Sag fluister my hart. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sag fluister my hart - Schalkie van Wyk страница 5

Sag fluister my hart - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

… dag!” ontplof hy op ’n snakkende asemteug, en ’n donker gloed van ergernis kruip oor sy gelaat. “Dan smyt jy nog dreigemente rond ook! Ek waarsku jou, doktor Blanchet, as Christiane nie binne ’n uur veilig aan my uitgelewer is nie, sal ék die polisie en my eie sekuriteitsmense kry om met ’n ondersoek te begin. Jy sal beslis nie van die metodes van my sekuriteitsmanne hou nie – hulle doen enigiets om die waarheid uit hul slagoffers te kry.”

      Sandri besef dat sy die man oopmond aanstaar, maak haar mond vinnig toe en vra nuuskierig: “Is u die leier van ’n kriminele sindikaat of sommer ’n doodgewone rampokker en ’n bendeleier? Of probeer u my net bang praat?”

      Die vreemdeling druk met albei handpalms op die lessenaarblad voor hom en gluur dreigend in Sandri se oë, sy lippe in ’n dun lyn saamgepers.

      “As jy dan móét weet … Ek is …”

      “Ekskuus, doktor,” praat Poppie met die oopgaanslag van die kantoordeur, en steek haar kop om die deur. “Die besoeker se naam is meneer Marko Waalstra en sy identiteitsnommer is –”

      “Sy naam is voldoende, dankie, Paula,” val Sandri haar met gedwonge kalmte in die rede.

      “Is u seker u het nie hulp nodig nie, doktor Blanchet? Of wat van ’n koppie tee en lekker kaaskoek? Ons hou afskeid vir juffrou Simone en daar is skinkborde vol –”

      “Dit sal al wees, dankie, Paula. Ek sal laat weet as ek meer inligting nodig het,” praat Sandri haar saaklik tot stilte en wag geduldig totdat Poppie ná ’n onsekere kykie na Marko Waalstra haar kop terugtrek en die kantoordeur toemaak.

      “Sien, dit was toe glad nie so pynlik nie, meneer Waalstra. Ek weet wie u is en ek is gewillig om ’n verdere vyf minute na u te luister. Ek steek niemand weg nie. Ek ken nie u voogdogter nie. Ek het haar nog nooit gesien nie en ek weet nie waar sy woon nie. Jean-Pierre is my jonger halfbroer, maar hy het beslis ook nie vir Christiane ontvoer nie. Dit is glad nie in sy aard nie. Tensy hy hom skielik aan drank of dwelms oorgegee het – iets wat nog nooit in sy lewe gebeur het nie. Vir al wat ek weet, is dit Christiane wat die dwelmslaaf is en self weggeloop het. Hoekom beskuldig u my broer?” vra Sandri.

      Marko som haar op deur geskreefde oë en waarsku dreigend: “Ek weet meneer Everard Blanchet is ’n man in sy sewentigs en ek wil hom nie ontstel deur hom te betrek nie. Maar ek sal, doktor Blanchet, as jy nie nou dadelik vir Jean-Pierre bel en hom vra om Christiane hierheen te bring nie.”

      Sandri kyk hom afkeurend aan en haal haar slimfoon uit haar boonste lessenaarlaai. “Afperser!” sê sy verpletterend en skakel Jean-Pierre se selnommer.

      “Ek sit in die personeelkamer en kou koeksistertjies dat die stroop spat, ousus. Wat soek jy?”

      “Christiane Friskin se voog is in my kantoor,” verduidelik Sandri en tik die luidsprekerteken op haar slimfoon.

      Jean-Pierre se reaksie is duidelik hoorbaar vir haar en Marko: “Wat het jy gerook, Sandri? Christiane het ’n voog, maar hy is tans vir sake in New York. Is jy seker die man in jou kantoor is werklik Christiane se voog? Is sy naam Markus … e … nee, Marko Waalstra? Dis haar oom. Hy’s ouerig, seker diep in sy dertigs, maar ek het hom nog nooit ontmoet nie. Christiane sê hy kan knorrig wees … Wie is die man daar by jou?”

      “Die man hier in my kantoor sê hy is Marko Waalstra en hy is ongetwyfeld knorrig, want hy glo ons het Christiane so saam-saam êrens versteek. Ek pleit onskuldig, maar jy weet jy kan my met jou grootste sondes vertrou, my kleinboet. Het jy Christiane ontvoer of kuier sy net by jou in jou woonstel?” vra Sandri taktvol, en glimlag liefies vir Marko wat haar aangluur.

