Vet feetjies vlieg nie. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vet feetjies vlieg nie - Kristel Loots страница 7

Vet feetjies vlieg nie - Kristel Loots

Скачать книгу

Iets roer in my, iets nogal erg skandelik. Want ’n man wat so opgewerk kan raak oor ’n projek, sal seker ook ’n vurige minnaar wees. Ek onderdruk die onkuise gedagtes met alles in my. Dis hierdie hongersnood waarin ek my bevind wat dit meebring, hierdie hunkering in my, die begeerte na ’n man wat sy arms om my sal slaan en my styf teen sy bors sal hou.

      Miskien moes ek Mario nie so maklik laat gaan het nie, miskien moes ek hom tog maar probeer verlei het terwyl hy binne trefafstand was. Maar ek weet ook dat Mario nooit meer as my computer guy kan wees nie. Nie hy óf iemand soos hierdie Billy Bruwer sal my honger kan stil nie. Iewers móét daar asseblief tog ’n doodgewone gemiddelde man wees wat vir my bestem is, iemand wat nog êrens vorentoe uit die krake sal kruip om my vir hom te kom haal. Ek moet dit glo sodat ek nie op die dak van die woonstelgebou sal gaan staan en howl at the moon soos ’n hartseer hond nie.

      “Dink Evita Bezuidenhout, dink komediante wat feitlik met karaktermoord wegkom en daarin slaag dat hul slagoffers saamlag,” dawer Billy se stem voort. “Dink Trevor Noah dalk, selfs Leon Schuster, maar met die kop uit die toilet. Dink stylvol, dink sofistikasie, maar met heilige koeie by die venster uitgegooi.”

      Hierdie man se geesdrif is genoeg om ’n vuurpyl die ruimte in te stuur. Maar of hy so iets gaan regkry sonder om kniediep in die moeilikheid te beland, is ’n ander vraag.

      “Ek verstaan nog nie waarom jy my, of dan eerder vir Funky Feetjie, genader het nie,” sê ek toe hy asem skep.

      “Ek wil natuurlik hê jy …” Hy glimlag. “Of dan sý, die funky feetjie in jou, moet vir Uniseks skryf. Iets soos die Funky Feetjie-blog wat tans op die internet verskyn, maar só dat ons dit in die papiertydskrif én die e-uitgawe as ’n gereelde rubriek kan publiseer.”

      Hoor ek reg, of het ek Billy Bruwer en wat hy sê opgetower soos ’n genie uit ’n bottel?

      “Hoe … hoekom ek?” stamel ek. “Hoekom Feetjie?”

      “Onder meer omdat jy – of sy – lekker funky is.”

      Ek voel hoe daar ’n gordyn oor my drome afsak. Blykbaar het Billy Bruwer nog nie genoeg van my van die nek af ondertoe gesien nie. Of so nie, is Skype my vanaand besonder genadig. Dit sal beter wees as ek die saak regstel, en hoe gouer hoe beter.

      “Jong, is die video aan jou kant aangeskakel?” vra ek en vat-vat aan my hare.

      “Helder en duidelik,” verseker hy my. “Ek sien als. Selfs die feetjie-mobile wat bo jou bed hang. Ek kan raai waar die Funky Feetjie-persona vandaan kom. Jy is duidelik ’n feetjie-fan.”

      Ek sluk. “You ain’t seen nothing yet.”

      “Wel, wat ek tot dusver sien, pas perfek by die profiel wat ek in gedagte het.”

      “Eerste indrukke kan helaas bedrieglik wees.” Ek haal my skouers op, skoon dom om die regte woorde te vind. “Ek is … eintlik glad nie funky nie.” Eerlikheid kom altyd teen ’n prys en ek moet bereid wees om dit te betaal. Dis nie asof ek iets het om te verloor nie. Billy Bruwer se belangstelling in Funky Feetjie was van die begin af gedoem. Die wêreld het nie regtig onderstebo gedraai nie, al het dit kortstondig so gevoel.

      “Vir my lyk jy funky genoeg en daardie boskasie van jou pas ook perfek by die ambience waarna ek streef.” Toe gooi hy ’n glimlag wat ’n laptop se monitor kan laat crash.

      Die oomblik is so intens dat ek dadelik iets moet doen om dit af te skaal. Ek lag hardop. “Ek is ’n regte huismuis, kuis en wys. Met ’n gewigsprobleem.”

