Isabella. Mariel le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Isabella - Mariel le Roux страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Isabella - Mariel le Roux

Скачать книгу

nie, met net genoeg drif om die somerson se hitte te troef. Die vlieërplankryers sal eers later opdaag, wanneer die wind sterker is. Fyn sandkorrels tref my nou en dan teen die kant van my bene hier op my duin. My kop loop ekstra ver draaie met my vandag. Ook na Gideon, na Nicky en ons mynbestaan.

      Ek raak aan die brief in die sak van my romp. Die laaste brief uit die groen lêer wat ek ’n week gelede op my bed gekry het, het my onverwagse vastrapplek geword. Ek het nie nodig om dit nie te lees nie. Die inhoud ken ek reeds.

      * * *

      Dis Gideon wat vroeg met troustories begin het, amper veertig jaar gelede. Ek was negentien, hy twee jaar ouer. Ons was albei universiteitstudente. “Ek maak klaar vanjaar en ek los jou nie hier nie,” het hy ernstig gesê. Dit was tydens ons heel eerste wandeling op hierdie strand. Ons het mekaar toe net ’n paar maande geken.

      “Jy is te haastig,” het ek probeer wegskram. “Gee bietjie kans. Waarheen wil jy in elk geval volgende jaar verkas?”

      “Ek gaan aanhou karring tot jy instem,” het hy volgehou. “Waarheen ek op pad is, weet ek nog nie, maar dis nie plaas toe nie. Dit het ek jou al gesê. Daar is nie genoeg ruimte vir my en my pa nie.”

      “Ons is nog jonk. Ek wil my kursus klaarmaak. Oor net ’n paar jaar kan jy vir my kom hande klap by die gradeplegtigheid.” Ek het my verskonings versigtig aangebied, om hom nie weg te dryf nie. “Ek wil eers geld spaar, linne koop, ons kan gaan reis en daarna wil ek genoeg tyd hê om my troue behoorlik te beplan.” My lys verskonings het vir myself flouerig geklink. Ek wou wag, maar nie ten alle koste nie. Ek wou Gideon nie verloor nie. Elke dag het ek uitgesien na sy geselskap. Ons het baie gelag, ek het bederf gevoel met al die aandag waaraan ek nooit gewoond was nie. Hy was aantreklik, die lang, skraal, gewilde jong man met sy songebleikte kuif en sy ligbruin oë. Almal se vriend.

      ’n Aanbod van ’n myn in die Noord-Kaap net ’n paar maande later, het alles verander. Gideon was vuur en vlam. Dit was net ná Nuwejaar.

      “Daar is ’n pos oop vir ’n ingenieur, Isabella. Die salaris is ruim, ons kan lekker lewe,” het hy gesê voor ek weer met my lys verskonings kon begin. “En hulle het ’n baie suksesvolle rugbyspan,” het hy uitgebrei. “Ek is jonk, my sportloopbaan is op ’n hoogtepunt. Ek kan ingetrek word by die Ammosal-klub wat spelers kry van die myne in die omgewing daar. Dis ’n wonderlike geleentheid. Griekwas se rugbyspan bestaan deesdae bykans net uit Ammosal-manne. Hier onder het ons vir Dok Craven en in die Noord-Kaap het hulle vir Jumbo Harris. Hy swaai die septer daar. Hy is een van die grootbase in die mynomgewing en invloedryk in die rugbywêreld. Dis ’n droom wat vir my waar geword het. En ek sê sommer reguit, ek het groot ideale vir my rugbyloopbaan.”

      Hy het hierdie toespraak goed voorberei, het ek geweet toe hy halfuitasem klaarmaak. Ons was weer hier op die sand langs die branders. Dit het toe reeds ’n ruk gelede ons gunstelinguitspanplek oor naweke geword. Dit was vir ons maklik om hier te kom. Gideon het ’n motor gehad, hy was ’n senior met ’n ruim sakgeldtjekkie elke maand. Hy het dit aan my verduidelik toe ek die eerste keer kapsie gemaak het teen onkoste. “My pa betaal my om weg te bly van die plaas af,” het hy gesê. “Sy nuwe vrou is jonk en mooi.” Toe het hy gelag. Te hard, het dit vir my geklink. “Dalk is hy bang ek vry haar af.” Hy het ver oor die wit skuim van die water gekyk, in die rigting van Tafelberg. Die stad se liggies het een-een begin aanknikker. Hy was ’n hele paar minute stil, ek ook.

      “Ek moet binne dae sê of ek die aanbod by die myn aanvaar of nie.” Gideon se stem was hees van opgewondenheid. ’n Koel seebries het om ons begin speel en hy het sy arm om my lyf gesit, my onder sy blad ingetrek. “Eendag gaan ek en jy onder Tafelberg langs die waters aftree, maar vir nou vat ek jou eers saam.” Toe hy my nog stywer teen hom vasdruk, kon ek die hitte van sy liggaam voel. Sy entoesiasme het my meegevoer.

