Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray страница 9

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray

Скачать книгу

hy voel minder tevrede met die toedrag van sake toe hy die sitkamertjie binnestap en Lille met haar kop mismoedig op haar arms aantref. Sy kyk op toe hy binnekom, en sy oë vernou dadelik. Hier is moeilikheid, besef hy.

      “Wat het hy hier kom maak?” wil hy weet, en haar stemtoon vertel hom dat sy vermoedens juis is.

      “Hy het my kom vertel wat in my tante se testament staan.”

      “En?” Sy oë is kliphard terwyl sy blik op haar rus, maar sy is te ontsteld om dit raak te sien.

      “Sy het dit gedoen. Sy het gedoen wat sy gedreig het om te doen.”

      “Jou onterf?” Sy stem klap soos ’n sweep, maar steeds is haar kommer te groot om enigiets agter te kom.

      “Nee. Ek wens sy het liewer.”

      “Lille! Watter onsin … Wat staan in die testament?”

      “Ek en daardie … daardie seun van haar vroeëre beminde erf gelykop.”

      “Wat? Maar was die ou vrou …?” Hy sluk net betyds die woord. “Liewe land! Hoe durf sy sommer jou erfenis aan ander mense weggee? Ons moet dit bestry!”

      Lille skud haar kop. “Dit sal nie help nie, Louis. Die dag toe my tante met my uit Parys gevlug het, het Vader volmag aan haar gegee. Daar is niks wat ek kan doen aan daardie testament nie. Dis so wettig soos enige ander.”

      “Maar om die helfte weg te gee …”

      “Dis nie al nie! Jy het die helfte nog nie gehoor nie!” sê sy wrang. “Ek en Philippe Bidault erf alleen gelykop ás ek met hom trou. As ek nié met hom trou nie, weier met ander woorde, erf ek niks nie en hý kry alles.”

      Lille sien dat hy verstrak, maar natuurlik is dit van ontsteltenis oor haar, maak sy haarself wys.

      “Om die helfte van my erfenis in die hande te kry, is ek dus verplig om met hom te trou, want daardie meneer het reeds die prokureur in kennis gestel dat hy heeltemal bereid is om met my te trou. Natuurlik! Hoe sal hy dan ook weier? Met ander woorde, my liewe Louis, is dit nou nog net vir my om te besluit of ek die helfte van my erfenis wil hê en of ek dit ook maar maan toe sal laat vlieg … waarvoor ek baie lus voel.”

      “Moenie kaf praat nie.” Sy stem is kortaf, kwaai. “Daar is nie sprake van so iets nie.”

      Haar oë vernou ook nou effens. “Jy gee dus nie om dat ek met ’n ander man gaan trou nie?”

      Hy stap vinnig na haar toe, plaas sy arm om haar. “My liefste Lille, net die gedagte maak my rasend mal, maar … om daardie skurk te laat wegkom met jou hele erfenis! Daar moet ’n plan wees! Laat my net ’n bietjie dink …”

      Sy sluit haar oë en leun moeg teen hom aan. Sy durf nie nou haar vertroue in Louis verloor nie. Sy durf nie nou toelaat dat sy hom wantrou nie! Hy is die enigste een op wie sy nou kan steun, wat haar moontlik sal kan help. Sy moet glo dat sy ontsteltenis suiwer uit besorgdheid oor haar is.

      “Monsieur Colonne het ’n plan aan die hand gedoen …”

      “Hý! Hy is kop in een mus met hierdie vent! Maar goed, laat ek hoor.”

      “Hy sê ek moet na Kaap die Goeie Hoop gaan en met die man gaan praat. Dalk kan ons tot ’n vergelyk kom.”

      “Hy is van sy verstand af! Hoekom moet jy agter hom aanloop? Hy moet in elk geval Frankryk toe kom vir die troue as hy wil trou en dan …”

      “Dis juis nog ’n vangplek waarvan ek jou nog nie vertel het nie. Monsieur Bidault is baie gewillig om met my te trou, maar dan moet ek na Kaap die Goeie Hoop gaan, agter hóm aan.”

      “Maar dis verregaande vermetelheid!” bars Louis los.

      “Ek het ook so gedink, maar dis soos sake staan, Louis. Monsieur Colonne sê as ek weier om te gaan, sal dit so goed wees ek weier om te trou en dan val die hele erfenis na sy kant toe.”

