Koors. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Koors - Deon Meyer

Скачать книгу

Vrees, verlies, vernedering … Jy sal sien, eendag.”

      Nóú sien ek. Nou, terwyl ek hierdie memoires probeer skryf, noudat ek álles wil herroep, nie net die trauma nie. Ook die gebeure tussenin. Dit is nie so maklik nie. Ek het Auden en Heinlein oor die outobiografie aangehaal, want die slaggate wat hulle uitwys, is eg: Wanneer dit kom by die geheue-rivier se meer troebel waters, is jy aangewese op jou eie, soms onbetroubare en bevooroordeelde herinneringe, en die vertellinge van ander. Jy is blootgestel aan die drange (en vrese) van die ego, wat net sekere gebeurtenisse wil insluit. Ander wil uitlaat.

      Laat ek dit dus onomwonde beken: Hierdie is die storie van wat ná Die Koors gebeur het, soos ék dit onthou. My waarheid. Dalk subjektief, dalk effe krom. Maar ek is feitelikheid en eerlikheid verskuldig aan almal wat deel is van dié storie, veral hulle wat nie hier is om hul eie getuienis te lewer nie.

      Waarheid was my grootste enkele dryfveer. Dit sweer ek.

      7

      22 Maart

      Ek slaap langs my pa. Hy word verward wakker, in die vroegoggend, vervaard, sy hare en sy oë wild en deurmekaar. Dit neem hom ’n oomblik om my te herken. Hy lyk kleiner, skraler, hy lyk in hierdie blootgestelde oomblik wondbaar en breekbaar en feilbaar. Maar dit is asof ek dit nog nie kan sien nie. Nog nie wíl sien nie.

      Ek gaan maak vir ons hawermoutpap. Pa eet in die bed. Dankbaar. Hy sê: “Eendag sal ons weer vars melk proe.”

      Hy sê dit baie.

      En: “Ek behoort darem môre gesond te wees, Nico.”

      “Dan ry ons weer, Pa?”

      Hy skud sy kop, stadig. “Nee. Dit is waar ons gaan kom bly.”

      “Hier?”

      “Nou nie hierdie huis spesifiek nie. Daar is baie om van te kies. Ek bedoel, hierdie plek, hierdie dorp.”

      “Maar wat van daardie ooms?” Ek wys straat se kant toe, waar die Jeep gestaan het. Ons praat steeds gedemp, asof hulle baie naby is.

      “Hulle is … ’n komplikasie.”

      “’n Komplikasie?”

      “Dit is ’n interessante woord. Ons kry dit uit die Latyn. ‘Complicare’ …” Pa haal eers ’n paar keer asem, asof hy sy kragte bymekaar maak. “Dit beteken om saam te vou. Jy weet, as jy iets vou, dan maak jy dit mos meer ingewikkeld.” Hy probeer om sy ou geesdrif te vind: “Oulik, nè, hoe taal werk. Kompliseer beteken om iets meer ingewikkeld …”

      “Hoekom gaan ons nie net na ’n ander plek toe nie?”

      “Want ek dink Vanderkloof is die beste plek in die hele land. Vir ’n nuwe begin.”

      “Hoekom?”

      Pa eet die laaste van sy pap. “Maslow … Al die basiese behoeftes. Hier is struktuur en tekstuur …” Hy sug. Hy is moeg. “Dis ’n lang storie. Ek sal vir jou mooi vertel, môre. Ek belowe. Reg so?”

      “Okay.”

      Hy gee sy leë papbord aan, en skud pille uit die botteltjie. “Ek gaan weer lê. Onthou om jou tande te borsel.”

      * * *

      In die middag hoor ek Pa praat. Ek gaan kyk in die slaapkamer waar hy lê. Hy het al die komberse afgegooi, hy sweet, hy yl, wilde woorde in ’n bang stem.

      Dan word hy wakker. Hy kom meteens orent, hy draai sy lyf sodat hy nie op die bed mors nie. Hy gooi op oor die vloer.

