Anderkant uit. Hanlie Retief

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderkant uit - Hanlie Retief страница 16

Anderkant uit - Hanlie Retief

Скачать книгу

Laurie en Frits se brieweboek, Praat verby grense, skryf Laurie vir sy pa hy het hom versoen met sy gaywees toe hy opgehou het om die sin daarvan in die oorsprong van dinge te probeer soek.

      En só is dit ook met kanker.

      “Ek sou nie sê ek het alles uitgewerk en besluit dit steek nou só inmekaar nie. Dis op die ou einde ’n mediese toestand, maar dit laat jou bestek neem van jou lewe, jy kyk terug na waarmee jy besig was, jy kyk baie diep terug.”

      Toe Frits siek geword het, was dit vir hom ’n brandvraag: Hoekom laat God so iets gebeur met iemand wat predikant is, met drie jong kinders? Dit het hom opgevreet, dié oënskynlike onredelikheid.

      Laurie: “Ek gaan nie eintlik in op die hoekom-vraag nie. Ek probeer meer konsentreer op die lewe, die hier en nou.”

      Frits vertel hoe hy aanvanklik, nadat hy gesond verklaar is, probeer het om die tyd góéd te gebruik, te woeker met wat God hom “geleen” het.

      En nou, nadat God dié getal jare meer as verdubbel het, vra hy homself af: Het hy by sy voornemens gehou? “Op dié vraag kan ek net antwoord: Ek het probeer.” En partykeer beter as ander kere daarin geslaag, sê sy nawoord.

      Hy glimlag. Sê as die lewe weer oustryk aangaan, vergeet jy van die noute waarin jy was.

      Die intieme deel van ’n amper-doodvonnis was in ’n sin vir albei ’n hawe ná ’n stormreis waar hulle radikale verskille oor politiek, oor kerkpolitiek, oor gaywees moes konfronteer.

      Maar dit het deurdruk gekos, vele ure by ’n pastorale sielkundige, om dié teenstrydighede byeen te bring. Soos Laurie dit stel: die saamvashou van verskil en liefhê.

      Vir Laurie was die laagtepunt in hul verhouding toe hy teologie gestudeer het en sy pa deel van die kerkleierskap was. “Dit was die vroeë 1990’s en ek en my pa, van verskillende generasies, was aan verskillende kante van apartheid. Dit was nogal komplekse goed om mee te deal – dat jy soveel verskil van die ouer wat jy liefhet.”

      Hy kug, vertel van die hewige gesprekke om hul eetkamertafel oor waarheen land en kerk op pad was.

      Frits: “Ter verdediging van myself: Ek het altyd gedink ek is krities lojaal teenoor die kerk, nie blindelings lojaal nie. Ek het die NG Kerk se 1986-besluite oor die gaykwessie aanvaar. Ek het nie genoeg daaroor nagedink nie, dit was nie vir my ’n sáák nie. En daaroor voel ek skaam, régtig skaam.

      “Eers as dit naby jou kom, herbesin jy ernstig. Die liewe Here het dit nou op my tafel geplaas. En ek plaas dit nou op die kerk se tafel.”

      Frits herinner my aan ’n tydskrifonderhoud met hom, lank gelede, toe ek hom gevra het: Sê nou jou seun is gay, hoe sal jy reageer? Sy kinders was toe nog op skool.

      “Ek het gesê dit sal vir my ’n skok wees, maar hy bly my kind.”

      Sy onthulling aan sy pa, het Laurie besef, het nie net persoonlike implikasies gehad nie. Frits, kerkleier, was skielik deel van ’n geheim wat lynreg teen NG Kerk-beleid was.

      “In private ruimte kan jy nog ’n pad probeer vind. Ek het vir Laurie gesê dié skinkbord gaan kantel, jy kan tog nie verwag dit gaan nié.”

      Hoe verskriklik dit sou kantel, kon hulle nie voorsien nie.

      In 2005 het Laurie se lewensmaat, Douw Wessels, kaalfoto’s van hom aan koerante gestuur, hom by die kerk van promiskuïteit aangekla en dae later selfmoord gepleeg. Laurie is uit sy amp as NG predikant ontslaan. Sy appèl was later suksesvol.

