Marlene en die macho man. Anita du Preez

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Marlene en die macho man - Anita du Preez страница 5

Marlene en die macho man - Anita du Preez

Скачать книгу

Asof daardie vingers die enigste iets in haar heelal is. Haar brein volg die spoor van sy streling asof haar lewensbestaan alles saamgetrek het tot daardie een deeltjie van haar wat smagtend roep na meer.

      Uiteindelik, dink Marlene en sy glimlag salig in die loom skemerte. Sy gaan net vergeet van alles en haarself oorgee. Hoe lank wag sy nie al hiervoor nie? En toe hy omrol en sy warm mond hard oor hare vou, soen sy hom terug met ’n drif en ’n ongeduld wat selfs vir haar, as buitengewoon warmbloedige vrou, ongewoon is. Sy hoor hoe Tom na sy asem snak. Om hom so te hoor, maak lank verborge drifte en emosies diep in haar los. Dat sy en Tom hulle uiteindelik so aan mekaar oorgee, is amper te veel vir haar.

      “Sjoe, Babe! Is jy seker?” vra hy hees. Hy kom orent op sy een elmboog en buig oor haar. Asof hy wil sien dat sy soos hy voel. Sy voel die deining van sy borskas. Sy lippe is effens vanmekaar en sy asem onegalig, rukkerig teen haar gesig. Sy lyf voel soos ’n snaar gespanne, sy blou oë vraend, besorgd in hare en sy stem laag.

      “My Babe?”

      “Ja, Tom,” fluister Marlene, “asseblief. Ons hoef nie langer te wag nie, nóú.” En hy luister vir haar. Hy leun swaar oor haar en vroetel na die eensame kondoom in haar bedkassie. Alles neem hopeloos te lank, maar toe al hul klere uiteindelik op die vloer langs die bed lê en sy hom daar digby haar voel, gereed vir haar, is hy vir haar op daardie oomblik meer dierbaar, meer begeerlik as ooit. Hy is bokant haar en sy sien die wit glim van sy tande in die oggendlig wat soos halfskemer deur die dik kamergordyne sypel.

      “Asseblief, Tom,” pleit sy en slaan haar bene om sy lyf.

      En net toe bars daar iewers ’n helse lawaai los. Sy voel hoe Tom se skouers ruk. Hulle los mekaar en rol onmiddellik weg soos twee skuldige tieners wat oor die tou wou trap. ’n Senuagtige giggel ontsnap uit Marlene se keel. Sy wonder vir een oomblik of die geluid in haar kop is. Of sy dalk terug is by die werk met die kakofoniese protesgedruis. Met ’n diep sug sak Tom met sy hele gewig op die matras langs haar neer.

      “Waddehel?”

      Marlene blaas haar asem stadig, bewerig uit terwyl sy luister.

      “Weed eater,” sê sy, nog effens uitasem. “Langsaan. Tuindienste. Woensdagoggende. Klokslag 09:30.” Moedeloos sak sy terug in die kussing.

      “Goeie bliksem,” sê Tom.

      Marlene het nie woorde nie.

      “Jammer, nie so nie. Nie met dáárdie lawaai nie. Jammer.”

      “Ek weet,” fluister sy uiteindelik.

      Hulle praat niks verder nie. Elkeen lê en stoei met hul eie gedagtes. Marlene kan letterlik voel hoe ’n vreemde soort skaamte oor wat hulle probeer aanvang het, weer tussen hulle kom lê, presies soos op die spons-springmat in die stoorkamer vir gimnastiekapparaat van Hoërskool Sonnekus, sewentien jaar gelede.

      “Dis beter so,” hoor sy Tom sê en sy voel hoe hy sy hand in ’n troosgebaar swaar tot op haar heup laat sak. “Blessing in disguise. Ek voel ons eerste keer weer saam moet darem iets spesiaal wees. Nie sommerso terloops as ons albei moeg is nie – en veral nie met dáárdie byklanke daar buite nie. Oukei?”

      “Oukei,” fluister Marlene gesmoord. Maar sy is glad nie seker of sy saamstem nie. Ook nie of sy hom glo nie. Blessing in disguise se flippen voet, dink sy, ons is grootmense! Iets voel glad nie reg nie. Ons behoort nou hieroor te praat, selfs te lag, dink sy wanhopig in die groeiende stilte. Dis tog nie die einde van die wêreld nie. Shit happens. Hulle kan ’n grappie maak, opstaan en gaan koffie maak of iets. Die lug suiwer. Hy kan sê dis nie so ’n big deal nie. Dis maar hul eerste probeerslag na soveel jaar. Dat dit sal regkom.

      Hou my vas, Tom, dink sy. Maar hy lê net daar. Sy ook. En dit voel vir haar nou darem baie soos verwerping. Vernedering. Hy kan haar tog seker nie nou nog kwalik neem vir iets wat gebeur het toe hulle albei kinders was nie? Tom met sy romantiese idees oor hoe die eerste keer nou eintlik moet wees.

