Absoluut Einstein. Christien Neser

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Absoluut Einstein - Christien Neser страница 2

Absoluut Einstein - Christien Neser

Скачать книгу

kan beweeg en klein voorwerpies optel. En sy moet reg wees vir meneer Barnard en die Robofest. Dylicia is die enigste meisie in die Robotika-klub en sy het baie om te bewys.

      “Enige tyd, Delicious.” Kalla se glimlag is breed.

      Delicous. Nie Dyllie soos in haar ou skool nie. Delicious. Die naam klou aan haar soos hondebol in die groefies van ’n tekkiesool. Toe sy laas jaar, halfpad in die tweede kwartaal, by die skool instap, het die ding begin.

      By die skool se adminkantoor moes sy sê waarvandaan sy kom. “Ashton, juffrou,” het sy mooi hard geantwoord.

      “Waar? Ek kry dit nie op my rekenaar nie,” het die vrou met ’n diep frons gevra en rondgesoek. “Spel dit, asseblief?”

      “A-s-h-t-o-n, juffrou. In die Wes-Kaap, juffrou.”

      “Maar natuurlik. Hier soek ek dit onder E. Ek dag jy sê Eston. Ai, die Kaapse aksent,” het sy ’n grappie probeer maak.

      Dit was net die begin.

      Haar aksent is vir die simpel Gautengers supersnaaks. Pouses moes sy die nar wees en woorde uitryg wat sy, volgens hulle, histeries snaaks uitspreek. Soos die spul wat smeek dat sy moet sê: “Ek wil nie werk nie.” En wanneer sy dit sê, kruip hulle op die grond rond en maak hulle omtrent nat soos hulle probeer om haar na te boots met ’n simpel “êk willie wêkie”, “êk willie wêkie”.

      Belaglik. Gelukkig het dit gou afgesaag geraak.

      Nou raas haar pa wanneer sy hom bel, want Ashton se aksent is nie meer lekker sterk nie. Hy sê sy moet die gholfbal uit haar kies haal wanneer sy sê: “Naand, Pa.” Vir hom klink dit soos “nônd pô”.

      En toe die besigheid met haar naam. In elke klas moes sy natuurlik haar naam sê. En spel. Toe mevrou Smit haar in die Wiskundeklas vra, was sy voorbereid.

      “My naam is Dylicia Mentoor, juffrou. D-y-l-i-c-i-a.”

      “Delicious!” Dit was Bees wat eerste daarmee begin het. “Hei, is jy ’n lékker meisie?”

      “Dylicia? Jissem. Wat se naam is dit? Wat het jou ma-hulle gerook?” het dit onder Dewald se lang donkerbruin kuif uitgekom.

      “Kan net zol wees!” Met sy draadbek, het Henco probeer snaaks wees. En ja, die klas het geskater.

      Mevrou Smit was rooi in die gesig. Maar nie van woede nie, van ingehoue lag.

      Toe die klas bedaar, het Dylicia haar reg voor Dewald se bank geplant. “Vir jou inligting,” het sy hard en duidelik vir hom gesê, “het my naam ’n trotse afkoms. Ek is vernoem na my pa en my ma. Dylan en Felicia. Hulle is goeie mense wat belasting betaal. Sit dit in jou pyp en rook dit.”

      Presies soos haar pa haar destyds in die laerskool geleer het om te sê. Net hier het dit nie so lekker gewerk nie.

      “Wie se pyp? Ou Paap s’n?” Dewald het lui aan sy potlood gesuig en kamma ’n rookstraal uitgepof.

      “Ons mag nie hier rook nie,” het Bees gegrinnik.

      “Net agter die krieketnette en agter die saal.” Dewald se lippe het skaars beweeg, maar die kinders wou hulle skeur.

      “Lekker ou Dewald!” Opgefrommelde papiere het soos konfetti op Dewald se bank gereën.

      Gangster, het sy onmiddellik geweet. Hierdie een is die tropleier. Vir hom moet sy versigtig wees.

