Kamikaze. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg страница 17

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Kamikaze - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

      “Ons?”

      “Die ouetehuis.”

      “Wat moet ek doen?”

      “Barend se medaljes is gesteel.”

      “Wie’s Barend, Ma?”

      “Barend Erasmus, ’n goeie vriend. Hy bly in dieselfde gang as ek, net drie kamers van my af.”

      “Watse medaljes is dit?”

      “Atletiekmedaljes wat hy desjare gewen het. Hy was nogals ’n Springbok-atleet op sy dag.”

      Kassie sug. “Ma, ek kan julle nie help nie. Julle moet ’n klag van diefstal by die Bellville-polisiestasie aanhangig maak. Hulle sal die skuldige tjop-tjop kry. Seker ’n skoonmaker gewees.”

      “Dit was g’n skoonmaker nie,” sê sy ergerlik. “Dis iemand in ons gang wat die medaljes gesteel …”

      “Ma, ek kan nie help nie. Dis die Bellville-polisie se job.”

      “Hier was ’n konstabeltjie van Bellville by die ouetehuis.” Sy snork. “Nie gelyk of hy iets daaraan gaan doen nie. Hy’t skaars ’n verklaring afgeneem.”

      “Hulle is ook maar besig, Ma. Gee hom kans.”

      “Nee, Seunie, hy gaan g’n die saak oplos nie. Jy sal móét ingryp. Buitendien, ek het hulle klaar belowe jy sal beslis help.”

      “Hoe kon Ma so iets doen!” Kassie wil sy hare uit sy kop trek.

      “Omdat jy ’n goeie speurder is en omdat jy my seun is. En jy sal nóóit toelaat dat ’n dief jou ma se vriende besteel nie. Daarvoor is jy te ’n lojale seun en ’n trotse geregsdienaar.”

      Hy rol sy oë, haal ’n sigaret uit die pakkie en steek dit aan. “Oukei, Ma, ek sal een of ander tyd ’n draai daar maak. Ek’s nou net vrek besig.”

      “Dankie, Seunie. Ek het geweet ek kan op jou staatmaak.”

      Hy vat ’n lang trek. “Bye, Ma.”

      “Seunie, hoe klink dit vir my jy rook weer? Sê tog vir my ek hoor verkeerd!”

      Kassie sit die gehoorbuis neer. Hy loop badkamer toe en druk ’n paar druppels Rescue Remedy op sy tong uit.

      Hoekom kan mense hom nie met rus laat nie? dink hy gebelg. As dit nie ’n oudkollega is wat sy lewe met ’n enkele oproep opfok nie, of ’n bevelvoerder wat hom van rassisme beskuldig nie, is dit sy ma wat sy ritme met ouetehuis-stront versteur.

      14

      Die Pion trek swaar. Die inhoud van die polisiehandleiding loop sy spoke trompop. Dit verniel sy persepsie van homself, krap hom om en verwar hom.

      Is hy regtig gereed om met dié materiaal gekonfronteer te word? wonder hy. Maar vir hoe lank kan hy die spoke nog met slaappille weghou? Sy meditasiemuur verkrummel ook vinnig. Hy móét eenvoudig deurdruk.

      Daarom trek hy die ringlêer nader, klem die armleunings van sy stoel vas en begin lees waar hy laas opgehou het.

      Uretrale erotisme verwys na die plesier wat verkry word deur te urineer, terwyl uretrale retensie soortgelyk is aan die kind wat sy faeces probeer terughou. Kontrole is ook hier ter sprake. Baie van die anaal-sadistiese kenmerke word oorgedra na hierdie fase. Die kind beleef sy urine as ’n gevaarlike gifstof of suur wat in staat is om te vernietig.

      Die Pion se liggaam bewe onbeheers, maar hy dwing homself om voort te gaan.

