Chinchilla. Nanette van Rooyen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen страница
Chinchilla
Nanette van Rooyen
Human & Rousseau
Vir my ma, Albie Esterhuyse
There is a pleasure sure in being mad
which none but madmen know
– John Dryden, The Spanish Friar
1
Lea skuif die kantgordyn voor die kamervenster weg. Sy blaas op die ruit en kyk hoe die wasemkol stadig kleiner word.
Swakop se son word elke dag bleker op die mure. Daar is ’n mossige reuk aan hierdie huis. Martin se toe huis. Die weer beklem haar, sodat sy haar gesig styf teen die venster druk om die wolke daarbuite te sien.
Miskien moet sy uitgaan na die kaal witstinkhoute in die hoek van die tuin. Sy kan gaan kyk of daar nie dalk ’n verwarde botsel of twee aan die takke skuil nie. Iets wat die godsverlatenheid van die winterbome sal ophef.
“’n Kind het laas week deur my lyf geval,” sê sy hardop sodat die sin wasig teen die glas gaan lê. “Ek het hom verloor, hom kwytgeraak.” Soos een van Zacharias se wegvliegvalke oor die peperbome. Of soos die natpels-werpling van die chinchilla, maar met toe oë.
Sy gaan soek na lug. Toe sy die voordeur oopmaak, sien sy die sak slakke wat sy die vorige dag in die tuin bymekaar gemaak het. Daar lê hulle. In ’n Ziploc-plastieksakkie, afgesluit van suurstof. Sy buk af en volg met haar vinger die groen borrels wat aan die plastiekwand kleef. Barok-krulle slakstront.
Sy tel hulle op en gaan gooi hulle in die munisipale vullisblik agter die huis. Sy wil nie met die bewys van hul versmoring in die huis leef nie. Toe sy die vullisblik se deksel oplig, kom ’n trop skoolkinders op fietse by die huis verby. ’n Stofwolk van spoed en skel fietsklokkies. Die kabaal laat haar terug die huis in hardloop.
Lea gaan sit langs die telefoon en luister na haar raashart. Miskien moet sy die Duitse buurvrou bel om sommer te praat oor haar geraniums. Hoe om hulle gesond gepot te hou, hoe die son op hulle moet val. Of sommer om uit te vind waar presies die vrou vandaan kom. Miskien kan sy haar dan vertel van Sutherland.
Van die bondel kliphuise wat daar soos kuddediere bymekaar hou. Die stofstrate met bekende voetspore. Van die kerktoring wat as wagpos gedien het vir die Engelse in 1901. Hoe sy hulle by die naam ken aan die graffiti wat daar uitgekrap staan. God se fort, soos Zacharias dit noem.
Van Sutherland se helder sterre sal sy haar vertel. Die sterrewag, waar hulle ’n teleskoop gebou het waarmee ’n mens ’n kersvlam op die maan kan sien brand.
Haar dorp, waar die mense nog kerkklok lui as ’n kind gebore word. Waar Mirjam die sterwendes kalm sing en mooimaak vir die ander kant. Mirjam met die onpaar oë, en dan die een tussenin, waarmee sy vooruit kan kyk.
Sy sal die Duitse buurvrou vertel van Zacharias en sy valke, en van haar marmer-ma op die voetstuk in die sonkamer. Dan sal sy haar sê van die das uit die Andes – die chinchilla. Dat dít eintlik is waarmee sy haar wil besig hou, die teel en versorg van die chinchilla. Dat dít is waarmee sy goed is. Sy en Krisjan met die dik are op sy bruin hande.
So sal sy dan ook kans hê om te vertel hoe nutteloos en misplaas sy hier tussen die duine voel. Hier waar sy kom leef het met ’n man wat haar aanhou ter wille van sy liefde. ’n Man wat haar kom weglok het van die soutbos en ysterklip, die kareebos en die klipperige oop veld.
“Wat sal ek heeldag maak?” het sy hom gevra op pad hierheen.
“Skryf die storietjie klaar wat jou ma jou agtergelaat het.” Die diminutief, met opset direk in haar derms. Hy het haar kleretrommel met sy voet oor die drumpel gestoot, haar in sy arms opgetel en ingedra asof daar klarigheid was met alles.
