Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 7

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman

Скачать книгу

druk verlig. Dit sal beteken ek het meer tyd om te ontspan. Te rus. Semi-afgetree te wees …”

      “Ek is nie besig om Ouma te boelie nie,” verduidelik Deneys geduldig, blykbaar soos elke keer wanneer hierdie onderwerp tussen hulle ter sprake kom. “Ek dink aan Ouma, nie aan myself nie. Jou gesondheid, jou bloeddruk en hande … Oumie weet self jy moet briek aandraai, vir jou eie beswil.”

      “My bloeddruk is piekfyn,” kap Margo terug. “Daardie doktertjie is op hol oor niks. En dit ís mos briek aandraai as ek ’n assistent het om die meeste van die werk te doen.”

      “Ek sal meer tevrede wees as daar géén werk en geen assistent is nie. Nog ’n boek, en nóg een en nóg een – ter wille van Oumie se gesondheid is dit dit nie werd nie. Honderd-en-twintig boeke is mos oorgenoeg. Wat is daar verder om te bewys?”

      Margo bly redelik. “Dis nie ’n kwessie van iets bewys nie, Deneys. Skryf is my lewe, jy weet dit. Ek wil aanhou solank ek kan, want as ek die dag ophou en ledig en verveeld moet rondsit, kan julle my net sowel voete eerste by die agterdeur uitdra.”

      Hy sug en draai ergerlik na Carmia. “Jammer, dis nie nou die tyd om ons privaat sake op die tafel uit te pak nie. Dis seker nie jou skuld dat jy in ’n situasie beland het waarin jy onwelkom is nie. Ek het dit nie persoonlik bedoel nie, maar soos jy seker kan aflei, verskil ek en Margo oor die situasie. Sy wil soos ’n wegholtrein voortgaan en haarself uitbrand, terwyl ek skerm dat sy haar voet van die petrol moet afhaal, ter wille van haar gesondheid.”

      Hoewel sy Margo se skryfpassie verstaan en aan haar kant is, begryp Carmia ook waarom hy besorg is. Sy argument maak sin. Hy ken Margo beter as sy en probeer duidelik om haar teen haarself te beskerm.

      Carmia kies nie kant nie en volg ’n veilige middeweg. “Om soggens rustig in ’n gemakstoel met ’n stapeltjie notas te sit en op ’n bandmasjien te dikteer, verg minder inspanning as om heeldag voor ’n tikmasjien te sit. Dit sal my werk wees, asook alle administrasie en navorsing, indien nodig.”

      “Die vorige keer toe ons hulp ingekry het, het dit nie gewerk nie,” sê hy styf.

      “Tasha het haar bes probeer,” antwoord Margo. “Maar sy is nie ’n taalmens nie. Ek kan nie saam met iemand werk wat nie die verskil tussen ’n komma en ’n kommapunt ken nie.”

      “Ouma het haar ook nie juis kans gegee om te leer nie.” Deneys se stem is stroef en hy wys die kelner ongeduldig weg toe dié nog koffie wil bring.

      Carmia onthou dat dié Tasha ’n vriendin van Deneys is. Sy wonder of dit dalk die rede vir sy ergernis is – die feit dat hy nie wil hê sy meisie moet gekritiseer word nie.

      “Ongelukkig moet ek Ouma-hulle se kuier kortknip,” maak hy verskoning terwyl hy op sy horlosie kyk. “Dit word laat en ons moet by die huis kom. Een van ons suikertrokke het op Pinetown gebreek. Ons moet nog daar aangaan, en ek vlieg môre douvoordag. Die kusvlug, Kaap toe.”

      Hy wend hom tot Carmia. “Jy het die moeite van die onderhoud gehad en is volgens my ouma ’n aanvaarbare proposisie. Goed, ek is bereid om jou ’n kans te gee. Ons maak dit ’n proeftydperk van drie maande, waartydens jy óf ons agt en veertig uur kennis kan gee indien die werksooreenkoms nie nagekom word nie. Dit beskerm albei partye. Ek neem aan julle het vergoeding, werksure, huisvesting, ensovoorts uitgeklaar?”

      “Ja,” bevestig Margo.

      Hy kyk vraend na Carmia. “Is alles vir jou duidelik?”

      “Glashelder,” antwoord sy, net so saaklik soos hy.

      Daar is nog ’n klompie besonderhede wat sy wou uitklaar, maar dit sal moet oorstaan tot later. Deneys is volgens sy ouma nie die geduldigste mens op aarde nie. Sy wil dit liewer nie waag om die man verder te irriteer nie. Hy het blykbaar die finale sê oor haar aanstelling en netnou is sy haar nuwe werk kwyt.

