My redder, my beminde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу My redder, my beminde - Malene Breytenbach страница 4

My redder, my beminde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

Cindy Smith is die hoof van ontvangs.

      “Die personeel is almal bekwaam, hoor, en met soveel Suid-Afrikaners daar sal jy sommer tuis voel.”

      Sy kyk oorstelp na hom. “Baie dankie vir die aanbod, dokter Beresford. Ek neem dit met graagte en groot dankbaarheid aan.”

      James moet die begeerte onderdruk om haar hand te vat en haar te troos en te vertel dat hy haar sal heelmaak; dat hy haar wil beskerm. Juis daarom sal hy op sy hoede moet wees. Sal hy koel en professioneel moet optree.

      “As ek na jou kliniek kom, moet julle asseblief die pers en ongewenste besoekers van my af weghou,” sê sy in haar soet stem.

      “Ons doen dit beslis. Bekende mense kom na ons toe en hulle wil gewoonlik privaatheid hê.”

      “Dan is ek bly.”

      Lang wimpers sak oor die grys oë. Hy kyk gefassineer daarna. Hoe die wimpers skaduwees soos halwe sterre op die bleek wange gooi. Saal hy nou vir hom ’n mal perd op deur haar te laat opneem? Maar hy kan tog nie anders nie. Hy voel skuldig omdat hy deels die oorsaak van haar beserings is.

      “Goed, ons het nou kennis gemaak. Ek sien jou weer wanneer jy by Rigby aanmeld.” Saaklik, professioneel soos dit hoort.

      Sy kyk op, in sy siel in. Hy groet vinnig en loop.

      Adela se ouers en broer is baie bly toe hulle van James Beresford se aanbod hoor. Vernon bel hom om dankie te sê. Hulle kry egter nie kans om hom te ontmoet voordat hulle moet terugkeer Suid-Afrika toe nie.

      Gary kom slegs een keer weer vlugtig kuier voordat hy ontslaan word. Vriende uit die film- en toneelbedryf kom kuier, maar die besoeke raak al minder, want hulle lei almal besige lewes. Adela weier om die lastige verslaggewers te sien wat met haar wil praat.

      Heeltyd dink sy aan James Beresford. Vernon het hom “’n jintelman en ’n Samaritaan” genoem.

      Haar agent, Milly Stewart, doen die moeite om soveel moontlik te kom kuier, al is sy hoe besig. Sy is ’n ware steunpilaar, en haar gevatheid, haar humor en lekker skinderstories oor die bedryf beur Adela telkens aansienlik op.

      “Die première van Pride and Prejudice is geskeduleer vir oor twee maande in Londen,” vertel sy toe sy kom kuier die middag net voordat Adela ontslaan kan word. “Gaan jy dit bywoon? Ons sal sorg dat jy vreeslik mooi lyk. Almal se harte gaan bloei wanneer ek jou in ’n rolstoel instoot. Hulle sal jou net nog meer bewonder.”

      “Ek weet nie of ek kans sien om dit by te woon nie, Milly.” Die wonddekking is verwyder, en Adela vat liggies aan haar litteken. Dit voel opgehewe onder haar sensitiewe vingerpunte. Sy dink gedurig daaraan. Daaraan en aan dokter Beresford. Die twee is nou met mekaar verbind.

      Milly kyk haar skewekop aan met simpatieke sjokoladebruin oë. “Ons kyk hoe voel jy oor twee maande. Dalk is daar soveel verbetering dat jy nie sal omgee om dit by te woon nie.”

      “Goed, ek sal dit oorweeg, maar ek belowe niks. Terloops, jy lyk vandag weer oulik.” Adela glimlag vir Milly in haar kort pers-en-rooi rompie, rooi toppie en pers steweltjies oor gestreepte wit-en-swart kouse. Haar wit gebleikte hare staan stekelrig orent en sy dra silweroorringe en bypassende armbande. Die effek is aweregs, soos ’n rebelse tiener wat cool wil lyk, maar Milly is wat hulle in die bedryf noem “well-connected”, ’n werkesel en ’n organiseerder sonder weerga. Adela het lankal besef dat Milly nie onderskat moet word nie.

      Sy lyk miskien nie formidabel nie, maar sy is dit gewis.

      Milly grinnik. “Ag, dankie, Adela. Ek probeer tog so hard, maar ’n skoonheid soos jy sal ek nooit wees nie, al kry ek ook ’n nose job en ’n boob job, ’n bum lift, en ’n veloorplanting . . .”