      Ek help hom om skoon te maak. “Jammer, Nico,” sê hy. “Jammer, jong.”

      Ek maak die aand sop warm, maar Pa slaap deur alles.

      Die Jeep kom nie terug nie.

      Dit is verskriklik warm en benoud in die huis.

      8

      23 Maart

      In die oggend word ek wakker, maar my pa slaap net.

      Ek eet beskuit, ek drink water, ek kyk by die vensters uit, ek luister, ek kan nie stilsit nie, iets laat my drentel en dwaal, iets meer as verveling, meer as die vae bang wat ek gister gevoel het. Ek is dertien, ek het nie die vermoë om dit te prosesseer nie.

      Ek staan voor die sitkamervenster. My hart begin klop, my hande sweet, die aarde sluk my, die lug druk swaar op my, die dag, en die mure. Ek verstaan nie mooi wat gebeur nie, ek wil nie vir Pa wakker maak nie, hy moet gesond word.

      Ek gaan lê in ’n ander slaapkamer. Die vertrek krimp in. Ek maak my oë styf toe. Die honde, die aand van die honde is in my kop, ek sien dit alles weer. Die vernedering dat ek na my ma geroep het. Ek is dertien jaar oud. Ek is gróót. Die honde, Pa se koors, die twee mans hier voor die huis, die skote op ons deur geskiet, die vasgebinde vrou, ek herleef dit, die beelde, die reuke, die vrees. My pa, eergisteroggend, hy het uit die trok geklim met sy seer lyf, hy het bang gelyk, vir die eerste keer bang, die manier hoe hy gekyk het, die manier hoe hy teësinnig aan die stywe, grieselrige karkasse gevat het terwyl hy die honde weggesleep het. My hart wil uit my bors bars, my asem is nie genoeg nie, alles wil my oorweldig.

      Ek wil skree. Ek het ’n kwaad in my, vir die wêreld. Vir die honde wat wil moor, wat ons so doelgerig wil doodmaak. Ons, wat ná Die Koors soveel wildplase en wildtuine se heinings gaan knip het, wat al die dieretuin-hokke in Bloemfontein gaan oopmaak het. Ons is dierevriende, hoekom wil die honde ons doodmaak? Die kwaad brand deur my, ’n redelose kwaad. Vir alles, vir Die Koors wat my hele bestaan verwoes het. Ek bal my vuiste, ek wil iemand of iets uitskel vir die onregverdigheid, terwyl die kamer, die wêreld, die heelal al hoe nouer en swaarder word, die druk groter en groter en groter.

      “Nico!”

      Pa is skielik by my, die drukking is weg.

      Ek kyk vir hom. Hy kom sit langs my. “Jy het geskree. Ek dink jy ly aan skok.”

      My hele lyf is gespan, oorgehaal soos ’n geweer.

      “Ek is hier,” sê Pa.

      Daar is niks wat ek verder kan sê nie.

      “My koors het gebreek,” sê Pa.

      9

      24 Maart

      Dit reën vroegoggend, donder en blitse, ’n dreuning op die huis se sinkdak.

      Daar is humiditeit in die lug, ’n drukking, soos iets wat broei of fermenteer. Binne my ook, want die kwaad en vrees het nie verdwyn nie, dit kruip net iewers in my agterkop weg.

      Pa sê dis veilig om koffie te maak as dit reën, die geur sal nie ver geruik kan word nie. Maar ons moet steeds die vensters toehou. Ons drink in die kombuis. Hy vertel my van Abraham Maslow se hiërargie van behoeftes. Pa praat nooit af na my toe nie. Hy gee my feitelik al die inligting, ek moet self besluit wat ek nie verstaan nie. (Jare later besef ek hy het seks uitgelaat toe hy Maslow se fisiologiese behoeftes opnoem. Ek neem hom dit nie kwalik nie.) Hy verduidelik dat Vanderkloof

Скачать книгу