Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 3
Ons hou ’n gasstofie en ’n groot moka-pot onder die bed, agter die sitplekke. Saam met die beskuit en ’n pak biltong, en lekkergoed. Ek klouter agtertoe, en kry die proses van koffiemaak aan die gang.
Gewoonlik klim ons uit om te eet, as ons op die pad is. Maar nou bly Pa sit. Hy is seker versigtig, ná die honde.
Ek gee vir hom beskuit aan. Hy neem net een stukkie. Ek eet drie stukke, skielik honger.
Die moka-pot prut. Die reuk van die koffie vul die kajuit.
Ek skink eerste Pa s’n, wat hy swart en bitter drink. Ek hou van myne met twee suikers en Cremora.
“Hier, Pa.”
Hy draai na my toe om. Ek wag dat hy moet sê “terwyl ons kan”. Hy sê dit elke oggend as ons koffie drink. Hy hou die beker hoog, soos wanneer mens “tjeers” sê, en hy glimlag so skeef. Want koffie gaan iewers in die toekoms opraak, en voor dit opraak, gaan dit oud word en nie meer lekker wees nie, en daardie dag kom nader. Só het Pa verduidelik ná hy die eerste keer “terwyl ons kan” gesê het.
Vanoggend sê hy dit nie.
Eers sien ek hoe sy hand bewe. Dan sien ek die sweet op Pa se voorkop, hoe rooi sy gesig is. En sy oë, dof en ongefokus.
Skielik maak sy stiltes en alles sin. Ek huil, só onverwags, van die skrik.
“Dis nie Die Koors nie,” sê hy. “Hoor jy?”
Die vrees is nie meer ’n skaduwee nie, dit is ek.
“Nico, luister,” sê my pa, sy stem weer net so desperaat soos gistermiddag met die honde. Dit laat my die snikke ’n oomblik lank terugsluk.
Hy sit sy koffie op die instrumentpaneel neer en omhels my. Ek voel die hitte wat uit hom brand.
“Dit is nie Die Koors nie. Dit is die honde. Dis net ’n infeksie, van hulle byte, dis bakteries. Ek moet antibiotika drink, en baie water, en ek moet bedrus kry. Hoor jy?”
“Pappa hét koors. Ek kan sien.”
“Ek belowe jou, ek het ’n ánder soort koors, op my ere-erewoord. Jy het ook al ’n koors gehad, griep-koors of verkoue-koors, tandekry-koors toe jy klein was, daar is baie soorte, hierdie is nie die een wat almal … Die honde het nie van mense af kos gekry nie. Hulle het afval gevreet, of vrot vleis, en toe byt hulle my, en daardie bakterieë is nou in my bloedstroom. Dis waar hierdie koors vandaan kom. Ek gaan net vir ’n rukkie siek wees. Ek belowe, Nico, ek belowe jou. Ons het die regte medisyne, ek gaan dit netnou drink.”
* * *
Ons ry op en op teen die heuwels, tot in Vanderkloof-dorp. Dit is ’n klein, eienaardige plekkie, deurmekaar en dun langs die dam, maar hoog in die koppe. Pa soek na iets. Hy kry dit eers diep in die grafstil dorp. ’n Huis, eenvoudig, met verf wat van die houtwerk afdop, ’n groot staal-veiligheidshek voor die deur, en diefwering voor die vensters. Oorkant is stilhouplek vir ons lorrie.
Pa stop daar. Hy klim uit, met ’n pistool en ’n jaggeweer. Ek moet in die Volvo bly. Hy gaan kyk in die huis. Ek sit vir die voordeur en kyk. Ek is bang hy kom nie terug nie. Wat gaan ek doen?
Alles is nou anders, ná gister, ná die honde. En nou, met Pa se koors.
Dan kom hy terug. Ek sien hy is onvas op sy voete.
Hy sê: “Dié plek is goed genoeg. Kom, bring jou boeke.”
