Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux страница 23

Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux

Скачать книгу

sy ’n maand later die deur van haar nuwe huis oopsluit. Sy stap stadig deur een leë vertrek na die ander en is bly om te sien daar lê ’n matras in een slaapkamer waarop sy darem die eerste nag sal kan slaap. Sy wens Roland was daar. Hy stel altyd belang in wat sy doen en luister aandagtig na haar vertellings en verduidelikings. As hy nou hier was, sou hulle saam kon besluit.

      Sy onderdruk hierdie gedagtes en loop later na die enigste winkeltjie, waar sy koffie en melk en iets te ete kry. Terug by die huis gaan sit sy op die stoep en kyk uit oor die see. Dis ysig koud en sy trek twee truie en haar baadjie aan. Sy skrik toe die telefoon skielik êrens in die leë huis lui.

      Dis Roland, besef sy dadelik. ’n Opgewekte Roland wat klink asof hy in die kamer langs haar staan.

      “Hoe lyk jou huis?” vra hy.

      “Pragtig,” sê sy, so bly om sy stem te hoor. “Baie koud op die oomblik.”

      “Ek het gehoop ek kry jou nog daar,” sê hy nadat hy verder uitgevra het.

      “Ek is mos hier vir twee weke,” antwoord sy verbaas.

      “Ek het bedoel voordat jy hotel toe gaan.”

      “Watse hotel?”

      “Victoria,” sê hy kwaai. “Die huis is dan leeg. Jy kan mos nie so daarin bly nie.”

      “Daar’s ’n matras in die een kamer,” sê sy. “En ek het linne saamgebring.”

      “Jy kan nie op die matras slaap nie! Jy moet dadelik na ’n hotel toe gaan. Het jy ’n motor gehuur op die lughawe soos ek gesê het?”

      “Ja,” sê sy. Dit het vir haar na ’n vermorsing van geld gevoel, maar sy moet erken, daarsonder sou sy hulpeloos gewees het.

      “En vanaand gaan ek ’n lys maak van alles wat nodig is en môre ry ek dorp toe om te koop.”

      “Dis goed,” sê hy. “Maak gou die lys voor jy na die hotel toe gaan.” Sy grinnik effens nadat sy die telefoon neergesit het. Hotel. Watse hotel? Moet sy nou al die pad dorp toe ry en daar stoksielalleen in ’n hotelkamer gaan sit? Sy trek haar liewer warm aan en gaan stap vér langs die see. Daarna haal sy haar notaboek uit en begin lyste maak.

      Sy slaap inderdaad nie goed nie. Die matras is dun en hard, die komberse is te min en sy is bly toe dit lig word. Sy wens net sy kan die triestige gevoel afskud. Hierdie huis is ’n droom wat waar geword het, dis wat sy wou hê. En soos in ’n feëverhaal het die prins net sy toorstokkie geswaai en sy kan alles gaan koop wat nodig is, sonder om sente om te draai. Sy is eensaam, dis wat verkeerd is.

      Sy wil nie alles op haar eie doen nie, sy wil nie alleen in die mooi huis bly nie. Soos Marlise vir haar gesê het: Jy het vir jou ’n bed opgemaak waarop jy moeilik gelê gaan kry. Is dit wat gebeur het? Is die kontrak nie meer goed genoeg nie?

      Nee, erken sy ruiterlik, dit is nie. Sy wens Roland was ook hier. Sy wens hy het van haar gehou. Sy wens hy het haar ontmoet en vir haar lief geword en besluit sy is …

      Victoria onderdruk die gedagtes met geweld en gaan bad om warm te word. Sy staan nog in die handdoek toegedraai toe die telefoon weer lui. Haar hart bons. Miskien is dit weer Roland en het hy besluit om sy reis kort te knip en by haar aan te sluit. Maar dis Karien.

      “Haai,” sê sy vrolik. “Weet jy waar ek is? In Kaapstad. My vriend Saul moes skielik kom, toe ry ek saam en hier is ek nou en ek wonder toe skielik wat doen jy.”

      “Karien,” sê Victoria oorstelp. “Kan jy op Duinebaai kom? Ek moet vandag begin meubels koop en dis alles ’n bietjie oorweldigend.”

      Karien is nie iemand wat haar ooit laat onderkry deur praktiese probleme nie. Hoe sy Saul oorreed het om haar Duinebaai toe te bring, weet Victoria nie, maar twee uur later is sy daar.

