Brandwaterkom. Alexander Strachan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brandwaterkom - Alexander Strachan страница 16

Brandwaterkom - Alexander Strachan

Скачать книгу

was so reg in die kol, besluit die burgers. Die eerste probleem lê reeds voor die hand. Diegene wat lanklaas in die saal was, gaan kla dadelik by oom Martiens Prens dat hulle blikners gery is. Prinsloo slaag sy eerste toets met vlieënde vaandels.

      “Halfkrone,” druk hy sy vinger reg op die probleem.

      Plat groen blikke Zam-Buk word dadelik te voorskyn gehaal en die deurgeskaafde vel word twee keer per dag met samboksalf gedokter. Die broeke skaaf en die manne loop wydsbeen met die troos dat hulle net ’n bietjie rus van die saals benodig.

      Marthinus Prinsloo is omsigtig in sy optrede; hy laat hom ook glad nie deur die oorlog aanjaag nie. Diegene wat kriewelrig raak dat die Britte die beste posisies in Natal gaan inneem, maan hy tot bedaring.

      “Die oorlog gaan vir g’n niemand weghardloop nie.”

      Groot opgewondenheid heers terwyl die manne van die verskillende veldkornetskappe mekaar begin ontmoet. Hulle kamp kort entjies uitmekaar. Gou begin die braaivleisvure trek en daar word gulhartig en skertsend oor en weer genooi. Die atmosfeer is amper feestelik. Binne die grense van die Vrystaat is die oorlog nog glad nie ’n direkte bedreiging nie.

      In die oorstaantyd langs Platberg, terwyl Prinsloo hom voorberei om die Engelse se opmars in Natal te gaan stuit, verstel die burgers vir oulaas aan hul stiegrieme, geweerbande en buikgorde.

      Strykdeur voel hulle die opgewondenheid. Net soos in Pretoria waar die jonger burgers enkele dae gelede hul afwagting vir hul eerste treinrit kwalik kon verberg. Die Transvalers volg ’n ander roete Natal toe – oor Volksrust en Newcastle. Niemand weet presies waar nie, maar iewers onder die Drakensberge sal die magte van die twee Boererepublieke wel met mekaar verenig.

      “Wat hoor ons nou van hierdie treinding?” stook ’n paar Vrystaters die vuur. “Hoe werk dit dan só dat ons die hele pad te perd moet front toe, maar die Transvalers ry ewe deftig met die trein?”

      Die twee magte is nog redelik onbekend met mekaar. Nou bring die gedagte aan bevoordeling klaar ’n onsekerheid oor hoe hulle vorentoe gaan saamwerk. Die Transvaalse generaals Piet Joubert en Louis Botha is tog maar net vae name wat die Vrystaters hier en daar in gesprekke hoor opduik het.

      Langs Platberg verskyn die voggies van nêrens en die een streek wil die ander die loef afsteek met hulle sêgoed.

      “Laat hy val waar hy wil. Gesondheid in die rondheid, as ’n mol in sy gat krap, kom daar grond uit!”

      Oor perde en nooiens word daar gespog en gekorswel oor die blikners en wie nou eintlik sy sit in die saal ken. Grappe oor danspartye, boeresport en hoenderhaanskop.

      Veral die Fouriesburgmanne is besonder glad met die mond. In die Brandwaterkom praat hulle mos ’n taal van hul eige. En hier is die kans om te wys dat daar in die bergkom nog altoos heelwat meer gebeur as wat mense van buite hoegenaamd ’n spesmaas het.

      Nee, gewikkel word daar gewikkel in die kom. Al van oudsher af. Die Fouriesburgers is mos nie verniet met die martini-henry-koeël in die maag gebore nie. Alles het begint toe ’n arts en sy vrind vammelewe op ekspedisie in die bergkom probleme met hulle perde gekry het.

      Hulle word toe gedwing om by ’n afgeleë plaashuis aan te doen. Daar aangekom, verneem hulle die vrou is ernstig bekwaald. Die arts stel snel vas dat die probleem knoop in die derm is. “Net ’n operasie kan straks haar lewe red,” stel hy dit aan haar man. Maar dié is steeks. Skouerophalend is hulle toe daar vort, wel wetende dat die vrou nie ’n kans op oorlewing had nie.

      Ná verloop van ’n geruime tyd kom hulle op hul terugtog weer by die plaas langs, net om tot hul verbasing te hoor dat die vrou blakend gesond en aan die gang is. Uit die veld geslaan, maar tog nuuskierig, wil die arts weet hoe hulle die probleem dan opgelos het.