      “Colonne is net so ’n skurk soos daardie Bidault-vent!”

      Lille is ’n oomblik stil. Dit wil amper so voorkom, en tog was hy ’n hoogs gewaardeerde vriend van haar tante. Sou die ou dame haar werklik só misgis het wat Pierre Colonne betref? Dit rym ook nie.

      “Dit lyk dus asof dit die enigste uitweg is wat oorbly … om na Kaap die Goeie Hoop te gaan en my op die onbekende Philippe Bidault se integriteit en selfrespek te beroep … as hy so iets het.”

      Louis se oë verdonker net, ’n ontevrede frons keep tussen sy wenkbroue.

      Lille se oë vernou skielik en sy druk hom effens weg. “Wag ’n bietjie … Ek dink mos nou eers daaraan. Daar is nog iets. Indien ek of Philippe iets oorkom voordat ons getroud is, val daardie een se deel onvoorwaardelik terug na die ander. Dís natuurlik hoekom hy nie hierheen wil kom nie. Nou sien ek dit baie duidelik. ’n Seereis beteken maande lange gevaar vir my. Hy hoop natuurlik dat ek op die reis iets sal oorkom … dat die skip vergaan of dat ek skeurbuik sal kry of oorboord val. Dan erf hy mos alles! Louis, dis nooit anders nie! Hy hoop ek sal sterf voordat dit vir hom nodig sal wees om met my te trou!”

      “Is daardie bepaling ook in die testament?” wil hy streng weet.

      “Ja. Ek het amper vergeet daarvan. Monsieur Colonne het dit uitdruklik genoem … as ek of hy te sterwe kom voordat ons huwelik voltrek is, erf die ander een alles.”

      Louis vee vlugtig met ’n bewende hand oor sy bleek gesig.

      “Jy is reg, my meisie. Dis so helder soos daglig. Hy hoop jy kom iets op die bootreis oor. Dit sal hom uitstekend pas as jy Kaap die Goeie Hoop nooit bereik nie. Lille …” Hy neem haar stewig aan die boarms. “Jy gaan daarheen. Ek sal daardie vuilgoed wys …”

      “Louis! Besef jy wat jy sê? Jy stuur my na my dood …”

      “Nee. Ek gaan saam. Ek sal saam met jou na Kaap die Goeie Hoop gaan. Het jy dan gedink ek sal jou alleen die gevaar instuur, my skat?”

      “O, Louis!” Sy werp haar teen hom en klou hom vas terwyl die trane nou vrylik loop. Op hierdie oomblik kan sy sweer sy het Louis Paquin lief. Hy is die enigste wat vir haar omgee, begaan is oor haar, dermate dat hy bereid is om saam met haar op ’n gevaarlike seereis na ’n onbekende, woeste land te gaan. O, hoe kon sy ooit getwyfel het dat hy haar regtig liefhet? “O, Louis, dankie!”

      Hy hou haar styf vas, maar sy gesig bly strak en vasberade bokant haar kop. Só maklik gaan hy hom nie van ’n fortuin laat beroof nie. Daardie Bidault ken nog nie vir Louis Paquin nie. ’n Verskriklike oomblik lank het hy gedink hierdie erfenis is neusie verby, totdat hy gehoor het van die laaste bepaling. Hy kners op sy tande. Bidault hoop dalk dat sy mede-erfgename nie lank genoeg sal leef om die erfenis met hom te deel nie. Maar aan die ander kant kan Lille dieselfde hoop koester, nie waar nie? Net … Lille sal nooit droom van so iets nie. Maar daarvoor is hý mos daar. Hý sal na daardie sakie omsien. Kaap die Goeie Hoop is juis maar nog ’n ongetemde land vol gevare. Dit sal daar amper makliker wees om van iemand ontslae te raak as hier.

      Dan glimlag Louis Paquin fyn. Hoe meer hy oor die saak dink, hoe meer tevrede begin hy voel. Alles is nie verlore nie. Inteendeel. Alles pas nog pragtig by sy planne in. Om die waarheid te sê, kon hy dit nie self beter uitgewerk het nie! Skielik lag hy hartlik en Lille ruk in sy omhelsing, kyk amper geskok

Скачать книгу