7 Dae. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 7 Dae - Deon Meyer страница 5
1 Timotheus 1:9: ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.
Spreuke 17:23: ’n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg.
Spreuke 21:15: As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly, en staan dié wat onreg doen, verskrik.
Met die derde het hy ’n nuwe aanslag:
Sent: Sunday 6 February. 22:47
Re: Hanneke Sloet – op julle gewete
Julle het drie weke om Hanneke Sloet se moordenaars te arresteer. Die proses om geregtigheid te laat seëvier het begin.
Ek het twee keer gewaarsku, maar julle het niks gedoen nie. Dit wat kom, is op julle en julle kommunistiese bedmaats se gewete, nie myne nie. Julle gee my nie keuse nie.
Daar sal reg geskied.
En dan, die tweede laaste een, gestuur op Sondag 13 Februarie, dertien dae gelede:
Elke ding het sy vaste tyd. Julle s’n is amper hier. Oor twee weke sal ek julle dwing om Hanneke Sloet se moordenaars te vang. Soos julle my nou dwing om reg te laat geskied.
Prediker 3: Elke ding het sy vaste tyd:
Vers 3: ’n tyd om ’n lewe te neem, ’n tyd om ’n lewe te red, ’n tyd om af te breek, ’n tyd om te bou.
Vers 8: ’n tyd vir oorlog, ’n tyd vir vrede.
Griessel sit die e-pos neer en rangskik al vyf langs mekaar, sy oë wat tussen hulle beweeg.
Dan lees hy hulle weer van voor af.
4
Toe hy klaar is, stut hy sy ken in sy hande en hy dink.
Die datums van die e-posse. Die pas het versnel, stelselmatig. Die eerste twee was ’n week uitmekaar. Toe ses dae. Toe vyf. ’n Baie vaste ritme. Behalwe die laaste een.
Omtrent almal in die laatnag gestuur.
In die eerste én tweede e-pos, die verwysing na “kommunis”. Enkelvoud. Toe word dit “moordenaars”. En “kommunistiese bedmaats”. Maar terug by die enkelvoud van “moordenaar” in die laaste een.
Die skielike sprong na die Bybelverse, die godsdienstige regverdiging, die momentum van ’n kruistog wat opbou. Maar in die laaste een is ’n sterker trant, meer selfvertroue. En doelgerigtheid. Skielik ’n man met ’n missie.
Hy kan sien waarom John Afrika en Zola Nyathi dink dit is ’n versteurde man wat hier skryf. Al die tekens is daar: Malles doen hul ding in die nag. En hulle raak ál dringender met verloop van tyd, hul kommunikasie meer gereeld. Hul bel, uitasem en anoniem, of skryf, onsamehangend, dikwels vol rassehaat of komplotvrees of oordeelsdagwaarskuwings van dis-die-gode-se-wraak-vir-’n-sondige-land.
Soos hierdie een.
Hulle teer gewoonlik op die media, bestudeer elke brokkie wat oor ’n saak verskyn, en reageer daarop, haal daaruit aan, borduur daarop voort.
Dié een doen dit nie.
Hulle gee hulself byna altyd ’n naam as hulle skryf, die een of ander mitologiese of sterreteken- of vreesinboesemende skuilnaam.
Nie dié een nie.
Dié een spring van die een brief na die ander rond in sy aanslag, dié een het skielik twee weke lank stilgebly voor die laaste e-pos. Wat hy in die dag gestuur het, ’n Saterdagmiddag, net ure voor hy skiet.
Dié een wat in die laaste e-pos direk verwys na ’n motief: Julle weet hoekom sy vermoor is.
Dié een het sy dreigement uitgevoer, hy het die een ding gedoen wat die SAPD se toorn sal laat ontvlam – hy’t ’n poliesman geskiet. En hy dreig om dit weer te doen.
Iewers is iets nie reg nie.
Hy plaas die e-posse een vir een terug in hul lêer en trek die lywige Sloet-dossier nader. Hy maak dit oop, hy wil van heel voor af begin, eers na die moordtoneel kyk, die foto’s, die forensiese verslag, die patoloog s’n …
Dan klop iemand aan sy deur, sag en apologeties.
Hy word weggeruk uit sy konsentrasie. “Kom in,” sê Griessel.
Brig. Musad Manie se bynaam in die DPMO is “Die Kameel”. Want “Musad”, het een van die Valke-speurders by ’n Moslem-vriend uitgevind, beteken “losgelate kameel” in Arabies. En toe die lang, skraal kol. Zola Nyathi as hoof van die Geweldsmisdaadgroep aangestel is – Nyathi met sy stadige en statige, doelbewuste, effe vooroor tred – is hy gou “Die Kameelperd” gedoop. Wat net so vinnig na “Die Giraffe” verander het omdat dit makliker sê, en omdat die kolonel in elk geval meestal Engels praat.
Dit is Die Giraffe wat nou inkom, sy kaalgeskeerde kop blinkend onder die fluoorligte van Griessel se kantoor.
“No, please, Bennie, don’t get up …” Hy stap tot by die lessenaar, plaas met sy slanke vingers ’n motorsleutel daarop.
“You can use the BMW.”
“Thank you, sir.”
“Bennie, you know we’re a family here.”
“Yes, sir.”
“You know that we approach investigations as one big team.”
“Yes, sir. I just want to study the docket first …”
“I understand that, Bennie. But when you’re ready, get the guys involved. I’ve already called Vaughn, he’s on standby …”
“Yes, sir.”
Nyathi tik met ’n vinger op die dossier, sy stem meteens sag en vertroulik. “Look,” sê hy. “You’re an old hand. I don’t have to spell it out for you …” Die kolonel huiwer, lig sy kop, kyk Griessel reguit in die oë. “You come talk to me, Bennie. Or to the Brig. You find any monkey business anywhere, you come to us …”
Griessel weet nie wat om te sê nie.
“Are you with me, Bennie?”
“Yes, sir,” sê hy in die hoop dat hy dit later sal kan ontsyfer.
“Good.”
Nyathi draai om en stap deur toe. Net voor hy dit toemaak, sê hy: “Good luck.”
Griessel