Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 6

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman

Скачать книгу

      “Nie eintlik nie.” Margo bestel nog koffie en verander die onderwerp. “Ek is nie ’n slawedrywer nie. As die muse en inspirasie daar is, werk ek soms tot sesuur smiddae. Maar gewoonlik net soggens van nege tot een. Naweke is jy vry, tensy ons lus het vir fliek of die teater, of ’n uitnodiging kry vir ’n braai of ’n ding. Vita het gesê jy is bereid om in te woon. Het ek reg verstaan?”

      Carmia knik, die voorbehoude wat sy teenoor haar suster geopper het, vergete. Sy en Margo is op dieselfde golflengte. Sy hou van die ouer vrou en sal goed met haar klaarkom. Soos Vita gesê het: in teenstelling met haar skiewiejop by die koerant, is hierdie ’n gulde geleentheid wat sy met albei hande moet aangryp.

      “Skamanga is elf kilometer duskant Ballito en dalk ’n bietjie afgesonder. Sal jy nie eensaam wees en na Durban se opwinding verlang nie?” vra Margo.

      “Nee, want ek is nie ’n stadsmens nie. Lawaai en skares mense put my uit. Ek verkies stilte en rustigheid, weg van al die geraas. Solank ek ’n lekker dik boek het om te lees, is ek gelukkig.”

      “Vita – liewe kind wat sy is – is mos nie ’n leser nie. Te besig om pret te hê … Maar jy en ek kon ma en dogter gewees het,” antwoord Margo ingenome.

      Sy haal ’n papiertjie uit haar handsak, wat sy fronsend bekyk voor sy dit opfrommel en in haar piering plaas. “Deneys wil hê ek moet aftree, ophou skryf en my lewe gemakliker maak. Hy is nie ten gunste daarvan dat ek ’n assistent aanstel nie, maar ek is nog nie reg om ’n huislêer te word nie. Ek het hom oortuig dis net my hande wat lol, die res van my het nog baie woema. Uiteindelik het hy toegegee, met die voorwaarde van ’n lys vrae wat ek vir jou moet vra. Maar dis sommer nonsens. Ek kan mos sien jy is nie ’n skelm en ’n kansvatter nie.”

      ’n Skelm en ’n kansvatter? Carmia verstyf. Is dít wat Deneys Vermeulen van haar dink? Sy ouma dink die son skyn uit hom, maar sy weet sommer nou al sy gaan nie van die aanmatigende kaptein Vermeulen hou nie.

      Vita het ook nie. Hy het haar ’n migraine gegee … Wat het sy hom genoem? Dwars en dominerend. So befoeterd jy kan met hom ploeg.

      Carmia het ’n spesmaas dis ligweg gestel. Die man klink meer as net dwars en stroomop. Hy dink natuurlik hy’s kaas – net omdat hy geld het, blykbaar aantreklik is en ’n vliegtuig kan vlieg. Hoe moeilik kan dit nou wees? Seker nie moeiliker as ’n volgelaaide skaaptrok of ’n nukkerige trekker sonder remme nie. Sy is nie beïndruk nie, en sy gaan nie toelaat dat hy sy ouma of vir haar intimideer nie. Hopelik is hy dikwels weg van die huis af, sodat sy hom min te sien kry.

      “Ons hoef nie naweke rond te ry as jy nie wil nie,” opper Margo toe sy die frons en huiwering op Carmia se gesig lees. “Moenie voel jy sal heeltyd opgesaal wees met ’n bekwaalde ou vrou se geselskap nie.”

      “Dis nie opgesaal nie, dis ’n voorreg!” protesteer Carmia. “Ek is dol oor fliek en teater. Tussenin sal ons naweke omgesels en nuwe temas vir boeke bedink. Ek hou van motor bestuur. Ons kan baie rondry as jy wil. Of sommer net opgekrul in ’n groot stoel sit en lees.”

      Buitendien sal sy nooit aan Margo as “oud” dink nie. Daar is ’n klassieke skoonheid aan haar wat nie in tyd of ouderdom gemeet kan word nie.

      “En koffie drink,” las Margo by.

