Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten страница 1
Chris Karsten
Human & Rousseau
Hierdie een is opgedra aan jou, die leser
Loyalty is the holiest good in the human heart … Loyalty cries: “Burn me, slay me, kill me! I shall not betray my trust.”
– Seneca: Letters from a Stoic
Thou wast not born for death, immortal Bird!
– John Keats: “Ode to a Nightingale”
I
Die ontdekking van die liggaam
Who killed Cock Robin?
I, said the Sparrow,
With my bow and arrow,
I killed Cock Robin.
– Roud #494, c. 1770
1
By die swembad skud die seun nat blare uit die skepnet en kantel sy kop na die gekwetter en gekweel van tuinvoëls in die bome en struike om hom. Hy sluit sy oë ’n oomblik en probeer elke voël aan sy lied eien. Die diederikie. Die piet-my-vrou. Geelvink. Rooikoplewerik. Hoëveldklappertjie. Hy staan lank so stil met die steel van die skepnet in sy hande, luisterend.
Dan lig hy sy gesig en tuur met skreefoë na die stil huis, sy voorkop blink gepêrel, met ’n effense frons. Hy lê die skepstok neer, druk sy pet na agter en vee die sweet met die soom van sy T-hemp af. Gebukkend by die tuinkraan spoel hy koue water oor sy hare, gesig, nek, en sluk diep en gulsig uit ’n bak hand. Hy kom orent, vee oor sy mond en sit die pet terug, sy blik op die stoep.
Hy begin oor die grasperk aanslenter. Verby die bome en struike waarin die voëls fladder en sing. Verby die visdam waarin vet vislywe onder lelieblare in- en uitdryf, waar ’n spuitfonteintjie ’n sambreel van druppels glinsterend soos kristalle in die fel son laat hang. Verby verlate swembadspeelgoed op lêstoele langs toegevoude sonsambrele.
Hy bestyg die twee trappies na die skaduwee van die stoepdak. Bly by die patiotafel staan, op die mat van ’n wilde dier se vel. Vee weer oor sy voorkop en bolip, laat rus die hand op die rug van ’n stoel, sy oë swewend oor die bekendheid van die stoep. Die verbleikte bokskedel met krulhorings teen ’n muur, hol oë wat hom vanoggend suspisieus betrag. Hy kyk weg na die ingeboude braaiplek. Af na die twee groot boepenspotte, in elk ’n welige plant, eksoties onbekend.
Hy betrag die dooie voël langs een van die potte – vere donker en glansend soos liquorice, geel oogvlek, bek en pootjies geel en slap. A. tristis. Nes die herkenning van voëlsang is die naam vir hom so onwillekeurig as die knipper van sy oë.
Hy los die Indiese spreeu, asof dié nou onbelangrik is noudat hy dit geëien het, aarsel ’n oomblik en slof na ’n skuifdeur. Binne is die gordyne toegetrek, maar die deur is effe oop.
Hy lig sy oë vlugtig na ’n rooi sensorogie, druk sy plat hand by die skreef in en skuif die deur groter oop, geruisloos op sy spoor. Eintlik een van drie groot skuifdeure. Op somersdae word almal oopgeskuif, die muur van gordyne oopgetrek, word die woonvertrek deel van die stoep, en word hy op ’n Saterdagoggend genooi patiotafel toe vir koeldrank met blokkies ys.
Hy wag. Geen alarm nie. Hy glip verby die swaar gordyn in, steek dan binne in die looparea van die deur vas. In die skemering ná die skerp son knip-knip hy sy oë. En snuif. In die bedompige lug hang ’n vae mengsel van reukwater en lyfroom. Maar ook iets anders, ’n ondertoon wat vir hom vreemd is. Hy snuif weer, probeer dit plaas. Die reuk van iets stoffeloos byna. Hy kreukel sy neus.
Ja, dís wat hier binne in die skemering draal, saam met die lyfgeure. Die reuk van vrees en dood.