      “Ek is nie hier vir jou lyf nie, Feetjie. Ek is hier vir jou funky.”

      “Ek bly in die Eugène Marais-woonstelblok in ’n besadigde deel van Bellville. Nét agter die boereworsgordyn, as jy weet wat ek bedoel. Suburbia op sy beste. Baie ver verwyderd van funky af.”

      “Ek het die voorstedelike vrou raak gelees in jou blogs,” verseker hy my met ’n laggie. “Voorstedelik én funky, ’n dodelike kombinasie. Menige man se droommeisie.”

      Ek is minder lus vir lag as hy. “’n Boeremeisie van agter die boereworsgordyn?” Ek hoop nie daar gaan met my en ander soos ek gespot word nie. “Met childbearing hips en wat nie sal huiwer om aan iets soos ’n bokdrolletjiespoeg-kompetisie deel te neem sodat sy as kampioen van die dag gekroon kan word nie? ’n Nooi van Helsdingen? Soos my ouma. Van die stoffasie wat die dorings oor die Drakensberge kaalvoet platgetrap het?”

      Ek babbel al weer.

      “Is dit ’n taamlik getroue beskrywing van jou?”

      “Ek het my ouma se naam en ek aard na haar, maar dit was nog nie vir my nodig om my vermoë om ver te spoeg te toets nie. Of om blootsvoet oor die Drakensberge te sukkel nie.”

      Dit lyk nie asof hy hom veel aan my en my sarkasme steur nie. “Media Uniek wil hê die stem van die nasie moet gehoor word.”

      “The common man?”

      “As jy dit so wil stel, ja.”

      Ek sluk swaar hieraan. “Gelukkig is daar ’n verskil tussen common en kommin. Ek is net nie altyd so seker waar ek inpas nie.”

      Hierop het hy niks te sê nie. Hy vra eerder: “Skryf jy voltyds?”

      Ek wil hard lag. Ek wat advertensies vir toiletpapier skryf. “As dit so was, sou ek van liefde en koue water moes leef.”

      Ek wens ek kon, want dan sou ek uiteindelik maer word. Die koue water is gelukkig volop, maar die liefde is moeiliker bekombaar.

      “Wat doen jy dan vir ’n lewe?”

      Ek weet wat wag. Die toneel wat hom gaan afspeel, sal die gewone wees. Ek ken dit asof ek self die draaiboek daarvoor geskryf het.

      “Ek is ’n belastingkonsultant,” sê ek met ’n sug. Eintlik verdien my werk nie so ’n fênsie benaming nie, maar ek probeer altyd om daarmee weg te kom. ’n Mens hét darem jou trots.

      “Werk jy vir jouself?”

      Dis wat ek behoort te doen, ek weet. Lekker stewige fooie vra en al die pad bank toe lag. Maar ek was nog altyd te chicken om die sprong te waag. Om my medies en versekering en dertiende tjek in gevaar te stel deur my eie ding te doen. Sowaar, ek het die moed en die aspirasies van ’n vlieg sonder vlerke.

      “Nee, ek werk vir SARS,” erken ek teësinnig.

      “SARS?” Hy spoeg dit behoorlik uit.

      “Dis reg, ja,” erken ek gelate. “Ek help belastingbetalers om hul vorms in te vul en gee raad oor waar hulle wettiglik kortings mag eis.” So probeer ek myself gewoonlik as meer van ’n engel en minder van ’n duiwel skets, maar dis selde suksesvol. Ek weet watter gevoelens dit by die meeste mense opwek wanneer ’n werknemer van SARS iewers kop uitsteek. ’n Mens sou sweer Jan Taks is my oom aan moederskant en ek sit naweke op sy skoot, te oordeel na hoe daar soms teen my opgetree word. “Ek kon nie dadelik ander werk kry na universiteit nie. Het voorlopig daar gaan werk en toe daar vasgeval.”

      Hoe verduidelik ek dit tog? Dat ek nie ’n baie avontuurlustige mens is nie. Nie van die soort wat Kilimandjaro uitklim nie. Of Kersfees in Timboektoe deurbring nie, nie uit vliegtuie spring, met of sonder ’n valskerm nie, nie op tafels dans en sommer rondslaap nie, en nie van werk verander as ek

Скачать книгу