Medusa. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Medusa - Rudie van Rensburg страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Medusa - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

laaste uit.

      Op pad na die bushalte koggel ’n klomp kleintjies haar. “Lelike Lila Liebenberg, Lelike Lila Liebenberg!”

      Terwyl sy op die bankie sit en wag, kyk sy hoe die ander kinders deur hulle ma’s in spoggerige blink karre opgelaai word. Haar pa sê altyd die kinders in Durbanville het baie ryk ouers.

      Ná ’n uur daag die bus op. Soos gewoonlik gaan sit sy voor.

      Die bus ry stop-stop deur die dorp. ’n Koerantplakkaat teen ’n lamppaal in Wellingtonstraat verklaar: Dié September kan warmste in 50 jaar wees. Dit herinner haar aan meneer Groenewald se storie oor Swart September.

      Sy laat rus haar kop teen die ruit toe hulle op die grondpad is. Die vibrasie laat haar oë toeval, maar sy weet sy sal nie vandag aan die slaap raak nie. Daarvoor is haar gedagtes te donker.

      Die bus laai haar voor die plaashek af. Sy slof met die kronkelende stofpad aan, soek eers lafenis in die koelte van die laning bloekoms voor sy verder stap.

      By die huis gooi sy haar tas in haar kamer neer. In die kombuis maak sy vir haar ’n toebroodjie en sluk dit met ’n glas melk af. Haar pa en die werkers is seker nog in die wingerde besig.

      Sy is bekommerd oor haar pa. Sy gehoes snags klink nie goed nie. Dis oor daai pyp wat permanent in sy mond is.

      Sy het al ’n paar keer gesê hy moet dokter toe gaan.

      “Ai, my kindjie, ’n plaasbestuurder kan nie sommer ’n middag af vat en dokter toe gaan nie,” het hy walgegooi. “Meneer Knoetze aanvaar mos nie ’n doktersertifikaat as verskoning nie.”

      Ou Knoetze is ’n vark. Hy behandel haar pa soos vuilgoed.

      Sy staan vir ’n rukkie broeiend in die kombuis. Dan haal sy ’n paar keer diep asem voor sy doelgerig na die stoorkamertjie agter die huis stap.

      Die plek is deurmekaar en sy moet houers en bokse wegskuif om die rottegif te kry. Sy skep ’n klomp pille in ’n leë blikkie uit. Haar pa sê drie tot vyf pille sal ’n mens soos ’n os laat neerslaan.

      Terug in die kombuis gooi sy die pille in ’n bord en tel hulle. Negentien. Sy druk hulle met ’n rondepuntmes fyn. Dan gaan haal sy die bottel druiwekonfyt en skep vyf dessertlepels oor die hopie poeier. Met die mespunt meng sy die poeier in die konfyt in.

      Môre sal sy nie twee nie maar vier toebroodjies skool toe vat. En sy sal haar tas se flap ooplos sodat hulle dit maklik kan steel.

      Vir Quinton en sy maats sal dit ook ’n Swart September wees.

      2

      Maart 1989

      Hoekom kan mens nie groot gebore word nie? wonder Lila terwyl sy haar gesig in die badkamerspieël bekyk. Behalwe dat sy kinders haat, haat sy dit om sélf ’n kind te wees.

      Haar slegte vel maak haar naar. Die puisies slaan deesdae soos onkruid op haar gesig uit. Knopperig en rooi, met walglike geel punte.

      En hoekom moes juis sý haar pa se breë neus en haar ma se pap mond en groot ore erf? Haar ouer suster, wat lankal uit die huis en getroud is, kan nie as ’n skoonheid beskryf word nie, maar mense kyk haar darem nie skeef aan nie.

      Sy probeer haar kuif platdruk, maar dit rys net weer soos klapperhaar op haar kop.

      Lelike Lila Liebenberg.

      Dié naam het haar van die laerskool na die hoërskool gevolg. Die hele standerdvyfklas, Quinton en Wessel uitgesluit, is na dieselfde hoërskool, dus het haar bynaam bly voortleef. Sy is gedoem om hierdie kruis vir die res van haar skoollewe te dra.

