Helene de Kock Keur 3. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock страница 16

Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock

Скачать книгу

vang hy die pakkie wat sy afgooi rats.

      “Geseënde Kersfees,” fluister sy. “Dis al ná twaalf, weet jy?”

      “Geseënde Kersfees, Danien,” fluister hy terug en blaas vir haar ’n soen.

      “Sien jou môre,” sê sy eufories van geluk, en wag totdat sy gestalte weggesmelt het in die donkerte.

      Maar toe sy saam met haar mense in die houtkerk sit, sien sy hom nêrens nie. Hy is nie by die vroeë diens nie, en toe sy saam met Frans en Anel ná die tweede diens daar verbystap op pad strand toe, sien sy hom ook nie. Hy was dus nie een keer in die kerk by hierdie diens wat so getrou deur Die Vallei se inwoners bygewoon word nie.

      Dis feitlik ongehoord dat die óú ingesetenes daarvan wegbly, en ook Frans merk fronsend op: “Ek sien nie vir Alfons nie. En ek moet jou sê, Danien, ek probeer hom met moeite begryp.”

      Toe weet Danien met beklemming dat ook Frans opgemerk het dat Alfons nog nie een maal in die kerk was dié vakansie nie. En vir ’n óú Valleier is dit vreemd.

      5

      Die eerste paar weke van die nuwe kwartaal vlieg om. Maar nie sonder dat Danien van elke uitmergelende sekonde weet nie. Dis nie dat die skoolhouery onaardig is nie. Maar net dat sy heeltyd in twee geskeur voel.

      ’n Deel van haar gaan verheug op in die spontane wisselwer­king tussen haar en die kinders. Sy het ontdek dat sy dit geweldig geniet om met hulle te werk en om Frans en Duits vir hulle oop te maak.

      ’n Skugter graadtwaalf met ’n dik bril het dit sommer die eerste week al vir haar kom sê: “Juffrou maak dit vir ons lekker. Was u al in Frankryk en Duitsland?”

      “Ja,” het sy huiwerig erken. “Ek was gelukkig genoeg om eenmaal saam met ’n studentetoer te kon gaan. Maar ’n mens hoef natuurlik nie oorsee te gaan om die wonder van ’n taal te ontdek nie, Pierre.”

      “Nee, maar dit sal darem baie lekker wees om te gaan en self te verstaan wat die mense praat.”

      “Dit is so, ja.” Die seun het tevrede by die klaskamer uitgestap. Op daardie oomblik het sy gewens dat sy die hele klas op ’n oor­sese toer kon neem net om die plesier daarvan te hê om hulle dop te hou. Sy kan haar so goed voorstel hoe baie die kin­ders só iets sou geniet … En dié gedagte het in haar agterkop bly steek.

      Maar die hele aanpassing in die losieshuis, die hope nasienwerk en voorbereiding van elke dag, eis sy tol, en sy het nie veel kans om oor opwindende vooruitsigte te peins nie. Wanneer sy nog ’n tydjie het om haar eie gedagtes te dink, maal dit om die afgelope vakansie in Die Vallei. En sodra sy daaraan toegee, be­trek dit haar met ’n bedwelmende soetheid wat haar traag laat terug­keer na die werklikheid. Hierdie Desember het daar ’n droom waar geword; dit weet sy. Dalk bly dit net ’n herinnering; dit vrees sy.

      Een Vrydagmiddag laterig vlug sy soos gewoonlik dié tyd van die dag na buite om in die ruim tuin van mevrou Breda se losies­huis te gaan sit. Mevrou Breda is ’n weduwee in haar laat sesti­ger­jare wat nie kans sien om die huis waarin sy meer as veertig jaar lank gewoon het, te verruil vir ’n ouetehuis nie, en daarom verhuur sy stelle kamers aan twee of drie loseerders. Danien was gelukkig genoeg om so ’n stel kamers op die boonste verdieping te huur, omdat mevrou Breda ’n vriendin van ’n vriendin van haar ma ken.

      Sy hou van die ou dame en ook van die twee ander loseerders. Hilda Gouws is ’n onderwyseres by ’n buurskool en Henk de Jager ’n advokaat. Al twee aangename mense wat hul eie gang gaan sodat sy nog nie veel met hulle te doene gehad het nie.

