Recce. Koos Stadler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница 2

Recce - Koos Stadler

Скачать книгу

agter vyandelike linies in die suide van Zambië en Angola bestee. Deur voortdurend op patrollie te wees en guerrillabasisse te bekruip, het ek my vermoëns in die bos geslyp totdat dit tweede natuur geword het. Daarna het ek die Spesiale Magte-keuring voltooi en my lewenslange droom verwesenlik om deel van hierdie elitegroep soldate te word. Steeds het ek egter bly hunker, want dit was nog nie my eindbestemming nie. ’n Volle jaar lank het ek met my weermagbase geworstel om my toe te laat om by die spesialisverkenningspanne – wat toe by 5 Verkenningsregiment op Phalaborwa ge­stasioneer was – aan te sluit. Uiteindelik het dit gebeur en het ek deur 5 Recce se hekke gestap en deel geword van Kleinspanne.

      Tog, ondanks die Honoris Crux op my bors en ’n hele reeks ander medaljes en aanprysings, was ek die teenpool van die stereotipe Spesiale Magte-held.

      Ek was al tot die dood toe bang. Ek het al meer kere van lewens­gevaarlike situasies af weggehardloop as wat ek kan ont­hou – en beslis meer as wat ek openlik sal wil erken. Iewers in my veelbesproke verkenningsloopbaan het weghardloop as ’t ware my voltydse tydverdryf geword. Ek het daarin uitgeblink.

      Maar, met die genade van bo, het ek weldra geleer om my vrees te oorwin en sou ek altyd terugkruip – dikwels in ’n heel letterlike sin – om my opdrag te voltooi.

      2

      ’n Jong avonturier

      EK IS OP UPINGTON GEBORE as die seun van ’n onderwyser, maar het toe ’n predikantskind geword nadat my pa op die rype ouderdom van 44 besluit het om sewe jaar lank teologie aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Ek en my twee­lingsuster, die jongste van ons ses kinders, was nog klein toe die gesin sak en pak Stellenbosch toe verhuis het.

      My wonderlike, gelukkige kinderjare het ek grotendeels aan my ouers te danke. My pa was ’n jagter en avonturier. Ek kan maklik ’n prentjie van hom in sy toga op die preekstoel in herin­nering roep, maar sal hom altyd onthou as ’n man van die natuur.

      Hy het ’n intieme liefde en ’n passie vir die veld gehad, veral vir die Kalahari, oftewel die Kgalagadi, en hy het veral in die fauna en flora van die streek belanggestel. Hy was versot op die buitelewe en het as jagter nog in die tradisionele manier van doen geglo. Jag van voertuie af, wat in daardie tyd in die Kalahari gewild geraak het, was vir hom taboe. Hy sou sy prooi eerder probeer uitoorlê of die wild vir ure geduldig in die skadu van ’n N’Xoibos inwag.

      My pa was ook lief vir sy God. Ek het menige keer op hom afgekom waar hy agter ’n bossie in die veld sit en bid het.

      My ma was ’n pragtige mens, ’n stil en uiters lojale predi­kants­vrou. Maar op haar unieke, beskeie manier het sy die fondament van ons gesinslewe gevorm. Sy was my pa se inspirasie, het die nodige roetine en dissipline vir ons kinders verskaf en het troos uitgedeel aan elkeen wat dit nodig gehad het. Ek het my afkeer van groot groepe mense en raserige partytjies aan haar te danke. Ek kan ook met trots sê ek het die spesifieke temperament wat nodig is om ’n Kleinspan-operateur te word, van haar geëerf.

      As jong seun het ek gereeld saam met my pa, toe predikant van die NG gemeente op Ariamsvlei in Suidwes-Afrika (later Namibië), na bidure op plase gery. Dié uitstappies het altyd een of ander avontuur meegebring. Ons het dikwels op een van die plase gaan kamp of jag en uitdagings het gereeld oor ons pad gekom wat dit vir my in ’n onvergeetlike ervaring sou omskep.

      Op een so ’n uittog in die International – die agtsilinderbakkie wat die gemeente aan my pa gegee het – het die voertuig gebreek. Dit was op ’n verlate plaaspad hoog in die klipkoppe op die ruwe terrein noord van die Oranjerivier. My ma en sussie was saam met ons en daar was net een uitweg: Ek sou moes stap om hulp te kry terwyl my pa-hulle by die International agterbly. Pa het die roete aan my verduidelik. Dit was ’n kortpad tussen die heuwels deur en al met die valleie langs. Met ’n vermaning dat ek my kosbare water moes spaar en my rigting met behulp van die son moes hou, het my pa my laat gaan.