      Sy lag toe sy sien hoe Victoria uit die enigste ou pannetjie moes eet, bewonder die huis en ry saam Hermanus toe, waar hulle die winkels invaar.

      Victoria moet haar suster die hele tyd teëhou, want Karien se smaak is bietjie uitspattig en eintlik is sy self gelukkiger in die antiekwinkel, waar sy ’n effens verweerde geelhouttafel en agt stoele kry. Karien flankeer so met die verkoopsman dat hy instem om teen geringe koste die tafel en stoele af te lewer.

      Die volgende paar dae is baie besig. Victoria kry omtrent nie kans om langs die see te gaan stap nie. Sy is ook maar bly toe daar ’n sifreëntjie begin val, want sy kan in elk geval nie haar voete uit die huis sit nie. Elke paar uur klop nog iemand aan die deur om meubels af te lewer, ’n yskas of wasmasjien te bring of goed te installeer. Karien is van groot hulp, al is dit net omdat sy Victoria se gedagtes van Roland aflei. Hulle pak die eetstel en kombuisgoed uit, meet gordyne en ry heen en weer dorp toe.

      Toe sy vyf dae later vir Karien terugneem Kaapstad toe, gaan kuier hulle eers by haar pa. Hy is baie bly om hulle te sien, en alhoewel Karien die meeste van die tyd babbel, kry Victoria en haar pa tog ’n paar oomblikke alleen.

      “Is jy gelukkig, meisiekind?” vra hy vir haar.

      “Ja, Pa.”

      “Dié Roland van jou is ’n gawe man,” sê hy. “Ek het nie gehou van julle skielike besluit om te trou nie, maar nadat ek hom gesien het, voel ek heel gerus.”

      Sy glimlag net.

      “Hy sal goed vir jou sorg, mens kan dit sien.”

      “O ja,” stem sy saam. “Dit doen hy ook. Pa-hulle moet kom kyk na my … die mooi strandhuis.”

      “Ja-nee,” sê hy. “Dit klink nie vir my asof die man ’n tekort aan geld het nie. Is hy nou weer heeltemal gesond?”

      “Ja.”

      “Dis goed so. Jy moet hom mooi oppas.” Gelukkig verander hy die onderwerp. “En wat is dit van Karien en sy beste vriend, dié Peter?”

      Victoria lag. “Ja, sy en Peter gaan uit, maar soos Pa kan sien, beteken dit nie sy los die ander mans uit nie. Sy gaan ewe veel met hulle ook uit.”

      “Ag, sy’s nog jonk,” sê hy toegeeflik. “En sy was nooit so verantwoordelik soos jy en Marlise nie – veral jy. Dis hoekom ek so bly is jy het jou Roland gekry. Jy was gans te ernstig vir jou leeftyd.”

      Toe Victoria laatmiddag terugry, maal haar pa se woorde nog steeds deur haar kop. Roland is nie hare nie en sy het hom ook nie gekry nie. Die gedagte stem haar weer droewig, maar toe sy voor haar huis stilhou, voel sy vir die eerste keer tuis. Dis háár huis, dink sy toe sy oopsluit. Dis regtig hare en dis gevul met meubels wat sý uitgesoek het. Sy skakel die ketel aan, maak die kombuiskassies oop en kyk na al die blinknuwe potte en panne, borde en messegoed. Die gezoem van die nuwe yskas is ’n vertroosting. Sy maak dit oop en kyk na die kos wat netjies op die rakke uitgepak is.

      Later gaan sit sy op die stoep en eet, haar blik op die see. Toe sy gaan slaap, voel sy gelukkig en rustig. Maar in haar slaap hoor sy iemand na haar roep – ’n fluisterstem wat sy herken. Dis Roland wat na haar roep. Sy maak nie haar oë oop nie, sy glimlag net. Hy buig oor haar, sy is seker sy kan hom voel. Hy steek sy hand uit en raak aan haar gesig en sy druk haar lippe teen die palm van sy hand. Hy bly haar ontwyk, maar sy weet dis hy en sy skuif eenkant toe in die groot bed om vir hom plek te maak. Hy hou haar vas en sy voel sy hande oor haar lyf streel, maar toe sy haar arms uitsteek om hom stywer teen haar vas te trek, is daar

Скачать книгу