Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray страница 8

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray

Скачать книгу

se hart trek saam. “Ag, nee, Josephine, hoekom dan skielik so pessimisties? Jy kan nog …”

      “Nee, Pierre. Ek kan nie. Maar ek gee nie om om nou te sterf nie. Ek is nou tevrede. Ek kan nou gaan rus.”

      Dis ’n week later dat Lille van een van haar geheime ontmoetings met Louis terugkeer en na haar tante se kamer gaan. Dis sy wat haar stil en rustig en styf aantref, haar hande oor haar bors gevou, ’n effense glimlag om haar mondhoeke.

      Pierre Colonne kom besoek haar die dag ná die begrafnis tuis, dra sy opregte meegevoel aan haar oor en dan word sy stem saaklik.

      “U tante het ’n paar maande gelede ’n nuwe testament laat opstel waarin sy alle voriges deur hierdie een vervang. Kan ek dit vir u voorlees?”

      Lille kyk hom met rooi oë aan, en skielik voel sy ’n onheilsgevoel in haar opkruip. ’n Nuwe testament …

      “Ja. Ja, lees maar, asseblief.”

      “Jou tante het bepaal dat jy en Philippe Bidault van Kaap die Goeie Hoop gesamentlik alles erf indien julle in die huwelik tree. Indien een van julle weier om te trou, gaan daardie persoon se erfporsie na die ander en kry die een wat weier niks nie. Of as een van julle iets oorkom, te sterwe kom voordat die huwelik voltrek is, erf die ander persoon ook alles. Is daar enige vrae, mam’selle Lille?”

      3

      Sy staar hom verdwaas aan, keer dan haar blik vinnig weg. Dan het haar tante werklik gedoen wat sy gedreig het!

      Dis of haar verstand ’n oomblik stilstaan. Trou sy met die vreemdeling, kry sy in elk geval net die helfte van haar erfporsie! En as sy weier om aan hierdie belaglike eis te voldoen … erf sy niks nie!

      Sy lag kortaf, frommel haar sakdoekie tussen haar vingers op. “Ek … weet nie wat om te sê nie!” Haar oë kyk hoopvol op. “Ek neem aan u moet m’sieur Bidault nog eers laat weet van hierdie … testament, nie waar nie? Ek dink nie hy sal te vinde wees om met ’n vreemdeling te trou nie, en ek …”

      “Hy dra reeds kennis van u tante se bepalings in die testament.”

      Haar blik vlieg op. “Reeds? Hoe op aarde is dit moontlik? Tante Josephine is maar drie dae gelede oorlede en hy sit aan Kaap die Goeie Hoop!”

      “Ja, maar u tante het reeds maande gelede ’n brief geskryf waarin sy hom ingelig het aangaande besonderhede oor haar testament. Daarin het sy hom gevra dat hy haar so spoedig moontlik moet kom spreek of laat weet of hy bereid is om met jou te trou.”

      Lille kners onhoorbaar op haar tande. Dan het tant Josephine al hierdie maande agter haar rug gekonkel!

      “U tante het ’n brief van hom ontvang sowat ’n week voor haar dood waarin hy hom bereidwillig verklaar om met jou in die huwelik te tree.”

      “O, nè?” Haar mond trek smalend. “Dit wil vir my voorkom asof my tante my nou werklik vir ’n wolf gegooi het. Natuurlik sal hy met my wil trou! Hy kry die hele helfte van my erfenis daarvoor! Al is ek so lelik soos die nag, simpel en wat ook al nog, sal hy ongesiens met my trou! Monsieur Colonne, sê my eerlik, wat dink jý van ’n man wat bereid is om met ’n vrou te trou wat hy nog nooit gesien het nie?”

      Die prokureur kug. Hy moet erken sy het ’n punt beet. Aan die ander kant weer, het hy groot respek vir Josephine Jacquard se oordeel. As sy nie baie seker was dat sy hierdie onbekende Philippe Bidault kon vertrou nie, sou sy nie so ’n testament gemaak het nie. Maar die jong Lille het gelyk. Philippe Bidault is al een wat werklik baat by hierdie testament. Hy kry die helfte van die erfenis as hy bereid is om met haar te trou … en alles as sy weier. Hoe sal hý dan weier?

