Minnaar uit die vreemde. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Minnaar uit die vreemde - Tryna du Toit страница 3

Minnaar uit die vreemde - Tryna du Toit

Скачать книгу

dadelik na haar toe bring.

      Sy het hom van die plaas af gejaag en hom gewaarsku om nie weer sy voete daar te sit nie of sy laat weet die polisie van die grondboontjie-oes. Sy kon sien hoe hy skrik en hy is inderhaas daar weg. Hy het dit daarna nie gewaag om naby Tiervlei te kom nie, maar sowel Betsie as Susan het hom af en toe op die dorp gesien. Dit was ’n verontrustende gedagte dat hy nog in die buurt is.

      Behalwe die plaas het sy nog ander probleme ook gehad. Haar twee mooi jong susters en hul toekoms het haar heelwat slapelose nagte besorg en sy was veral bekommerd oor Susan.

      Susan is aan die einde van haar eerste jaar op universiteit getroud met Anton Grové, ’n mediese student in sy vyfde jaar. Haar ma en stiefpa wou nie daarvan hoor nie, maar Susan was nie net mooi nie, sy was ook koppig en opstandig en van jongs af gewoond om haar sin in alles te kry.

      Hulle is getroud en Susan het gaan werk om hulle te help onderhou totdat Anton met sy studies klaar is.

      Haar egskeiding drie jaar later en die verlies van haar pasgebore baba het haar dieper geraak as wat Aletta ooit sou verwag het. Ná haar baba se dood was sy boonop ernstig siek met longontsteking en op haar dokter se advies is sy plaas toe om daar aan te sterk.

      Die Susan wat na Tiervlei teruggekeer het, was glad nie die stralende jong meisie wat vier jaar vantevore met soveel verwagting daar weg is nie. Dit was ’n stil, bleek, teruggetrokke Susan, verbitter en ongelukkig, sonder enige belangstelling in die lewe. Hulle ma se dood was vir haar opnuut ’n skok, maar sy was jonk en mooi en weer gesond, en soos die maande verbygegaan het, het Aletta weer iets van die ou sprankel in haar suster opgemerk.

      Ná haar stiefpa se dood het Susan begin planne maak om terug stad toe te gaan. Sy wou ’n model word, maar Aletta het haar gevra om tot die einde van die jaar op Tiervlei te bly, sodat hulle drie saam stad toe kon gaan. Tot haar verbasing het Susan ná ’n bietjie teëstribbeling ingewillig.

      Miskien was sy self bly oor die paar maande grasie, het Aletta gedink. Dit sal moed kos om terug te gaan stad toe waar sy weer al haar ou vriende sal sien en Anton en sy nuwe vrou dalk ook sal raakloop.

      Susan het intussen werk gekry by ’n bougenootskap in die dorp, maar sy was dikwels rusteloos en buierig en Aletta het gewonder wat die toekoms vir haar mooi jong suster inhou.

      Betsie was van jongs af ’n dromerige, teruggetrokke kind en ’n mens het nie altyd geweet wat in haar gedagtes omgaan nie. Sy is mooi, met haar rooibruin hare, sagte bruin oë en romerige vel, maar sy is begaafd ook, en het dit as vanselfsprekend aanvaar dat sy die volgende jaar universiteit toe sal gaan. En hoewel Aletta enigiets sou doen om Betsie te help, het sy werklik nie geweet waar die geld vandaan sou kom nie.

      Behalwe Susan en Betsie, moet sy ook aan haarself en haar eie toekoms dink. Sy wil natuurlik weer skoolhou, maar hoewel sy reeds maande vantevore om ’n pos in Pretoria aansoek gedoen het, het sy nog niks van die departement gehoor nie.

      Sy is ook bewus van Gawie Pretorius se toenemende belangstelling. As Gawie haar sou vra om met hom te trou, wat sal haar antwoord wees? Sy weet nie. Tyd genoeg om aan haar eie sake te dink as Frans Naudé terug is, besluit sy.

      By die stasie hoor sy dat die trein ’n verdere tien minute vertraag is. Sy gaan op een van die harde spoorwegbankies sit en haal Frans Naudé se brief uit haar sak. Sy is gretig om te sien wat hy skryf. In die maande wat verby is, het ’n interessante briefwisseling tussen hulle ontstaan. Ná die inhoud van haar stiefpa se testament bekend geword het, het Aletta aan Frans geskryf om hom meer besonderhede van sy oom se siekte en dood te gee. Hy het dadelik geantwoord en gevra dat sy hom meer van sy oom, Tiervlei en haarself en haar susters moet vertel. Sy was eensaam, daar was allerhande probleme wat sy graag met hom wou bespreek, en sy het gou teruggeskryf. Sy het hom van die boerdery vertel, van haar probleme met die plaasbestuurder en van die droogte. Geleidelik het die briewe meer persoonlik geword en het sy hom ook van haarself en haar susters vertel.