      Indien daar gevind word dat die verdagte bo-op die lyk, of veral op die gesig, urineer, kan dit beteken dat die verdagte die identiteit (gesig) van sy moeder (vroulike slagoffer) probeer vernietig. Hy kan ook oor die vroulike slagoffer se geslagsdele urineer, wat beteken dat hy baie bedreig voel deur vroue, veral deur vroulike seksualiteit en dit op hierdie wyse probeer vernietig. So ’n persoon kon as kind deur ’n ouer vrou verlei gewees het …

      Die Pion kners op sy tande. Hy kan nie verder lees nie. Die letters op die bladsy sweef voor sy oë rond. Dit maak hom naar.

      ’n Onderdrukte kreet ontsnap deur sy saamgeperste lippe toe hy voel hoe sy onderlyf reageer. Hy skeur die bladsy uit en frommel dit in ’n bondeltjie op, prop dit in sy mond en begin kou. Sy kake maal onverpoos totdat hy die deurweekte stukke papier op die lessenaar uitspoeg.

      “Julle sal my nie as ’n reeksmoordenaar etiketteer nie,” prewel hy. “My omstandighede was anders. Heeltemal anders … anders … anders.”

      Hy besef hy verloor beheer. Sy kop klop pynlik en sy hart bokspring in sy bors.

      Hy storm badkamer toe. Sy hande bewe toe hy die bad se warm kraan oopdraai. Hy trek sy baadjie en broek uit en smyt dit op die vloer. Maak sy das los en pluk sy hemp van sy lyf af. Hempsknope reën op die teëlvloer neer.

      Die water brand sy naakte lyf toe hy inklim en gaan sit, maar hy byt op sy tande en seep die langsteelskropborsel in.

      “Heeltemal anders … anders,” prewel hy terwyl hy sy rug met lang hale skrop. Behalwe vir sy bolyf en tone is die kop van sy erekte penis al wat bo die water uitsteek.

      * * *

      Louisa Maritz is ’n uitsonderlik aantreklike vrou, besef Moos opnuut. Blonde krulle, diepblou oë, kuiltjieglimlag en die lyf van ’n Miss Universe. Hy neem die koppie koffie wat sy na hom uithou en gaan sit oorkant haar op die rusbank.

      Sy’t die koerasie van die manne by die munisipaliteit omtrent die hoogtes in gejaag, onthou hy. Glo lekker bedrywig in die bed gewees met die kantoor se testosteroon-hunks, selfs ’n paar se huwelike amper verongeluk. Sy’t nooit weggeskram van ’n skelm verhouding nie.

      Nou, pas dertig en steeds ongering, is sy vir hom amper meer sexy as in haar jonger dae. Asof die rypheid in jare haar effens voller figuur vervolmaak het, sodat die sagter lyne van haar lyf selfs strelender op die oog is.

      Sy kruis haar lang bene onder die kort rokkie en glimlag vir hom. Sy hart fladder liggies en sy asemhaling verloor ritme. Hy moet hom regruk, besef hy. Sy besoek hier gaan oor gewigtige landsake, nie oor sy eie drifte nie.

      “Jy’t ’n lekker uitdaging vir my,” sê sy. “Laat ons hoor.”

      Moos druk sy bril hoër op sy neusbrug, neem ’n slukkie koffie om sy stembande te olie en kug ’n paar keer om formaliteit aan die verrigtinge te verleen.

      “Dit wat ek jou nou vertel, Louisa, mag jy onder géén omstandighede met iemand anders bespreek nie.”

      Sy knik. “So help my God.”

      Die geamuseerde klank in haar stem bekommer hom. Dis nie nou die tyd vir ligsinnigheid nie. Maar hy sal moet deurdruk.

      Eers skets hy sy eie posisie by die SSA, bevorder homself na senior agent om die belangrikheid van die saak te onderstreep. Dan vertel hy haar alles oor Imran Hafeez, Suleiman Khan en Naas Kuyler. Hy skets ook kortliks Kuyler se oënskynlike huweliksprobleme.

      Haar wenkbroue lig. “Wat kan ék daaraan doen?”

      Moos

Скачать книгу