Hy leun links en trek die gordyn groter oop, skuins voor hom die rug van die groot rusbank, oorkant die rak teen die muur met die TV en boeke en tydskrifte en vrolike gesinsfoto’s, regs die eetkamer en kombuis.
Hy staar na die wit gedaante, so half verskuil daar voor die bank, asof die figuur op die bank gesit en TV kyk het en toe in die nag vooroor geval en net daar bly lê het, so half oor die poef waarop die voete gerus het.
Hier binne is dit tjoepstil, geen voëlgeluide nie. Asof hy self ook ophou asemhaal het. Asof die hele vertrek op iets wag.
Hy tree traag nader, steek agter die bank weer vas. ’n Sytafeltjie met sy staanlig het omgeval. Die gloeilampie lê steeds op die mat en gloei, dof en geel, klouend aan’t lewe.
Die gedaante bly sy oë lok, so knielend, bedek met ’n kleed, dalk ’n wit laken. Hy skuifel om die bank en merk nou die kuite en voete wat onder die laken uitsteek. Die enkels is vasgebind. Van die enkels en kuite volg hy die obskure kontoere onder die kleed tot voor waar die arms weer sigbaar uitstrek. Ook die polse is aan mekaar vas.
Die gesig en hare en lyf kan hy nie sien nie, maar hy weet dis sy; hy kan haar ruik, hy herken haar geur.
Hy gaan hurk voor haar en steek sku sy vingers uit. Hy aarsel ’n oomblik, raak dan sag aan haar arm. Haar vel is koud en grys uitgebloei, maar die kleed en mat is sonder enige teken van bloed. Dis of sy net daar lê en slaap, in dié vreemde posisie onder die laken, en in die nag al haar bloed verloor het, uitgesuig deur iets of iemand.
Hy kom orent, vryf weifelend oor sy mond, draai dan om en stap uit. Hy trek nie die gordyn of skuifdeur weer toe nie. By die patiotafel teug hy diep, haal sy selfoon uit sy broeksak. Sy skraal lyf ruk van die skielike geskel van ’n hadida wat oorvlieg. Dis of sy linkerhand sukkel om die sel vas te hou terwyl die ander hand se vingers 10111 inpons.
Hy meld sy vonds aan en beantwoord die vrae kortaf.
Terug by die swembad is hy ineens opnuut bewus van die bakkende son en die singende voëls en die geruis van stadsverkeer, van toeters en sirenes en die gekerm van ’n jaende motorfiets.
Hy lig die steel van die skepnet op en trek die pet se tuit laag oor sy oë af teen die terugkaatsing van die skel ligskerwe op die water.
2
Vanmôre klokslag sesuur was sy in die gim, al was die opstaan bra traag. Die Pink Flower se partytjies is legendaries – kry nie einde nie. Maar dis haar af naweek en hulle het Stallie se verjaardag in dié klub gaan vier. Kon nie nee sê nie. Selfs Lou het haar aangepor, gesê vanaand maak hulle op vir wat hulle laas nag gemis het.
Ná gim het sy kom stort, jogurt en muesli geëet, twee koppies koffie gedrink. En hier’s sy nou, haar ou self. Reg vir vanaand. Maar eers – in jeans en T-hemp, haar spiere tintelend, haar vel gloeiend – die heroïese soektog na die heilige graal: wilde sampioene by die organiese mark in Linden. Of as sy daar onsuksesvol is, by die groot mark in Bryanston. Die derde en laaste opsie is die Fungi Guru in Houghton Estate, sewe dae te perd.
Lou, connoisseur van swamme, sampioene, paddastoele, enige dêm makrofungus, het haar aangeraai om in Linden by Ramona Feiersinger se stalletjie te begin. Dis waar hy Saterdagoggende sy swamme gaan kry, vars van die Feiersingers se sampioenkwekery en plantasies by eMkhondo. Dreig juis om haar nog op ’n uitstappie soontoe te trakteer, haar te gaan leer hoe om in die gramadoelas na swamme te soek, die eetbares van die giftiges te onderskei, miskien selfs ’n swarttruffel of