      Op sy beurt het Frans haar vertel van die lewe in die Amerikaanse stad waar hy navorsing doen, van sy werk, sy reise en die mense wat hy ontmoet. Hy het interessant en prikkelend geskryf en later het sy gretig begin uitsien na die blou lugposbriewe. Frans is nou dikwels in haar gedagtes, en die vooruitsig dat sy hom binnekort persoonlik sal ontmoet, maak haar vreemd opgewonde. Dat die werklikheid moontlik hemelsbreed gaan verskil van die man om wie sy allerhande drome weef, besef sy goed, maar tot tyd en wyl hy kom, sal sy maar ’n bietjie droom.

      Toe hulle ’n aanbod vir Tiervlei kry, het sy aan hom geskryf dat sy en haar susters gretig is om te verkoop en dat Gawie Pretorius dink dis ’n baie goeie aanbod. Sy was diep teleurgesteld toe hy weier – dit sou so ’n wonderlike oplossing vir hulle probleme gewees het. Sy het weer geskryf en Gawie het ook geskryf, maar Frans wou na geen argumente luister nie.

      Skielik haastig om te sien wat hy skryf, maak Aletta die getikte brief oop en lees:

      Liewe nig Aletta

      Dankie vir jou brief. Ek het al begin dink jy is kwaad vir my, dat jy glad nie meer gaan skryf nie!

      Jou briewe het die afgelope maande baie vir my beteken, nig! Ek verlang huis toe – drie jaar is lank om van jou land en jou mense weg te wees – en jou briewe was ’n riem onder die hart. Jy is verniet bang: Ek verseker jou ek sal nie ’n dag langer hier bly as wat nodig is nie.

      Ek is jammer jy en jou susters is teleurgesteld omdat ek nie wil toestem dat julle Tiervlei verkoop nie. Wat is die haas? Ja, ek weet jy sê jy het die geld nodig – vir Betsie se universiteit, om vir jou en Susan ’n woonstel in die stad te huur, maar ons het tog ooreengekom dat julle tot die einde van die jaar op Tiervlei bly, dus kan daardie dinge ’n bietjie wag. En ek het tog gesê dat as jy geld nodig het, jy ’n voorskot by die prokureur kan kry. Ek hoop jy het dit gedoen.

      Wees dus maar nog ’n klein bietjie geduldig. Sodra ek klaar is, kom ek huis toe en ek belowe jou, ek gaan net my ma groet, dan kom ek direk Tiervlei toe. Dan kan ons saam besluit of ons die grond wil verkoop of nie.

      Ek is jammer oor al die moeite wat jy met die plaasbestuurder gehad het, om van die skade nie te praat nie. Maar jy is gelukkig nou van hom ontslae en die nuwe bestuurder sal binnekort daar wees. Ek hoop hy is meer bevredigend.

      Hier in Amerika is dit herfs. Dis ’n wonderlike belewenis, die herfstyd hier. Die bome en bosse is ’n vlam van kleure. Jy moet self eendag kom kyk hoe mooi dit is.

      En by julle bly dit droog en warm en alles is vaal en verskroei. En as dit nie reën nie, kan julle nie ploeg nie en sal daar geen oes wees nie. Arme nig Aletta! Jy moet al die verantwoordelikheid dra, terwyl ek hier in die vreemde rondrinkink! (Jou fyn skimpe het my nie verbygegaan nie, soos jy sal opmerk, nig Aletta!) Toe maar, ek is een van die dae tuis, dan is jy van al die ergernis ontslae. Sterkte tot dan! Groete ook aan jou susters, en pas jou op.

      Onderaan is sy naam geteken, skaars leesbaar: Frans Naudé.

      Daar is ’n glimlaggie om haar mond toe sy die brief opvou en weer in die koevert steek.

      Skielik hoor sy die hees gefluit van die trein, en ’n paar oomblikke later stoom dit rammelend die stasie binne. Aletta staan eenkant en wag, om te kyk wie almal afklim. Sy het die man egter dadelik raakgesien: ’n lang, skralerige man van omtrent dertig, netjies maar onopsigtelik aangetrek in ’n grys broek en grys sportbaadjie. Sy stap na hom toe.

      “Goeiemôre,” groet sy saaklik. “Is jy miskien Jim Muller?”

      Die man kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan, dan knik hy. ’n Valerige man, dink sy, maar sy blougrys oë is helder en vol belangstelling. Hy lyk soos ’n man op wie

Скачать книгу