      Sy noem ’n salaris wat Carmia se oë laat rek. Amper dubbel wat sy by SeeSter gekry het, en dit vir minder as ’n voldag se werk, met huisvesting ingesluit? Dit klink soos die paradys – selfs met die slang ingesluit, in die vorm van die aggressiewe, vyandige ekskêrel van haar suster. Solank die kêrel net onthou sy werk vir sy ouma en nie vir hóm nie …

      Daar is nog baie om uit te klaar: datums, verlof, pligte en ander detail. Margo het die agtergrond geskets van die manuskrip waaraan sy werk en is besig om ’n boek van haar wat Carmia saamgebring het te teken, toe sy skielik opkyk. Sy sit die pen neer en haar gesig verteder.

      Carmia draai om om te sien wat Margo se aandag afgetrek het. En skielik is haar aandag ook nie by woordverwerkingsprogramme, bandmasjiene en redigering nie. ’n Man het by die koffiewinkel ingestap en is besig om tussen die tafeltjies deur te vleg op pad na hulle toe.

      3

      As Carmia ’n pen of boek of iets in haar hande gehad het, sou sy dit ook dadelik neergesit het. Of sommer laat val het …

      Die man wat op hulle afgestap kom, is een van die aantreklikste wesens wat sy al gesien het. Lank en breedgeskouer, met krullerige swart hare en ’n sterk, hoekige gesig. Hy loop met lang, gemaklike treë, lenig, met die grasie van ’n luiperd. Duidelik Margo Vermeulen se goeie gene …

      Sy besef dat sy en haar suster ook dieselfde gene deel, want vir die eerste keer stem hulle smaak in mans ooreen. Deneys Vermeulen is ’n beeld van ’n man, wat ’n verwoestende impak op haar het. Toe hy by hulle tafeltjie kom staan, is haar mond skielik droog. Haar hart mis ’n paar slae en bokspring dan tot in haar keel.

      “Deneys!” roep Margo uit. “Jy’s vroeg.”

      “My besigheid is gouer afgehandel as wat ek verwag het.” Hy buk en soen haar op die wang, voor hy gaan sit. “Oumie lyk uitgevat. Spesiaal om die tandarts te beïndruk?”

      “Watwou! Ek kan sonder klere daar sit, hy sal nie eens oplet nie,” spot Margo. “Al waarin hý belangstel, is tande –

      en hoeveel hy kan uittrek.”

      Deneys lag kop agteroor en kyk dan na sy ouma se metgesel.

      Carmia kyk na hom ook. Van naderby is sy gesig bruingebrand. ’n Wye, sensuele mond en ferm ken. Die lig is te dof dat sy kan uitmaak watter kleur sy oë is.

      Sy blik luier ’n oomblik oor haar nek en keel, tot by die boonste knopie van haar bloes. En nog ’n entjie verder … Hy grinnik skuldig toe sy hom betrap en kyk haastig weg.

      Carmia wil ook lag en sukkel om haar gesig uitdrukkingloos te hou. Eerder as om beledig te wees, voel sy half gevlei. Daar is niks van die arrogansie wat sy by Deneys verwag het nie. In plaas daarvan sien sy goedkeuring, ’n waarderende glimlag om die mooi mond en lagkreukeltjies weerskante van sy oë. Middernagblou, merk sy toe hy sy kop draai en die lig sy gesig vang. Donker blouselblou, soos die hemel op ’n warm somersdag.

      “Hallo,” groet hy vriendelik. “Ek glo nie ons het al ontmoet nie?”

      “Ekskuus,” sê Margo. “Waar’s my maniere? Dis Carmia, van wie ek jou vertel het, liefie. En Carmia, dis my kleinseun, Deneys, van wie ek jóú ook vertel het, tot vervelens toe.”

      “Hallo, Carmia.” Hy steek sy hand na haar uit.

      Sy vel voel soos sy verwag het. Koel, met die beweging van spiere toe sy vingers om hare vou. Carmia kan nie onthou wat sy geantwoord het nie, en óf sy geantwoord het.

      Maar dan skielik sien sy Deneys Vermeulen se gesig verander. Hy los haar hand. Die gul glimlag verdwyn en word vervang deur ’n behoedsame kyk. Opsommend en takserend.

      “Die koerantmeisie?” vra hy koel.

      “Dis sy, ja,” antwoord Margo effens te vinnig. “Het jy van die onderhoud vergeet?”

      Deneys vryf met sy palm oor sy wang en kakebeen, ’n oomblik lank van stryk. “Ja, ek hét … Jammer. Ek was besig en het nie weer aan haar gedink nie.”

      Margo

Скачать книгу