Aan die begin was die skaapwagter en sy vrou tevrede. Soggens het sy saam met hom deur die veld geloop tot by die klein deurloop van die rivier. Dan het sy die fles oopgedraai en vir elkeen ’n koppie koffie geskink. Die skaapwagter het die broodjies met versigtige vingers uit die omhulsel gehaal en op die moeseliendoek uitgepak.
Sy het besef hoeveel sy reeds van haarself verloor het. Hoe maklik dit is om geheime weg te gee wanneer die lyf nog gul is en die hoop sonder grense.
Daardie aand het hy die laken oor haar lyf gladgestryk en gesê dat hy op nagdiens sou wees. Sy het die sleutels hoor klingel, al met die tuinpaadjie af tot in die garage. Die donker geroffel van die garagedeur. En toe die stilte.
Drie-uur die volgende oggend het hy dieselfde laken weer van haar afgeruk en sy merke op haar kom maak. Dis toe dat sy hom vir die eerste keer werklik geruik het.
Lea lig die gehoorbuis van die mik af en luister na die prrr-geluid totdat dit oorgaan in ’n lang fluit. Toe sit sy die foon neer en loop kamer toe.
Met een haal trek sy haar chinchilla-karos van die bed af. Sy gaan grawe agter in haar kas tot sy die molvelboekie raak vat, en draai die pels daarom voor sy dit in haar rugsak inprop. In haar trommel bondel sy haastig ’n paar stukke klere. Sy trap die deksel toe en gaan sit op die trommel om haar stewels op te ryg. Sy swets onder haar asem oor die ewige lang veters wat bly knoop om haar vingers.
Sy gaan haak haar velhoed agter die kamerdeur af en loop telefoon toe. Op die boodskapblok skryf sy vir Martin ’n nota:
Ek kom nie terug nie.
Sy bewe só dat sy drie keer moet skakel om die regte nommer vir ’n taxi te kry. Toe sy die deur agter haar sluit, staan sy met die sleutel in haar hand. Sal sy dit onder die matjie los of in die blombak by die voordeur? Toe lig sy haar arm en moer die sleutels oor die dooie grasperk tot waar dit in die welwitschia wegraak.
Sy hoef dit nooit weer te kry nie.
Nou nog net ’n laaste ding. Sy stap om die huis na haar kruietuin in die agterplaas. Tussen die laventel en roosmaryn buk sy en grawe met haar hande tot sy die bliktrommel onder haar naels voel. Sy woel die grond weg van die trommel en lig dit tot op haar dye. Binne-in is die drie kledingstukke van haar ma wat sy uitgekies het om saam te neem voor hulle uit Sutherland weg is. Dis die salmkleurige tafsyrok met goue embosseersels daarop, die wynrooi veloerrok met die lang klokmoue en die woudgroen cape wat tot op die grond hang. Terwyl sy die sand van haar hande afstof teen haar sye, onthou sy die aand van die wynrooi rok. Hy het haar op die jetty gekry waar sy na die volmaan gaan kyk het.
“Trek uit,” het hy deur sy tande agter haar gesis. Haar arm na agter gebuig sodat sy vooroor moes beur met haar voorkop teen die houtpaaltjie. Twee, drie keer het haar gesig die houtpaaltjie getref. Toe sy op hom gevloek het, het hy haar arm gelos en die ritssluiter met albei hande oopgeskeur tot onder op haar kruis. Toe sy later terug by die huis kom, het hy vir haar op die stoep ingewag met ’n warm handdoek. Van toe af het sy haar ma se klere in die trommel begrawe en hy het vir haar stapels rokke aangedra wat sy nooit gedra het nie.
Lea staan met die trommel in haar arms op en stap stadig om die koue huis met die wit mure. Toe sy die derde keer by die voordeur verbykom, hoor sy die taxi. Dit kom in ’n stofwolk voor die huis tot stilstand. Die masjien luier grof en raserig. Vanuit die venster bons popmusiek. In groot swart letters staan ’n telefoonnommer op al die deure. Daaronder is die taxi ’n skreeugeel, verlossend en onbesonne soos ’n botterblom in die lente.
2
Die