      “Nou laat ek julle dan maar wys.”

      Hierop gaan haal die boer sy martini-henry in die huis. Hy wys die arts een van die patrone en draai die swaar loodpunt uit. Tot die arts se verbasing en ontsteltenis moet hy verneem dat die vrou so ’n swaar ronde loodpunt moes insluk en dat dit haar gesond gemaak het.

      Nie lank nie, of daar word nóg kontreistories verhaal. Met die blikbeker in die hand neig die vertellings later eenstrook in dieselfde rigting: poetse gebak en stelle met Bacchus afgetrap. Hoe later die aand, hoe snaakser die stories. Elke streek het om die vuur iets kwyt te raak, maar dis steeds die Fouriesburgmanne – hulle bron van vertellings blyk haas onuitputlik te wees.

      Nog voor die een storie behoorlik sy lê gekry het, word die volgende een opgediep. Toe onlangse insidente later yl raak, word daar al hoe verder in die verlede gedelf. Nou ontgeld die stambroers Fourie dit.

      “Slapenstyd!” word hulle gemaan.

      Van die ouer burgers wat kapot raak, gaan kry hul lê ’n entjie verder weg teen die saalsakke. Maar steeds kom die stories uit die donker na hulle toe aangedryf. Aan so ’n jolige klomp kuieraars is daar nie salf te smeer nie. Teen wil en dank moet hulle maar saamluister.

      Gunter se tyd was oom Pieter Fourie van Tierhoek se seuns mos al mooi opgeskote toe hy enige dae buite die bergkom gaan verwyl. Met die kat vort, was die muis baas. Net daar gaan verkwansel hulle sy blou merrie by die Jood se winkel vir ’n paar bottels drank en twee dae lank is hulle helemal onkapabel.

      “Waar’s my blou merrie?” wil die vader met sy terugkeer weet. Die seuns skud hul kop in ongeloof; die merrie is nêrens op die werf te siene nie. “Dan moet julle haar nou in die veld loop soek.”

      Heelwat later die middag kom die seuns terug. “Ons het haar geraamte bo in die berg gekry – ’n tier het haar opgevreet.” Oom Pieter Fourie berus hom hierin. Maar net toe sy seuns gerus raak, kom die Jood se twee knegte ’n week later met die blou merrie op Tierpoort aan.

      En ’n anner oom, ook ’n seun van die ou stamvader Fourie, van die plaas Molaposdraai, koop eendag ’n halfaamvaatjie jenewer by die smous se waentjie. Onderwyl hulle die transaksie in die huis beklink, rol een van die Fourie-broers die vaatjie sonder ’n hik of ’n kik in ’n nabygeleë dammetjie in.

      “Skelmstreek!” beskuldig die boer en die smous mekaar nou oor en weer. Op die ou einde kry hulle dit reg om die saak te skik. Die boer koop toe weer ’n vaatjie, maar teen halfprys; en albei is tevrede.

      ’n Jaar later kom die broer wat die vaatjie in die dam gerol het, erg lus vir ’n sopie, weer daar aan. Maar die halfaam jenewer is ondertussen uitgedrink. Sy lus is egter so erg dat hy maar met die storie van die verdwene vaatjie vorendag kom. Eers trag hulle dit met stokke uit die dam te hark, maar rig niks uit nie. Mettertyd raak hulle so dorstig vir die verkoelde vaatjie dat hulle grawe gaat haal, ’n sloot in die wal grou en die dam se water laat leegloop.

      Ook oom Abraham Fourie – in die omgang bekend as oom Aap – het ’n stelletjie met drank afgetrap. As hy op besigheid was, was dit hoeka sy gewoonte om met ’n bottel brandewyn in sy saalsak na sy plaas toe terug te keer. Onder ’n rantjie op die plaas Welvanpas, het oom Aap dan afgeklim, met sy bekertjie water uit die fonteintjie geskep en vir hom ’n behoorlike dop geskink.

      Oom Spierwit de Jager het sy gewoonte al goed geken en hom een dag in die rantjie gaan voorsit. Net toe oom Aap die beker na sy mond lig, roep hy met ’n diep stem “Abraham!” uit, waarop oom Aap die beker vinnig laat sak en rondkyk. Toe hy niks gewaar nie, lig hy weer die beker, en vir die tweede maal “Abraham!” Weer die beker laat sak en rondkyk. Toe hy sy naam vir die derde maal hoor weerklink, sê oom Aap, “Abraham se moer!” en slaan die dop weg.

      Kort

Скачать книгу