      Hy antwoord versigtig. “Dis nie vir my om ’n persoonlike mening oor hierdie saak te vorm nie, mam’selle. Ek, as prokureur, moet my net by die bepalings van die testament hou. Dis al. Soos sake nou staan, is jy al een wat kan verloor. Philippe Bidault is bereid om met jou te trou; daardeur erf hy klaar die helfte van jou erfenis. Al wat nou nog kan gebeur, is dat jy weier om met hom te trou … en dan erf hy alles. Die keuse is joune.”

      Die hartseer wat Lille ondervind het oor haar tante se afsterwe, word verdring deur ’n magtelose woede. O, hoe kon haar geliefde tant Josephine haar so in die rug steek, haar só in die steek laat! Om darem die helfte van haar erfenis aan ’n vreemdeling weg te gee en haar dan nog te wil dwing om met hom te trou! Dis verregaande!

      Maar, besef sy, soos wat Pierre Colonne ook uitgewys het, dis feite wat sy sal moet aanvaar. Om net die helfte van haar erfenis vir haarself te red, sal sy met ’n wilde avontuursoeker in ’n woeste, onbekende wêreld moet trou! Dit is kort en klaar waarop dit neerkom.

      Wat gaan Louis hiervan sê? wonder sy terloops, terwyl haar verstand nog naarstiglik na iets soek wat sy kan ophaal wat haar van die gevolge van hierdie onmenslike testament kan red.

      “As ek besluit om … om te trou, wanneer geskied dit dan? En sal hy my erfporsie, of mý deel dan, saambring Frankryk toe?”

      Die prokureur kug weer. “Dit hang af hoe gou jy graag jou deel daarvan wil hê. Hy het die hele erflating in sy bewaring, soos jy weet. Hoe gouer die huwelik dus voltrek kan word, hoe sekerder kan jy van jou gedeelte wees. Ek stel dus voor dat ons so gou moontlik reëlings tref vir jou om na Kaap die Goeie Hoop te gaan.”

      “Na … Kaap die Goeie Hoop! Monsieur, ek gee nie ’n tree uit Frankryk pad nie, verstaan? As daardie danige meneer dan met my wil trou, kan hy hierheen kom en …”

      “Lille, ek is bevrees jy het nie ’n keuse nie. Philippe Bidault het klaar laat weet dat hy bereid is om met jou te trou, maar dat jy na Kaap die Goeie Hoop toe moet kom daarvoor. Indien jy weier om daarheen te gaan, sal dit beteken dat jy weier om met hom te trou … en dan verbeur jy jou deel van die erfporsie.”

      “Wat de duiwel …?” Sy spring op en nou probeer sy nie langer haar woede en verontwaardiging wegsteek nie. “Nie alleen word ek tot in die grond verneder deur hierdie … hierdie kranksinnige testament nie, maar ek moet nog agter hom aanloop ook! Ek weier! Verstaan u, monsieur Colonne? Ek weier!”

      “Mam’selle, probeer kalm bly. Jou hele toekoms is op die spel. Ek sal jou sê … Ek gee jou ’n week tyd om oor alles na te dink en dan sal ek weer kom hoor wat jou finale antwoord is. Maar ek wil jou vra om asseblief goed na te dink voordat jy sommer net weier. Jy is ’n jong meisie, alleen in Frankryk en sonder enige bloedverwant. Sonder ’n enkele frank behalwe die bietjie wat jou tante hier gehad het, en dis nie baie nie. Dit gaan jou nie ver bring nie.”

      Sy stem is dringend. “As ek jou raad kan gee, sal ek jou aanraai om na Kaap die Goeie Hoop te gaan, met die man te gaan praat. Miskien is hy ’n baie redelike mens. Miskien kan julle nog die saak uitpraat en die erfenis gelykop deel sonder ’n trouery. Indien julle albei besluit om nie te trou nie, kan elkeen net sy deel neem. Dis sake wat jy reguit met hom kan bespreek. Miskien wil hy net so min met jou trou as jy met hom. Maar miskien het hy ook die geld nodig, nes jy. Julle kan nog tot ’n ooreenkoms kom. Maar dan sal jy na Kaap die Goeie Hoop moet gaan.”

      ’n Wanhoop oorval haar, terwyl die woede in haar taan. Die prokureur se voorstel klink op die oomblik die beste.

      “Nou goed, monsieur Colonne. Kom spreek my weer oor ’n week. Dan sal ek u my finale antwoord gee.”

      By die deur loop die prokureur hom vas teen Louis Paquin wat pas aangekom het. Hy groet styf en Louis kyk hom met ’n frons agterna. Dan trek hy sy skouers traak-my-nieagtig op.

Скачать книгу