Chinchilla. Nanette van Rooyen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Chinchilla - Nanette van Rooyen страница 3
Buite knoop Lea haar jas toe en haak albei haar arms deur die rugsakbande sodat sy vry kan loop. Sy druk die hoed vaster op haar kop. Dis nog agt kilometer uit Bloutuin toe.
Verby die onderdorp hoor sy die kinders jil soos hulle agter draadwiele in die pad af hardloop. Drie seuns het die buurt se dunlyf-honde mal aan die blaf met ’n rammelende kiskar waarmee hulle heuwelaf jaag. Een sit met ’n flits voor op die kiskar. ’n Ander gil oopbek in haar rigting om uit die pad uit te bly. Hulle is traanoog van die koue, die hande wat aan die toustuur klou, is wit om die kneukels. “Starrag, man, Koesie, onse holle kom vol splinters orie klippe. Jissuuuus!”
Om lê die wa.
Kosie spring kortom en hol terug in die rigting van die gloeiende konkas voor die beseerdes uit die stof kan opbeur. Kry hulle hom nou in die hande, bliksem hulle hom dom.
Lea kyk die bolling kinders agterna. “Ek’t julle gemis!” skreeu sy. Regs van haar skrik ’n trop vaalpatryse op en skarrel in die pad af om weer onder ’n ander bos te gaan skuil. Dis my plek hierdie, dink sy en kyk op sterre toe. Met haar hakke kap sy die grond los sodat die stof kan terugsif op haar stewels. Sy weet dat sy die pad Bloutuin toe moet inloop, sodat die geur van kruibos op haar kan kom lê: soutbos, renosterbos, plakkie en boegoe.
Dit het te donker geword om die kraaitulp te kan sien, maar sy weet hulle staan daar. Soos ook die witbaard aan die klippe, die klipblom wat Krisjan vir haar kleintyd gekook het om okerverf van te maak. Hy’t haar toegelaat om ook sý gesig te verf. Albei moes Indiane wees; Zacharias was die afwesige cowboy. Die een uit wie se pad hulle moes bly.
Toe motorligte van die Beukesse se afdraaipad indraai, glip sy agter ’n struik in. Sy vroetel aan die silwergrys blare daarvan, oumansoutbos. Terwyl sy op haar hurke sit, voel sy hoe die waaie van haar bene jeuk van die sweet. Nog drie kilometer om te gaan. Sy haal haar hoed af en vryf die sweet uit haar haarwortels, skud haar hare los en bly sit met haar gesig op haar knieë tot die stof verbygetrek het, voor sy weer aanstap. Wat gaan sy vir Zacharias sê?
3
Toe Zacharias die laaste twee sakke korrelkos die skuur insleep, is die chinchilla-slagter besig om sy slaaprol uit te gooi vir die nag. Zacharias maak nie verskoning dat hy op die Portugees se slaapritueel inloop nie. As die man ná twee jaar nog steeds verkies om in die skuur te bly is dit sý saak.
Zacharias gooi die sakke met ’n plof teen die ander. Hy stof sy hande teen sy sye af en haak sy duime in die leerkruisbande oor sy bors. “Ons sal moet uitry vir voer.” Terwyl hy die voorraad voerpille takseer, vryf hy aan sy neusvleuels. ’n Bonkige neus waarvan die boog direk tussen sy oë begin. ’n Arendsneus met ’n Salvador Dali-snor wat grys na weerskante vlerk. Daar is grys stoppels op sy ken, en silwer vlekke in sy kort krulhare. Sy ore is vlesig en rooi beaar in die skulpe van saans se whisky.
“Hoe lyk jou dag môre, boet?”
“Ons kan maar gaan. Daar is ’n paar wat gereed is vir slag. Pelse lyk goed. Wyfies wat lank nie gegooi het nie en hier en daar ’n mannetjie met windbal.”
Bastos het in die tyd wat hy Zacharias met die chinchillas bystaan, geleer om ook staccato te praat. Hy draai sy lyf skrams in die ou man se rigting terwyl hy die lantern aansteek.
“Jy ken die das. Maak dan so,” aanvaar Zacharias die man se besluit.
Zacharias gooi sy oog oor die houtplatform wat Bastos vir homself in die hoek van die skuur opgerig het. Dit is ’n kniehoogte houteiland met ’n tweeplaatstoof, ’n waskom en ’n meter hoë yskassie daarop. Eenkant is die balebed waarop hy sy slaaprol oopgooi, daarnaas ’n lampetbeker en wasskottel op ’n tafeltjie. In die middel van die platform is ’n ovaal akkerhouttafel, waarop ’n draadkershouer staan, en twee helderkleurige stoele daaronder ingestoot.