      Hy neem sy motorsleutels en glimlag vlugtig vir Carmia, asof hy besef hy was onbeleef. “Kan ek jou êrens heen oplaai?”

      “Nee dankie.”

      “Parkeergarage of huis toe?” bied hy weer aan, effens vriendeliker.

      “Dis nie nodig nie,” herhaal Carmia. Sy wil nie ’n guns van hom hê nie. En sy wil ook nie hê hy moet die afskilferende ou gebou sien waarin sy woon nie.

      “Ek bel jou môre,” belowe Margo en knipoog onderlangs.

      Carmia bly sit met ’n halwe koppie koue koffie by die tafeltjie toe hulle wegstap, Margo voor en Deneys agter haar, met ’n ondersteunende hand om haar elmboog. Hy vertoef by die toonbank om die rekening te betaal, neem sy kleingeld en glip dan sy beursie terug in die sak van sy styfpassende jeans.

      Carmia voel hoe haar hart weer allerhande manewales uithaal terwyl sy Deneys Vermeulen se breë rug agternastaar. Is jy totaal simpel? betig sy haarself. Die man keur nie jou aanstelling goed nie. Hy wil jou nie op sy plaas of in sy huis hê nie. Hy dink jy’s ’n kansvatter … En jy sit leepoog en staar na sy bobene en plat sespakmaag? Skaam jou. Jy het gehoor hy het ’n vaste meisie. Het jy dan geen trots nie? Hy kon nie eens jou naam onthou nie. Hy het na jou verwys as “die koerantmeisie” – en hy het dit nie vleiend bedoel nie.

      Sy gryp vies haar handsak en stap uit, die blink van die dag skielik dof. Margo Vermeulen is alles waarop sy gehoop het, alles wat in vleiende koerantberigte of tydskrifartikels oor haar geskryf is. Om saam met haar te werk sal wonderlik wees. Maar die kleinseun is ’n ander proposisie. Sy het gevind hy kan baie aangenaam wees, selfs sjarmant. Maar so vinnig soos handomkeer kan hy verander en dan is hy outokraties en krities, asof sy ’n dom skoolkind is aan wie alles in eenvoudige terme verduidelik moet word.

      Sal sy in dieselfde huis as hy wil woon, elke dag saam aan tafel sit? Veral as hy so oorkrities is en kort-kort oor haar skouer wil loer om fout te vind?

      Vita, die aand toe sy bel om te hoor hoe die onderhoud afgeloop het, is bemoedigend en positief.

      “Ek het mos vir jou gesê Margo is ’n engel. Een van die wonderlikste mense wat ek ken. Ek sou maklik met Deneys getrou het net om haar as ’n skoonma te hê. Maar geen pad wat ’n mens loop, is sonder duwweltjies nie, sussie. Dit het jy self ook al geleer. ’n Mens moet die suur saam met die soet in die lewe neem. As jy ’n droomjop wil hê en ’n droomboek wil skryf, moet jy jou pienk bril opsit. Deneys is nie so sleg nie; hy kan baie gaaf wees as hy wil. Jy sal hom gelukkig min te sien kry. Hy vlieg lang ure en is soms drie tot vier dae weg, selfs ’n week as hy op die Comores-roete is.”

      “Dis goeie nuus,” antwoord Carmia. “Maar wat doen ek wanneer hy terugkom?”

      Vita lag. “Jy kyk vir hom.”

      “Kýk vir hom?” frons Carmia. “Hoekom?”

      “Omdat hy die allerfraaiste ding op twee bene is,” terg Vita. “Het jy al mooier gesien? Met so ’n beeldskone mansmens sien ’n meisie baie foute oor. Selfs as hy ’n boelie is, en inmengerig. Hy bedoel dit goed. Deneys is baie geheg aan sy ouma, en hy is bekommerd oor haar welstand. Dis al familie wat hy het en hy is oorbeskermend teenoor haar. Jy sal dit gewoond raak. As hy sien jy is nie ’n fortuinsoeker wat misbruik maak van haar goedheid nie, sal hy jou uitlos om jou ding te doen.”

      Eers ’n skelm en ’n kansvatter, nou ’n fortuinsoeker?

      “Ek is lus en vergeet die hele storie,” sê Carmia vies. “Só verleë is ek nie! Ek kan huise of tyddeelskemas

Скачать книгу