      Dit was die begin van ’n hewige NG debat oor homoseksualiteit. Dit was ook die volgende hoofstuk in pa en seun se lewe, die begin van ’n Gaum-kruisvaart om homoseksualiteit in die kerk aanvaar te kry.

      “Laurie is een van die 25 NG lidmate wat nou in ’n brief vra dat die 2007-besluite oor homoseksualiteit, veral dat gay NG predikante selibaat moet bly, by die algemene sinode in Oktober weer bespreek word.

      “Dis ’n oop versoek, dit sê nie nóú moet julle besluit nie, dit sê kom ons praat daaroor en dan kom julle oor ’n paar jaar met aanbevelings.

      “Of die kerk nou regtig daarvoor kans sien, weet ek nie. Aartsbiskop Tutu het gesê hy skaam hom om ’n Anglikaan te wees oor hul anti-gay-houding. Ek wil nog nie sê ek skaam my om ’n NG lidmaat te wees nie. Ek het nog hoop vir die kerk. Maar,” sê hy met ’n waarskuwende toon, “ons hou hulle dop.”

      Daar is kritiek op die Gaums dat hulle die gay-agenda opportunisties in die media dryf. Dat hulle nie begrip het vir die ver pad wat die NGK reeds hiermee geloop het nie, dat dié kwessie kerke wêreldwyd al laat skeur het, dat ryp druk gevaarlik kan wees.

      Frits: “As mens ’n saak nie op die tafel hou nie, dit nie ‘dryf’ nie, verdwyn dit.” Kyk maar na die wapenskandaal, sê hy. En die groot les van apartheid: Die kerk moes duideliker, vroeër, gepraat het.

      “Mens moenie ’n ding ryp druk nie, dit verstaan ek. Maar ’n samelewing se siening verander net as kwessies duidelik in die openbaar aandag kry.”

      Laurie: “Daar is mense wat die status quo verkies, wat wil hê jy moet liewer net verdwyn soos ’n lastige probleem. Maar ons gaan nie evaporate nie, ons is hier om te bly. Ons vra die erkenning wat ons verdien, sodat ons die bydrae kan lewer wat ons kan. En dis wat die kerk verloor: al die gawes waarmee God ons geseën het. Al hoe dit gaan verander, is wanneer mense besef hul vooroordele is eintlik op onkunde gegrond.”

      Frits: “Onreg is onreg is onreg en die kerk kan nooit stilbly daaroor nie. Ek glo dis sonde as die kerk weier om dit raak te sien.”

      Sy stem is driftig, Laurie s’n sagter, aarselend.

      In ’n brief aan sy pa verduidelik Laurie die teologie van weerloosheid – ’n teologie wat nadink oor die weerloosheid van Christus, en die weerloosheid wat elke mens in ons komplekse samelewing ervaar. Dis ’n teologie van liefde en genade en aanvaarding. Van heling.

      So sit hulle saam op die bank. Pa se gesig is sag van die jare, seun s’n skraal, asketies.

      Frits glimlag, vertel hy is nie alte vroom nie, met Laurie se kanker het hy wéér ’n paar wilde hoekom-vrae vir God gevra.

      Hoekom Laurie, sy goeie, sagte kind, het hy dan nie al genoeg swaargekry nie?

      “Hý wat absoluut ’n boodskap vir die kerk het, al wonder hy soms of hy nog vir die NG Kerk ’n boodskap het, ek dink hy het ’n gewéldige boodskap,” stoot hy die woorde uit.

      Later sê Laurie sy beeld van sy pa, nou, is een van sagtheid.

      Vermurwe deur die jare, ja, knik Frits. Hoe is dit as jy jonger is, dat jy soveel sekerder is van dinge…

      Dalk is dit hoe die lewe werk. “God werk nie met almal dieselfde nie, maar God wérk met almal van ons.”

      Destyds, toe hy self bang in ’n hospitaalbed gelê het, wou ’n predikantsvriend ’n Godsbeeld oordra: “Wat maak ’n pa as sy seun in die nag roep en hy is bang en alleen?”

      Pa en seun kyk vir mekaar. Om Laurie is ’n stil kalmte.

      Is hý bang?

      Hy huiwer ’n oomblik. “Nee. Maar kanker

Скачать книгу