Natalie trek aan haar hare wat oor haar skouer hang. Sy sien nie kans om saam met die man in ’n motor te klim nie. Regtig nie.

      “Kom,” sê hy en begin voordeur toe stap. “Hulle wag vir ons.”

      Neethling stap vinnig by die voordeur uit. Familie, hel. Wat met hom gebeur naby dié vroumens het niks met familie te doen nie. Allesbehalwe.

      Vandag het sy ’n gestreepte, lang romp aan. Hoewel dit haar lang bene wegsteek, weet hy presies hoe elke sentimeter van hulle lyk. Die groen toppie wat sy daarby aanhet, vou sag om haar bolyf en laat haar oë soos smaragde blink. Anders as gewoonlik, is haar hare vandag los, en sy vingers jeuk om daaraan te raak. Bliksem. Dit gaan ’n baie lang dag wees.

      Hy maak vir haar die motordeur oop, wag dat sy inklim en dis eers toe hy omstap na die bestuurderskant dat hy onthou hoe klein die ruimte in die sportmotor van hom is.

      Teen die tyd dat hy in die hoofpad glip, is hy deurtrek met haar geur. Hy draai sy venster halfpad oop, maar dit help nie. Hy trap die petrolpedaal in. Sy gryp die sitplek vas, en met ’n onderlangse swets lig hy weer sy voet.

      Dis doodstil die hele ent pad tot voor Chris en Amelie se huis, maar dis asof hulle op ’n ander vlak kommunikeer. Hy weet sy is net so ongemaklik soos hy; hy weet sy is onrustig oor wat sy voel; hy is bewus van elke asemteug dat sy neem, elke beweging wat sy maak. Teen die tyd dat hulle stilhou, is sy enigste drang om haar nader te trek, sy vingers deur haar hare te trek en te proe of sy so soet proe soos wat hy dink, of haar lippe so sag is soos wat hulle lyk . . .

      Natalie spring vinnig uit en stap aan voordeur toe nog voordat hy sy hande van die stuurwiel afhaal. Hy staar haar agterna en skud sy kop terwyl hy uitklim.

      Een ding is in elk geval nou kristalhelder – ’n jaar in ’n ander land het nie gehelp om hom van Natalie te laat vergeet nie. Dis tyd om ’n ander alternatief te oorweeg om haar uit sy gestel te kry.

      “Wat sukkel jy so om uit die motor te kom?” roep Chris van die voordeur af.

      Neethling glimlag, haal die wyn wat hy saamgebring het uit en stap nader. Dis lekker om weer by sy mense te wees. Hy en Chris het nog altyd goed oor die weg gekom, en hy het hulle gereelde kuiers gemis.

      Hy en Chris klop mekaar se skouers en stap geselsend deur die huis tot aan die agterkant waar Amelie se tafel onder die groot pekanneutboom staan. Die res van hulle gesin is al daar en die twee seuntjies van sy suster René en haar man, Neil, is al moeg gespeel en het klaar elk ’n vuil streep oor die wang.

      Sy oë soek na Natalie nog voordat hy weet wat hy gaan doen. Sy en Amelie staan eenkant en gesels. Amelie se oë is wyd oopgerek en sy hou haar een hand teen haar hart. Natalie praat en beduie opgewonde. Nicola se kamera klik-klik vrolik sover soos wat sy beweeg.

      Vir die eerste keer onthou hy wat Natalie vanoggend gesê het toe hy in haar kombuis stap. Iets van iemand wat by haar opgedaag het, as hy reg onthou. Dis duidelik sy is baie opgewonde oor wie dit ook al was.

      “Neethling!” Sy ma staan op om hom te groet. “Dis lekker om te weet jy is weer naby aan ons. Gister se kuiertjie was so vinnig, ek het nog nie kans gehad om jou uit te vra nie. Kom sit hier by jou ma en vertel.”

      Natalie sien uit die hoek van haar oog hoe Neethling langs sy ma gaan sit en slaak ’n sug van verligting. Sy moet nou net seker maak sy kry ’n stoel ver van hom af, anders gaan sy nie deur die dag kom nie. Die pad na Chris en Amelie se huis was nog nooit so lank nie.

      Sy was die hele tyd oorbewus van die groot man langs haar, en elke keer wat hy die ratte verwissel het, het sy vingers so net-net aan haar geraak. En selfs net daardie ligte aanrakings was genoeg om haar kortasem te maak.

      “Natalie?” vra Amelie. “Jy het in die middel van ’n sin ophou praat. Kom, stap saam met my kombuis toe, ek wil die slaai gaan haal. Die man wat by jou aangekom het, sê hy is jou broer? Maar hoe is dit moontlik? Hoekom het jy nog nooit van hom gehoor nie?

Скачать книгу