Recce. Koos Stadler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница

Recce - Koos Stadler

Скачать книгу

on>

      

      Koos Stadler

Recce%20titel.jpg

      Kleinspan-operasies agter

      vyandelike linies

      Tafelberg

      Oor die uitleg

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Recce mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

      Opgedra aan my pa, Koos,

      wat ’n sin vir avontuur in my gekweek het, en

      aan my geliefde vrou, Karien,

      wat geen ander keuses gehad het as om elke

      krans saam met my uit te klouter nie.

      Skrywersnota

      EK HET HIERDIE BOEK geskryf om iets weer te gee van die wêreld waarin ek langer as tien jaar van my 24 jaar lange loopbaan in die Spesiale Magte geleef het – die relatief onbekende wêreld van die Kleinspan-operateur. Ek het daardie tien jaar in verkenning gespesialiseer, dit geleef, geëet en geslaap.

      Die ervaring wat ek tussen November 1978 en Desember 1981 in die verkenningsvleuel van 31 Bataljon (’n Boesmaneenheid in die destydse Caprivi, vandag die Zambezistreek) opgedoen het, het my karakter gevorm en my voorberei vir ’n loopbaan by 5 Verkenningsregiment. Daar het ek van 1984 tot 1989 as Kleinspanoperateur gedien. My latere loopbaan, sowel in die Spesiale Magte as elders, is gegrond op die streng kode en beginsels wat oor daardie tydperk gevestig is.

      Deur die jare het ek ’n passie vir die kuns van verkenning ontwikkel. By 31 Bataljon se verkenningsvleuel het ek met die geheimenisse van taktiese verkenning kennis gemaak. Daarna het ek die keuringproses vir die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte ondergaan. Toe kon ek uiteindelik my lewensdroom vervul om deel te word van Kleinspanne, oftewel die strategiese verken­nings­vermoë van die Verkenningsregimente, alombekend as die Recces. Dit is miskien nie algemeen bekend nie dat daar verskillende Recce-eenhede was, elk met ’n toegekende spesialis­veld. Min mense was ook bewus van die bestaan van die hoogs gespesialiseerde Kleinspanne en die buitengewone rol wat hulle in die Grensoorlog gespeel het. Destyds was daar wel talle wan­opvattinge oor die Spesiale Magte en het etlike gekke, opgemaakte stories oor die Recces die ronde gedoen.

      Hierdie boek is oor die bestek van twee dekades geskryf. Om so ’n akkurate prentjie as moontlik te skets, moes ek staatmaak op aantekeninge wat ek oor jare bygehou het, op my geheue, kollegas se herinneringe en beperkte dokumentasie. Deur my storie te vertel, hoop ek om lig te werp op sowel die konsep as die vermoëns van die spesialisverkenningspanne van die Spesiale Magte. Die boek probeer nie om ’n volledige geskiedenis van Kleinspanne te verskaf of om die fases te beskryf waardeur hierdie vermoë oor die jare ontwikkel is nie.

      Omdat dit ’n persoonlike verhaal is, kan ek slegs erkenning gee aan individue saam met wie ek ontplooi het. Dit is onmoontlik om die name van al die operateurs te noem wat met spesialisverkenning gemoeid was, maar ek gee graag erkenning aan die vaders van Kleinspanne in Suid-Afrika, individue soos Koos Moorcroft, Jack Greeff, Tony Vieira en Sam Fourie. Manne soos Homen de Gouveia en Justin Vermaak het uitstekende werk as Kleinspan-operateurs by 1 Verkenningsregiment gedoen. As ek enige Spesiale Magte-operateur uitgelaat het wat in sy loopbaan met verkenning gemoeid was, is dit bloot omdat ek nie die voorreg gehad het om saam met daardie persoon te ontplooi nie.

      Belangriker nog, omdat daar nog altyd ’n mate van professio­nele jaloesie tussen Kleinspanne en die offensiewe Spesmagte-­kommando’s was, wil ek dit onomwonde stel dat ek nog nooit aan hul vermoëns getwyfel het nie. Ek ontken ook nie hul uitsonderlike vernuf en uitmuntende prestasies in die bos nie. Inteendeel, ek was nog altyd beïndruk deur die vlak van professionaliteit wat talle Spesiale Magte-soldate openbaar het.

      Laastens is ek dankbaar dat ek iets van die lekkerkry en die swaarkry wat ek met my kollegas beleef het, kan deel. Ek is trots daarop om die unieke kode waarvolgens ons by 31 Bataljon se verkenningsvleuel en 54 Kommando geleef het, sowel as die band van wedersydse respek wat ons aan mekaar gebind het, in herinnering te roep.

      KOOS STADLER

      DEEL 1

      Durf en Daad

      ~

      “We fear naught but God”

      – 5 Verkenningsregiment se leuse as deel van die eenheid se erekode

      1

      Teiken

      GERUISLOOS en met berekende, stadige bewegings laat ek die rugsak van my rug glip en haal die eerste lading en twee buise met gom uit. Met geoefende vingers maak ek die gespes van die ander sakkies los en rangskik die res van die ladings só dat ek hulle maklik kan bykom. ’n Onverwagse kalmte kom oor my; ek is gereed vir die taak wat voorlê.

      Die vrees van voorheen is weg. Dit het plek gemaak vir ’n koue vasberadenheid. Diep binne my weet ek dat ek goed voor­bereid is en dat daar té veel op die spel is om nou te faal.

      Ek sit die sak weer op my rug en hang die AMD651 aan sy dubbel-draagband in die middel van my rug sodat dit nie my bewegings belemmer nie. Toe begin ek die MiG-21 bekruip, my pistool met knaldemper gespan en gereed in my regterhand, die lading in my linkerhand en my nagsigbril op my bors.

      Tien meter van die vliegtuig stop ek om deur die nagsigbril te kyk. Dit is stikdonker, soos ons gehoop het, maar dit verhinder ook dat ek onder die vliegtuig se romp kan sien. Selfs nie eens met die hulp van my flitsie se infrarooi ligstraal kan die nagsigbril die stikdonker kol onder die groot vliegtuig deur­dring nie.

      Om my is dit doodstil. Ek besef dat ek laer sal moet sak om beter te kan sien. Stadig en stil beweeg ek vorentoe om in die swart skaduwee van die vliegtuig te kom. Van daar behoort ek die romp beter teen die effens ligter agtergrond van die nag­hemel te kan sien. By die vlerk buk ek af om onder in te beweeg ...

      Toe, uit die stikdonker onder die vliegtuig, kraak ’n stem deur die nagstilte.

      “Wie’s jy?”

      Die stem is aarselend, asof deur vrees gedemp. Dan sterker, meer uitdagend:

      “Wie is jy?”

      En skaars drie meter van my klap die sluitstuk van ’n Kalash­nikov wat gespan word. Die geluid – vir my al oorbekend – is soos ’n geweerskoot in die nag. My ergste vrees het pas waar geword.

      Jare lank was dít my wêreld, die wêreld van die spesialisverken­ningspanne, oftewel Kleinspanne.

      Ek was ’n soldaat vir die grootste deel van my volwasse lewe. Wanneer ek vandag terugkyk, besef ek ek was bestem om ’n lid van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte, beter bekend as die Recces, te word – en om uiteindelik by die elite-Kleinspan-­groepering aan te sluit. Van my kinderdae af, toe ek kleinwild in die duine van die Kalahari bekruip het tot my eerste kennis­making met taktiese verkenning by 31 Bataljon se verkennings­vleuel, het ek geweet verkenning is die ding wat ek regtig wou doen.

Скачать книгу