      Ná vier uur se loop het ek by die plaasopstal uitgekom. ’n Voer­tuig is gestuur om my pa-hulle te gaan haal. Boere van om­liggende plase het vinnig ’n herwinningspan saamgestel en die International binne ’n paar uur by die opstal gehad. Ek was uitgeput maar nogal in my skik, want ek het geweet my alleentog deur die berge sou heelwat respek by die omgewing se plaas­seuns afdwing.

      Dit was 1972 en ek was 12 jaar oud.

      Daardie jare op Ariamsvlei was hemels vir ’n kind van my ouderdom. Ons het voortdurend allerlei avonture op die plase rondom die dorp gehad waar ons in die sementdamme geswem en kleinwild bekruip het. Ek het op ’n baie jong ouderdom leer skiet en het byna elke dag met my windbuks duiwe gejag of skyf­geskiet. Dit was ’n heerlike, sorgvrye lewe.

      My kinderjare was in baie opsigte streng, maar ek het as ge­volg daarvan ongelooflik waardevolle lesse geleer.

      Een aand laat het die dorp se polisiesersant by die pastorie kom klop: Twee jong manne uit die gemeenskap was in ’n trompop-­botsing op ’n grondpad buite die dorp. Dit het later geblyk dat die een ’n vragmotor wou verbysteek, maar nie die aankomende voertuig in die vragmotor se stofwolk gesien het nie. Toe my pa en ma in die International op die toneel aankom, was al twee jong mans sterwend, maar daar was nog tyd vir my pa om vir hulle te bid.

      Die gemeenskap was geskok deur die nuus dat twee van sy belowende jong seuns deur die dood weggeraap is. Die een is op sy ouers se plaas begrawe, terwyl die ander in die dorp se begraafplaas ter ruste gelê sou word. Tot vandag toe weet ek nie of my pa gevoel het dat ons as gesin op ’n tasbare manier ons medelye moes betoon deur die graf te grawe en of hy my doelbewus ’n les wou leer nie. Dit het in elk geval my werk geword om dit te doen.

      Ek het nie teëgestribbel nie, want onbewustelik het ek waarskynlik my pa se gevoelens gedeel. Buitendien het die uitdaging van ’n bietjie fisieke uitputting my nog nooit afgeskrik nie. Ge­wapen met ’n pik, ’n graaf en ’n bottel water is ek by die begraaf­plaas buite die dorp afgelaai. Nadat my pa my instruksies gegee het oor die ligging en afmetings van die graf, is hy daar weg.

      Binne ’n skamele uur of twee was my hande vol blase en die graf beswaarlik ’n meter diep. Die klipharde aarde en die snik­hete son van die droogtegeteisterde Suidwes het begin om sy tol te eis. My pa het daar aangekom met nog water en my ma se tuisgemaakte gemmerbier. Toe hy my hande sien, is hy dadelik daar weg om Ballistol te gaan haal, ’n geweerolie wat as salf vir omtrent enige seerplek aangewend is. Die Ballistol het als in ’n glibberige gemors omskep – nie net die blase en stukkende plekke op my hande nie, maar ook die pik, graaf en my gesig soos ek die sweet probeer afvee het.

      Daardie nag het elke spier in my liggaam gepyn. Die son het my so rooi soos ’n tamatie gebrand en my hande was in ’n toestand. Ek was doodmoeg, maar vasberade om die volgende dag die volle ses voet diep te grawe. Die volgende oggend was my hande só geswel en vol blase dat ek nie eens ’n paplepel kon vashou nie, wat nog te sê ’n graaf. My ma het vasgeskop en geweier dat ek verder gaan grawe. Sy het my pa met allerhande soorte straf gedreig as hy dit sou waag om my weer na die begraafplaas te vat. Toe sy besef dat ek geensins van plan was om op te gee nie, het sy my hande in verbande toegedraai en my handskoene laat aantrek.

      Ek het die tweede dag nog ’n hele paar uur gegrawe. In die namiddag was die graf vier voet diep, maar my hande kon net nie meer die graaf vasvat nie. Die graf moes egter klaar, want die begrafnis was oor twee dae. Ek het toe besluit om dit een stukkie op ’n slag tot die volle diepte te grawe totdat die hele graf diep genoeg was.

      Hierdie ondervinding het my geleer dat waar ’n duidelike en eerbare doel ter sprake was, ek alles in die stryd moes werp om dit te bereik, ondanks swaarkry. My pa het daardie middag ’n ervare arbeider daar aangebring wat die oorblywende twee voet in minder as twee uur gegrawe het. Dit het my egter nie gepla nie, want

Скачать книгу