Ek sit hulle in my rugsak en klim uit. Pa loop nou stadig, hy doen alles versigtig, hy gaan sluit die groot treiler agter oop, trek die leertjie af. Die inhoud van die sleepwa is die storie van ons lewe die afgelope maande. Dit is ’n immer aangevulde lys, netjies gepak en vasgemaak, ons weet waar elke ding is. Naaste aan die deur is daar bokse vol blikkieskos en rys en meel en pasta, poeiermelk, koffie, Cremora, honderde bottels water. Dan, in geen spesifieke volgorde nie: boeke, soos die kos met die hand uitgesoek waar dit veilig was om te snuffel. Selfdoen-boeke oor herstelwerk en persoonlike herstel en veld-oorlewing en The Ultimate Beginner’s Guide to Guns: A Green Light Shooting Book waaruit ons al twee geleer skiet het. Storieboeke en skoolboeke en resepteboeke en hoe-slag-jy-’n-bees- en hoe-behandel-jy-slang-en-insekbyt-boeke.
Daar is gewere, pistole, ammunisie, jagmesse en slagmesse en kombuismesse, ons toerusting om brandstof te pomp, en watersuiweringsfilters. Medisyne, verbande, salwe, sonskerm. ’n Tentjie, kampstoele, opblaasmatrasse, kampbedjies, twee opvoutafels, twee groot sambrele, nog nooit gebruik nie, nog in hul Makro-plastiekomhulsel. Drie petrol-kragopwekkers, tien vyftigliter-petrolkannetjies. Toiletware: meer tandepasta as wat ons in ’n leeftyd sal kan gebruik, sjampoe, seep, deodorant, tandeborsels. Waspoeier, bleikmiddel. Skootrekenaars, drukkers. Messegoed, breekgoed, handgereedskap, elektriese gereedskap …
Pa kry vir ons ’n paar bokse proviand, en hy soek tot hy die regte medisyne kry. Hy klim weer af, stoot die leer terug, sluit die treiler se agterdeure sorgvuldig. Ons dra die bokse in die huis in. Die plek is leeg, en netjies, asof die mense eers aan die kant gemaak het voor hulle dood is. Elke leë huis waarin ons kom, het sy eie reuk. Sommige lekker, sommige sleg. Hierdie een ruik so ’n klein bietjie na rubber. Ek weet nie hoekom nie.
“Die stoof werk met gas,” sê Pa. Ek knik.
“En daar is water.” Hy bedoel, die krane werk nog.
Pa loop terug na ons vragmotor toe, en sluit die kajuit ook. Hy kom weer in, sluit die veiligheidshek van die huis, dan die voordeur. Hy gee vir my ’n pistool.
“Nico, ek gaan nou al die hondbyte weer skoonmaak, en ek gaan die medisyne drink. Ek moet slaap. Daar in die kamer. Moenie uitgaan nie. As jy iets sien of hoor, kom sê dadelik vir my. Kry vir jou iets om te eet, daar is blikkies, van jou gunsteling-goed. En biltong en koekies. En sop, ek sal vanaand saam met jou sop eet, kom maak my wakker as die son begin sak. Ek weet jy is nou bang, Nico, maar ek gaan net ’n dag of twee siek wees, hoor jy?”
Ek vat aan hom. Hy is vuurwarm.
Ek huil nie. Ek knik net.
“Hoe bly ons veilig?” vra hy.
“Ons vertrou net vir mekaar.”
“Dis reg. Kom kyk, dat jy kan sien waar ek gaan lê. As ek nog slaap wanneer dit donker word: onthou, geen ligte nie.”
Hy sien iets op my gesig. “Alles gaan okay wees,” sê hy.
* * *
Alles is nie okay nie.
Ek haal van my boeke uit, daar in die sitgedeelte van die oopplan-leefkamer. Dis deel van die kombuis en ’n eetkamer ook. Ná ’n ewigheid kan ek dit nie meer hou nie. Ek loop na die slaapkamer toe. Pa lê onder die komberse. Hy bewe verskriklik, maar dit is glad nie koud nie. Hy weet nie eens ek is daar nie.
Ek wil nie sien as hy doodgaan nie. Ek loop stadig in die gang af. Ek hoor geluide in die dak van die huis, en buite. Ek probeer deur die ander slaapkamers se vensters uitkyk, maar alles is weer stil.
In die sitkamer sien ek deur die kantgordyn ’n beweging. ’n Dier draf in die straat af. Ek skrik, want ek dink dit is ’n hond. Ek gaan staan teen die venster. Ek sien dit is ’n bakoorjakkals, klein, met silwer