      Mevrou Breda verskaf ook nie maaltye nie. Elkeen sorg maar vir homself en het ’n ketel, ’n dubbelplaat en ’n elektriese braai­pan in ’n hoekie wat as kombuisie dien. Maar vanaand het Danien nie lus om vir haarself kos te maak nie. Later, besluit sy, waar sy by ’n outydse visdammetjie onder ’n groot denneboom sit, sal ek dalk honger wees. Maar nie nou nie. Nou wil ek net sit.

      En soos elke maal as sy stil word, kom die snerpende verlange na Alfons. Ál troos wat sy het, ál warmte waaruit sy krag kan put, is om elke oomblik van hul saamwees op te roep en dit stadig, stadig oor en oor te beleef. Soms, soos nou, kom sy agter dat sy stip na die silwerringetjie aan haar regterhand staar en met haar vingertoppe oor die fyn kettinkie om haar hals voel. Haar mond trek in ’n huilerige laggie toe sy onthou hoe sy dié versierinkie moes wegpraat.

      “Waar kom jy daaraan?” wou Anel weet. “Het Paul jou sowaar nóg iets gegee?”

      “Maak dit saak as hy het?” wou sy ontwykend weet.

      “Nee, natuurlik nie,” het Anel op haar nugter manier geant­woord. “Ek vind dit juis baie lief van hom as hy dit gedoen het. Dis net dat jy twee maal sal moet dink voordat jy so iets aanvaar en hom dan so koelweg behandel, Danien.”

      Waarop Danien haar net stom aangekyk het. Sy wou tog werklik nie blatant ’n leuen vertel nie. Gelukkig het Anel nie verder aangedring om daaroor te praat nie, maar aan die kyk in haar mooi, sagte oë kon Danien sien dat sy veel meer vermoed as wat sy verwoord. Dis dalk sy wat ook met Jacomien gepraat het om liefs nie na die silwergoedjies uit te vra nie, want sy het dit net bewonder en niks verder gesê nie.

      Natuurlik was dit Frans wat sy vinger sekuur op die ding gelê het. “Moenie dink jy kan ooit vir my oogklappe aansit nie, sus,” het hy een oggend op die strand gesê toe almal al in die water was, en net hulle twee nog onder die sambrele lê en lees het. Sy het haar boek versigtig toegemaak en regop gesit om die sand van haar bene af te vee.

      “Danien, praat met my,” het Frans gesê, en op sy elmboë orent gekom, sy oë geskreef teen die blinkwit oggendson.

      “Wat moet ek sê?” wou sy kamma ongeërg weet.

      “Wie het vir jou die silwerhangertjie en ring gegee?”

      “Ek het dit sommer self gekoop, jong,” het sy gladweg gejok. Te gladweg, want ongewoond daaraan om voor te gee en onge­skool in die klein intrige, het gloed op gloed oor haar gespoel. Sy het gevoel asof haar hele lyf in die effense bikini aan die brand is. En toe Frans haar met ’n fyn glimlaggie bekyk, was sy sommer lus en vlieg hom in.

      “Los my tog uit!” het sy kwaad gesê en opgestaan om te gaan swem.

      “Orraait,” het hy lakoniek geantwoord en teruggesak om ver­der in die son te bak. “Maar ek sê jou weer, sus. Ek en Anel is dáár as jy ons nodig het.”

      Dit wou haar weer laat huil, sodat sy radeloos ’n dankie ge­prewel het en kop onderstebo water toe gedraf het. Reg in Alfons vas. Natuurlik moes hy dit só bewimpel het, want die strand is immers groot en daar’s baie plek om te loop.

      Hy het haar laggend vasgegryp en hard gesê: “Kyk waar jy loop, meisie! Die Vallei het juis so baie ruimte!”

      Sy wou hom sommer doodmaak. Almal binne hoorafstand het uitgebars van die lag. Maar toe hy haar los, het hy vinnig gesê: “Vannag om twaalfuur.”

      Toe het hy fluitend verder gestap, sy bruingebrande liggaam glimmend van see en son. Sy het net ’n kort rukkie geswem. Dit was moeilik om hoegenaamd te swem, want haar hart was nie daarin nie en die gety het woes gespeel met dié wat dit daardie oggend in die see wou waag. Toe die derde golf haar wind amper uitslaan, het sy die aftog geblaas, terug na haar handdoek teen die warmgebakte duin.

      En hy het gekom. Klokslag om twaalfuur daardie nag het sy trap­af gesluip en suutjies

Скачать книгу