      “Maar kyk net hoe lyk ek nou!”

      Milly se glimlag verdwyn. ’n Frons verskyn tussen haar geplukte wenkbroue. “Weet jy wat? Jy het nog alles: die figuur, die hare, die oë, die gesig. Dis net daardie streep op jou wang wat moet vervaag. Ek is seker daardie plastiese chirurg gaan dit wegtoor. Glo net.”

      Adela sug en kry opnuut skaam. “Ek moet ophou om myself jammer te kry. Ek belowe ek sal nie weer daaroor kerm nie.”

      “Môre word jy ontslaan. Dan neem ek jou in ’n rolstoel na daardie chirurg, en die proses begin. Jy sal sien. Dankie tog dat dit hý is wat Gary omgery het en nie sommer ’n boer of ambagsman nie. Hy het boonop nog ’n landgoed met perde ook. Ek het die plek gegoogle en dit is imposant. Daar kan jy in ’n luukse omgewing herstel.”

      3

      Milly het ’n bussie en twee assistente gereël om Adela na Rigby Clinic te neem. Sy sorg self vir die administrasie van die ontslag. Al wat Adela hoef te doen is om mooi te glimlag vir al die belangstellendes en nuuskieriges, en vir die hospitaalpersoneel wat haar afsien terwyl die ordonnans haar rolstoel uitstoot na waar die bussie geparkeer staan.

      Adela wuif, groet, sê dankie en glimlag, maar is deurentyd ongemaklik bewus van haar toegeplakte wang en die geklik en flitse van kameras.

      Daar is verskeie verslaggewers, en sy ys om te dink aan foto’s met opskrifte van die arme aktrise, die opkomende ster, wat soos ’n vertrapte insek uit die hospitaal kom en nou die wêreld braaf in die gesig moet kyk.

      Gelukkig is Rigby nie ver nie, en sal hulle redelik gou daar wees.

      Milly kom buk oor haar toe die rolstoel langs die bussie gestoot is en Adela ingelaai moet word. “Die paparazzi sal ons seker volg, maar by Rigby word hulle toegang geweier,” fluister sy. “Byt net vas.”

      Die ordonnans en die twee helpers wat Milly gekry het, sterk jong manne wat vir ProFilms werk, tel Adela in haar rolstoel in die voertuig. Sy is verlig toe die deur toeslaan en die nuuskieriges van haar skei. Almal was baie goed en gaaf by die hospitaal, en sy waardeer die meelewing regtig. Die nuuskierigheid van die publiek is egter iets waarmee sy noodwendig moet saamlewe. Dit kan nogal uitmergelend raak. Mense let op na elke trek op haar gesig en elke gebaar. Sy het haar privaatheid lank gelede reeds ingeboet toe sy ’n aktrise geword het.

      Terwyl hulle na Rigby ry, volg twee fotograwe op motorfietse. By Rigby se yslike ysterhekke, tussen hoë klipmure vir veiligheid en privaatheid, is daar hekwagte in uniforms. Die naam Rigby Clinic is opvallend groot op die hekke aangebring. Die wagte laat die bussie deur. Adela sien ’n prominente kennisgewingbord waarop daar staan dat toegang vir almal behalwe bona fide-besoekers, werknemers en pasiënte verbode is en dat oortreders streng vervolg sal word. Sy kyk om en sien deur die venster hoe die wagte toegang aan die fotograwe weier en hoe hulle stry.

      Milly kyk in die truspieël na die fotograwe. “Sien jy, hier is jy veilig. Ons moet net hoop niemand kry dit reg om oor die muur te klim en jou te bekruip nie.”

      “Ag, so beroemd en gesog is ek nou nog nie,” sê Adela.

      Milly kyk verbaas na haar. “Dis eenvoudig nie waar nie. Jy maak vinnig opgang en word een van ons bekendste aktrises.”

      Dat Milly so in haar en haar blink toekoms glo, was nog altyd vir Adela inspirerend en bemoedigend. Milly troos en onderskraag haar soos die liefdevolste suster denkbaar. Ter wille van Milly en haar liefdevolle toewyding gaan sy probeer positief wees. Sy sal baie tyd hê om oor haar lewe en toekoms te dink.

      “Jy is lief, en ek waardeer alles wat jy vir my doen,” sê sy opreg.

      Milly

Скачать книгу