      Al wat sy kon doen, was om vrede te maak daarmee dat sy Delicious sou wees solank as wat die spul, uhm, vuil honde die klas regeer. Ja, dis wat hulle is. Vuilhonde.

      ⋅ 3 ⋅

      Henco: “Ons skool is gevrek. Daar is ouetehuise met meer lewe as hierdie plek.”

      Die bus se deure hyg oop toe hulle voor die skool se booghek stilhou. Iets vreemds is aan die gang. ’n Groot klomp kinders staan met selfone omhoog om die hek saamgedrom.

      “Checkit! Iemand het die skool se naam met ’n plank geslaan.” Die Vuilhonde hang by die venster uit.

      Die eerste en laaste letters van die skool se naam is weg. Afgekap? Afgesaag? Uitgeruk? Dit moes met groot geweld gebeur het, want elkeen van die reuseletters is met ’n dik staalpen in die muur geanker. Al wat daar van PARKRAND oorgebly het, is ARKRAND. En “HOËRSKOOL” is nou sonder ’n H en sonder ’n deelteken. ARKRAND OERSKOOL.

      Skollies. Mens kry hulle klaarblyklik die hele land vol. Maar hier is die skollies waarskynlik kinders wie se ouers blink motors ry. Bleddie vandaliste. Breek iets wat nie hulle s’n is nie en maak van die skool ’n goedkoop grap op sosiale media.

      Dis siek.

      Sy spring die bustrappies ondertoe en veg vir haar ’n pad tussen die horde met hul selfone deur.

      “Dylicia!”

      Dis Simone. Sy wuif. “Kom ons neem ’n selfie.” Sy beduie na die hek waar die kinders mekaar verdring om foto’s onder die verminkte skoolnaam te neem. Party hansworse is bo-op die booghek, ander swaai soos ape aan die oorblywende ysterletters.

      “Moet kantoor toe! Skuus, hoor. Sien jou eerste periode.” En ja, daar was ’n oogrol. Simone kon net sowel vir haar geskree het: “Pê-whê-whê. Ek het jou mos gesê.”

      Dylicia begin draf. Haar projek staan al twintig minute vir haar en wag.

      O ja, Micha.

      Dis sy naam. Micha Steinman. Dit klink sag en dromerig en kunssinnig en stylvol. Allesbehalwe ’n Botha of ’n Van der Merwe of ’n Mentoor. En beslis allesbehalwe ’n Vuilhond.

      Sy kyk op na die groot horlosie bokant die saal. Daar’s nie tyd om haar kunshuiswerk te gaan ingee nie. Lynreg en blitsig kantoor toe.

      Toe sy uitasem in die gang afstorm, kom doktor Papenfus se groot lyf met lang treë van voor af by haar verby. “Hy wag vir jou,” sê hy net en versnel in ’n wolk walglike naskeermiddel.

      Dadelik begin haar neus kielie.

      Paap is seker op pad na die sirkus by die skoolhek. Ja, hardloop, en gaan verjaag die klomp narre van die booghek af. Netnou val een van ARKRAND OERSKOOL se selfie-sterre en breek ’n nek. En van ’n nek wat breek, kan niemand haar iets vertel nie. ’n Nekbreek is vir altyd.

      Sy stoot die kantoordeur oop.

      En daar sit hy. Haar projek.

      ⋅ 4 ⋅

      Bees: “Ek gaan Paap se dik neus vir hom breek. Watch my. Hy gebruik mense soos Delicious om sy vuil werk te doen.”

      “Hallo.” Sy wag ’n sekonde of twee. “Hallo, daar.”

      Geen reaksie nie. G’n wonder nie, want hy het oorfone op. Die ou met die maer lyf sit kop agteroor op Paap se stoel. Sy oë is toe, maar sy lippe beweeg. En hy spin homself al in die rondte op doktor Papenfus se kantoorstoel. Sy lang wimpers lê uitgewaaier op sy wange en hy glimlag effens, asof hy salig in droomland is.

      Sjoe.

Скачать книгу