      “Is jy laf, Sandri?” vra Jean-Pierre duidelik seergemaak oor die luidspreker van Sandri se selfoon. Sandri kyk vies na Marko en antwoord misnoeg: “Hoe laf dit ook al mag klink, Marko Waalstra sit in my kantoor en eis dat ek Christiane binne ’n uur aan hom uitlewer, anders bel hy sy bende rampokkers om die waarheid uit my te wurg … of so iets.”

      “Maak jy ’n grap?” vra Jean-Pierre verbaas. “Nee, jy klink te vies om te lieg …” vervolg hy toegewend. “As die man by jou werklik Christiane se voog is, vertel hom sy en haar woonstelmaats, Leresa en Elani, is reeds gistermiddag weg saam met Leresa se ouers na hul wildplaas, net anderkant Rustenburg. Die oom en tannie het my saamgenooi, maar ek het verduidelik van tant Simone. Ek wil graag die naweek saam met haar kuier en haar Sondagaand lughawe toe neem. Hoekom bel daai oom Marko nie vir Christiane nie? As die man nie haar selfoonnommer het nie, is hy definitief ’n gangster wat hoop om Christiane te ontvoer. Vra hom vir sy identiteitskaart, Sandri. Dink jy hy’s gewapen? Moet ek liewer die sekuriteitswagte vra om jou te kom help?”

      Sandri kyk vraend na Marko wat haar met uitdrukkinglose oë aanstaar en sy kop ontkennend skud. “Nee wat, dankie, ek het nie hulp nodig nie, Jean-Pierre. Hou ’n oomblik aan terwyl ek met my besoeker praat,” versoek sy en vra koud aan Marko: “Hoekom bel u nie u voogdogter nie, meneer Waalstra?”

      “Ek het probeer, maar ek kom nie deur nie,” antwoord hy en lyk werklik bekommerd en desperaat. Sy kry hom so ampertjies jammer …

      “Meneer Waalstra sê hy kom nie deur op Christiane se foon nie, Jean-Pierre.”

      “Hm,” antwoord hy kouend in haar oor. “Ja, sy het gesê die sein gaan swak wees op die plaas. Ek het ’n landlynnommer, maar ek sal dit nie sonder haar uitdruklike toestemming aan haar oom Marko gee nie. Ek sal haar eers self moet bel en vra. En nou gaan ek en tant Simone verder saam kuier. Cheers vir eers!” groet Jean-Pierre lighartig en skakel sy selfoon af.

      Marko ontspan merkbaar, sy grys oë nou meer blou as silwer. Sy groot mond, met ’n dun bolip en ’n voller onderlip, verraai sy sterk wilskrag, maar ontspanne soos nou, suggereer dit ’n subtiele sin vir humor. “Ek is opreg jammer, doktor Blanchet. Ek is geen rampokker of hoof van ’n kriminele sindikaat nie, maar as die situasie dit vereis, kan ek die rol van ’n bullebak speel.”

      “Die spontane bekentenis van ’n eerlike bullebak? Hoe verrassend,” merk sy ironies op. Hm, ten minste kan die man om verskoning vra, dink sy heimlik.

      “Jy moet verstaan, ek het my gisteraand asvaal geskrik toe ek by Christiane se woonstel opdaag en nie een van die bure my kon sê wat van haar geword het nie.”

      Sandri voel ’n tikkie simpatie vir die man … maar hy was darem baie ongeskik. Sy sit haar slimfoon tydsaam terug in haar lessenaarlaai, leun ontspanne terug op haar stoel en skuif haar swartraambril op voor haar oë. Sy strengel haar vingers lossies saam op die lessenaarblad en kyk weer direk na Marko.

      “Was daar enigiets anders, meneer Waalstra?” vra sy met ’n gemoedelikheid wat nie haar sarkasme kan bedek nie.

      “Ek bewonder jou in jou suksesvolle rol as Alexandrie die Vierde, doktor Blanchet, maar ek stel meer in Jean-Pierre se ouer suster, Sandri, belang.”

      Sandri trek haar asem in. Hoe het die man haar so gou opgesom? Hy sien deur haar rol as hooghartige prinsipale.

      “Ek sal jou graag wil uitneem vir ete in ’n restaurant van jou keuse, om darem te probeer vergoed vir my ongemanierde optrede en al my onnodige dreigemente. Sien jy kans om my te vergewe en toe te laat om jou uit te neem?” versoek Marko, ’n flikkering van ’n glimlag verskuil in die glimmende grys van sy oë.

      O so, die man kan nogal sjarmant wees as hy wil. Maar so maklik vergeet sy nie sy ongemanierde optrede van vroeër nie. En sy kan beswaarlik ’n man vertrou wat die sjarmekrane so maklik kan oop- en toedraai. “Ek reël nie my sosiale lewe

Скачать книгу