      En toe Tom se asem na ’n ruk langs haar rustig raak, voel sy lus en huil saam met die onaardse gekerm van die masjien buite haar kamervenster. Hy kan darem slááp met die gedruis, al kan hy blykbaar nie doen wat sy graag wou nie. Met ’n nare hol kol op haar maag rol sy tot op die verste puntjie van haar kant van die matras terwyl sy voel-voel na haar iPod langs die bed. Gelate oorweeg sy haar slaap-opsies. Dolfyngeluide? Nee. Voëlgeluide? Huh-uh. Branders wat suis? Asseblief nie. Haar vinger gly af oor die lysie. Eintlik soek sy geen geluide ná wat so pas gebeur het nie.

      Sy klik geïrriteerd op Mozart en draai die klank baie laag en sit haar foon half onder haar skouer sodat sy die vibrasie sal voel as dit lui. Maar toe sy na wat soos ure voel, nog steeds nie kan slaap nie, reik haar hand oudergewoonte na haar bedkas se laaitjie en haar vingers krabbel vieserig om die pakkie Zopivanes raak te vat. Want face it: As sy eerlik is, is dit nie die gedagte aan die ontydige weed eater of die onopgeloste misstap van hul kinderdae wat die meeste in haar kop lol nie. Nee, die ding wat haar slaap wegjaag, is die blote feit dat Tom basies nee dankie gesê het toe sy haarself so pas feitlik op ’n skinkbord vir hom aangebied het. Dís die ding wat sy nie afgesluk kan kry nie, dink sy toe sy die bitter slaappilletjie met nog ’n sluk water in haar keel probeer afspoel.

      Toe sy wakker word, is die leegheid om haar oorverdowend. Marlene weet onmiddellik dat Tom weg is. Haar hand vind die oop spasie op die bed langs haar om seker te maak. Al wat sy voel, is die los oorfone wat sy in haar slaap moes uitgewoel het. Sy soek haar selfoon. Dis halfvier. Sy het byna veertien uur lank vas geslaap, besef sy toe sy dronkerig opstaan om vir haar oggendkoffie te gaan maak.

      3

      Marlene laat die enjin van haar voertuig ’n rukkie voor die Rondebosch-aanklagkantoor luier. Vir een oomblik wens sy inniglik dat niks van die dramas daar binne haar probleem hoef te wees nie. Haar gemoed is nie reg vir hierdie dag nie. Nie na wat tussen haar en Tom gebeur het nie. Sy wens sommer dat sy liewer hairdressing gaan swot het, soos haar ma so graag wou hê. Of arbeidsterapie, wat sy self graag sou wou studeer het as daar geld was vir vier jaar op universiteit. Maar nee, omdat Petrus Burger so graag iemand wou hê om in sy luisterryke voetspore as polisieman te volg, en sy wat Marlene is altyd “daddy’s girl” was, is sy mos polisiekollege toe. En haar slimkop broer Hardus het die gaping gesien en nou is hý ’n hairdresser. Met geweldige attitude en hordes aanbiddende vrouekliënte wat hom “Hardy” noem. Met sy eie bitter fênsie salon, ’n silwer Porsche Cayenne, plus ’n sexy vroutjie en twee oulike kindertjies. En sy? Een flop van ’n huwelik, een halwe boyfriend, ’n half gerestoureerde huisie en ’n maatskappyvoertuig.

      Maar luitenant-kolonel Marlene Burger laat niks hiervan blyk toe sy by die aanklagkantoor instap nie. Sy rig haar tot haar volle lengte op en sit haar ek-is-totaal-in-beheer-uitdrukking op haar gesig toe sy almal groet en verbyloop na haar kantoor. Toe sy haar skootrekenaar op die vol lessenaar neersit en alles rondom haar sien en ruik, weet sy sy is waar sy hoort. Waar sý in beheer is. Hier, waar elke uur ’n werklik splinternuwe lewensdrama afspeel. Nee wat, in ’n haarsalon sou sy happe in mense se hare geknip het van frustrasie. Of sy sou reënboog-zigzags in tannies se hare gekleur het uit pure doodse verveling na sy nóg een se kapsel moes perm en set, mymer sy toe sy haar jas aan die kapstok ophang.

      Kaptein Buzani steek sy kop om die deur. “Môre, kolonel, lekker gerus?”

      “Ja, dankie, kaptein,” lieg Marlene gladweg. Sy is nie seker of alles wat sy die afgelope vier-en-twintig uur aangevang het as rús bestempel kan word en of dit vir haar lekker was nie.

      “Dis goed,” knik hy. “Ons is gereed vir inspeksie, u kan maar kom.”

      “Alles

Скачать книгу