Zacharias kyk hoe Bastos se skadu oor die chinchilla-hokke skuif toe hy die lantern gaan hang aan die kabel wat dwarsoor die hoek gespan is. Hy skat die Portugees so om en by veertig, maar dis moeilik om sy gesigslyne te lees onder die volbaard en snor. Sy hoed, wat aan ’n toutjie om sy nek na agter hang, wieg weg van sy skouers toe hy die lantern oplig. Zacharias wonder altyd hoekom die man dan nog ’n lap ook om sy kop het as hy al klaar hoed dra. Is mos om dubbeld gehoed te wees. ’n Man kan mos nie seerower en cowboy gelyk wees nie? Hy’t al vir Krisjan gevra na dié ding, maar Krisjan lag net hie-hiee en sê: “Nee, daai weet ek nie.”
“Het jy al kos gehad?” vra Zacharias op die ingewing van die oomblik. Hy is nie ’n man wat kuiermaats soek nie, dit het Bastos ook al met die tyd saam geleer. Maar hy hét tog nou die skilpadsop op die stoof. Te veel vir een, want ou Krisjan skud net sy kop en gril. “Is Suurpootjies wat jy so moor, Zacharias, ’n bedreigde spesie,” mor hy elke keer oor die skilpadsop. “My jirre tog, man,” keer Zacharias dan, “Karoo-skilpad is soos die klippe van die veld. Watse bedreigdheid is dié nou?”
“Bring jou kitaar saam,” nooi hy. Hy draai om en loop kromskouer weg sonder om te wag op die Portugees se antwoord.
Met die oopstoot van die hoofhuis se bodeur waai die reuk van skilpadbloed uit die sinkemmer teen Zacharias vas. Hy het net gewag tot Krisjan uit is en toe die els by die oë deurgehaak om die kop uit te trek sodat hy met ’n vinnige haal die nek kon afsny. Hulle toe so teen ’n hoek laat hang om in die emmer lekker skoon te bloei.
In die swartpot stoof ’n bos preie, twaalf wortels, ’n handvol pietersielie, vyf uie met ’n paar naeltjies in elkeen gedruk en ’n kop knoffel. Daarna het hy die skoon skilpaaie met handevol kruie op die kooksel gegooi en die pot met water gevul.
Dit was agt uur gelede.
Zacharias skink vir hom ’n glas whisky en skep die twee volgroeide skilpaddoppe met ’n soplepel uit die kastrol. Hy gooi dit in ’n enemmelskottel en giet koue water daaroor sodat hy die doppe met sy hande kan oopbreek. Die pote kom maklik los uit die karkas en met sy knipmes trek hy die losgekookte velle af. Ook dié van die koppe. Met die karapaks en onderdop los van mekaar, kan hy die sagte, fyn vleisies en vet daaruit loskrap. Die hele spul gooi hy weer terug in die kastrol, met drie repe suurlemoenskil daarby. Kort voor opdien, sal hy ’n glasie van die Madeira Port wat Bastos hier aangedra het, bygooi. “Nou kan die Portugees kom sing tot die sop reg is,” praat hy met homself.
4
By die motorhek gaan Lea staan. Die kombuisdeur is oop. ’n Kolom kerslig val buite op die vaal amandeldoppe wat die huis omring. Weerskante van die voordeur, wat permanent gegrendel is, staan die twee sipresse soos spits ruimtetuie wat sterre toe wil. Agter die opstal verby ’n ry sparre na weerskante om die skuur en lusernland van die hoofhuis te skei.
Langs die witgekalkte buitekamer aan die oorkant van die hoofhuis steek Zacharias se valkhok swart af. Die sifdeur daarvan, weet sy, is stewig gegrendel. Zacharias is heilig op sy valk.
Dat die ding nog nie gevrek het van die koue nie, kan sy nie verstaan nie. Hulle is mos nie soos die chinchilla wat nut het van hierdie tipe koue nie, maar Zacharias glo sy valk moet die lug voel soos dit is.
’n Stel leerjessies lê op die kosblok links van die vlieghok. Zacharias het dus nog nie vir sy valk kom nagsê nie, want op sy toerusting is hy pynlik.
Lea lig die draadring van die haak af en haal ’n paar keer diep asem. Ses keer, diep in en lank uit, het Krisjan haar die bang leer hanteer. Snags as sy met ’n nagmerrie na hom toe gehardloop het, het hy haar op sy breë vensterbank getel en ’n deken om haar lyf gedraai. Dan het hy sy gasstofie aangesteek en vir haar tee gemaak.