      Sy stap sleepvoet na haar kamer, gaan sit op die bed. Broeiend en effens bang vir wat sy beplan.

      Naomi met haar gifbek moet ook boet. Eers dán sal Lila voel die lewe is regverdig.

      Maar sy sal hierdie keer versigtiger wees as met Quinton en Wessel. Met hulle was sy baie gelukkig, het sy eers later besef.

      Sy het daardie oggend die vroeë bus gevat om lank voor die ander by die skool te wees. Sy het klas toe gegaan en haar tas op haar lessenaar neergesit, met die flap oop sodat die toebroodjies sigbaar was. Want sy het geweet dis Quinton se gewoonte om voor skool sy tas in die klas te gaan sit.

      Op ’n veilige afstand het sy gesien hoe Quinton en Wessel by die klas ingaan en ’n rukkie later laggend uitkom, Quinton met haar toebroodjies in die hand. Hulle het koers gekies na die skool se agterste pakkamer waar hulle altyd skelm rook. Sy het teruggesluip klas toe, hulle tasse gevat en dit in die onderwyser se hoekkas gesit.

      Aan die begin van die eerste periode, toe meneer Groenewald die klasregister neem, was Quinton en Wessel afwesig. Hy het dit nie vreemd gevind nie, want dié twee was die klas se probleemkinders en bekend vir hulle stokkiesdraaiery.

      Eers tydens die laaste periode het die skoolopsigter op Quinton en Wessel afgekom in die lang gras agter die pakkamer. Blykbaar het Quinton nog asemgehaal, maar hy is dood voor die ambulans opgedaag het.

      Later het dit bekend geword dat hulle dood is weens rottegif. Die opsigter het erken dat hy net die vorige dag gif rondom die pakkamer gestrooi het teen die knaende rotplaag. Die seuns moes daarvan geëet het, was die verklaring. Die feit dat hulle tasse in die klas weggesteek was, is daaraan toegeskryf dat hulle ’n paar periodes wou misloop.

      ’n Standerdvierseun wat die twee gesien het voor die ambulans opgedaag het, het vertel daar het wit skuimbolle om hulle monde gestaan. Daardie beeld koester Lila vandag nog. Sy glimlag elke keer as sy daaraan dink. Dit was niks anders as hulle verdiende loon nie.

      Die hele skool moes die begrafnis bywoon. Lila het nie die treurende ouers jammer gekry nie. As hulle hul kinders beter grootgemaak het, het dit nooit gebeur nie.

      Sy sak agteroor op die bed, vou haar hande agter haar kop. Hoewel Naomi ook verdien om te vrek, beplan sy iets anders vir haar. Sy wil hê daai gifbek moet behoorlik ly. Dalk ’n lelike letsel op haar mooi gesiggie? Dit sal die seuns wat pouses so om haar saambondel vir altyd afskrik.

      Lelike Naomi Lategan.

      Dié gedagte laat Lila glimlag.

      Naomi verdien net die slegste. Soos ’n regte tweegatjakkals bedel sy altyd voor skool Lila se huiswerk om af te skryf. Dan is dit Lilatjie voor en agter en kan suiker nie in haar mond smelt nie. Net om daarna nare stories oor Lila by haar skinderkringetjie te vertel.

      Naomi was die enigste kind in die skool wat van haar ma se suipery geweet het, want haar ouers is bevriend met ou Knoetze. En toe het sy dit haar werk gemaak om almal daarvan te vertel.

      Op ’n keer het Naomi “ewe onskuldig” voor die klas gevra of Lila-hulle in daardie “verpotte bywonershuisie bly op pad na oom Willem Knoetze se grênd huis”.

      Van die kinders in die klas het hulle koggelrympie aangepas na “Lelike Lila Liebenberg, die arm bywonertjie”.

      Lila staar peinsend na die plafon.

      Sy weet sy kan nie weer op geluk staatmaak soos met Quinton-hulle nie. Dié keer sal sy behoorlik moet beplan. Sy moet haar tyd vat en alle moontlikhede deeglik oorweeg voor sy toeslaan.

      3

Скачать книгу