      “Waar in die Noord-Kaap is die myn?” het ek gevra om bietjie tyd te wen.

      “In so ’n soort driehoek noord van Upington en Kimberley,” het Gideon verduidelik. “Dis ’n kans in ’n leeftyd, daar is ’n huis vir ons en jy kan enigiets deur die pos leer as jy wil.” Hy het doodstil voor my kom staan, my gesig tussen sy hande vasgehou en my in die oë gekyk. “Trou met my, Isabella, asseblief. Ons sal saam al die struikelblokke doodvee.” So oorweldigend haalbaar het sy oorreding vir my op daardie oomblik geklink.

      Ek was in ’n hoek, het dit my gevoel. ’n Gryskopvrou se woorde in die laaste weke van die tweede semester het in my kop gedreun. “Dis die klein jakkalsies,” het sy daardie dag afgemete begin terwyl sy oor haar bril vir my geloer het. Ek het oorkant haar lessenaar gestaan. “Dis die klein jakkalsies, juffrou Dickson, wat jou in die hakskeen byt, wat jou van die spoor af stamp. En klein jakkalsies word groot.” Sy het haar lywige agterstewe verder na agter op haar sitplek geskuif, haar borste op die lessenaar geanker en in die lêer met my naam op die omslag geblaai. “In ons beroep …” sy het die lêer toegemaak, dit in my rigting oor die lessenaar gestoot en aan die swaar gelaaide epoulette op haar skouers gevat, “in die verpleegberoep is daar ook ’n gevoelsinhoud waarin jy, volgens jou verslae, nie slaag nie. Jou sosiale vaardighede is afgeskeep.” Sy het haar asem diep ingetrek, haar bril van haar neus afgehaal en my in die oë gekyk. “By jou, juffrou, vermoed ek, lê die versperring stewig en diep geanker en is die jakkalse uitgegroei. Dit gaan jou pootjie in jou lewe. Jy kan wel bietjie beheer toepas, maar net as jy kan toneelspeel. En dan moet jou vertoning uitmuntend wees.” Die vrou op die stoel oorkant my het my geroskam. “Jy staan kil teenoor jou medemens. Ek hou jou al ’n ruk dop. Jou skrifte bly feitlik foutloos, maar ek sien nie dat jy deur die skans om jou probeer breek nie. Dit laat jou stom. Jy sal jou vertoning moet opknap.” Toe het sy my met haar hand uit haar kantoor gewuif.

      Ontvlugting, het ek daar op die strand gedink. My hart het gewen.

      “Ja,” het ek geantwoord. “Ja, Gideon, ek wil graag met jou trou.”

      Gideon het nie kom ouers vra nie. “Ek kom jou mense nooi om ons huweliksplegtigheid te kom bywoon,” het hy my vooraf gewaarsku. “Ek gaan hulle nie die kans gee om my uit te gooi nie.” Hy het geskerts, maar ek kon onsekerheid in sy stem hoor.

      “Ek is nou seker groot genoeg om my eie besluite te neem. Ek doen dit in elk geval al jare lank.” My bravade was ook maar dun.

      Nog voor Gideon klaar verduidelik het van die werk by die myn en die voordele van ’n huis en wat daarmee gepaardgaan, was Daddy in ’n migraine in. Maar ek het dadelik geweet. Dit was nie oor die troue nie. Dit was oor die skande. Ek ken my pa se agterdog. Ek het geweet wat sy eerste gedagte sou wees. Hy sou dink sy jongste dogter het haar vasgeloop in ’n duiwel met onheilige gedagtes in sy broek waarvan die gulp oopgespring het. Hulle het oor die tou getrap, en nou is daar ’n baba op pad. Dit, weet ek, is wat in sy kop aangegaan het en ek het hom nie reggehelp nie.

      Ma het geswyg, meer as ’n uur lank by die eetkamertafel bly sit nadat Gideon weg is, haar hande op haar skoot gevou. Dalk het sy ook gewonder, dalk was haar gedagtes by haar lot van lank gelede.

      Queenie egter, het ingespring, beheer geneem. Soos gewoonlik en sonder dat daarvoor gevra is. Sy het Daddy in die kamer gaan pamperlang, Ma van die tafel af op gekry en haar verseker dat haar swart rok goed genoeg sou wees vir die troue. Toe het sy my onder hande geneem. “As dit dan nou moet, dan moet dit seker. Ek weet net nie of jy opgewasse gaan wees vir so ’n harde bestaan nie,” het sy gesug. Daarna het sy my haarfyn vertel wat ek moet inpak in my tas om op godverlaat te gaan oorleef. Godverlaat het vir Queenie aan die voet van die bergpasse om die Kaap begin.

      Die aanloop tot ons troue net ’n week later was vir my ’n nagmerrie, ’n antiklimaks selfs groter as wat ek verwag het, ’n ontnugtering. Ek het tog gehoop vir ’n bietjie opgewondenheid vir my en Gideon vir ’n gelukkige huweliksdag, maar die oggend van die troue het met dieselfde

Скачать книгу