Donker Web. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donker Web - Fanie Viljoen страница 3
“So, jy het nog een dood oor, my broer,” sê ek sag en gaan sit op die bed waar ons hom daardie dag gekry het, die leë pilbottel op die bedkassie.
“Slaap jy nie?” vra ’n stem by die kamerdeur.
Dit laat my opkyk.
My ma het ’n syjapon aan. Kaalvoet. Geen grimering om die moegheid op haar gesig weg te steek nie.
“Seker my sondes wat my wakker hou,” probeer ek grap.
Sy dink nie dis snaaks nie. ’n Spiertjie by haar mond trek.
Stadig kom Ma die kamer binne, amper asof sy op heilige grond loop. Dwalend beweeg sy deur die kamer. Sy raak hier aan ’n fotoraam, daar aan ’n sportmedalje of die getekende rugbybal wat eens in Lawson Kollege se gedenkmuseum was. “Partykeer is dit asof ek nog vir John in die kamer kan voel,” sê sy, haar stem broos van die herinnering. “Soos ek hom in my lyf gevoel het voor sy geboorte. ’n Ma vergeet nie hoe elkeen van haar kinders binne haar gevoel het nie. John was die onrustige een. Tóé seker al planne gemaak vir daardie gevaarlike sport waaraan hy sou deelneem. Jy was kalmer, Greg. ’n Denker of ’n dromer, het ek destyds gedink. By tye het jou voet hier onder my hart vasgeskop. Asof jy genoeg gehad het van die benoudheid en wou uitbreek. Nee, het ek toe besluit, hierdie een gaan ’n rebel wees.”
My ma laat die woord “rebel” in die lug hang sodat ek daarmee kan maak wat ek wil.
Vir ’n ruk lank praat ons nie. Ek sit op John se bed en my ma staan net daar skuins voor my, kantel haar kop asof sy soekend luister vir John se stem – wat nie kom nie.
Uiteindelik verbreek ek die stilte. “Ek gaan nog ’n rukkie sit, Ma kan maar gaan slaap.”
Sy knik. Maar steeds staan sy versteen in haar gedagtes, draai haar wysvinger deur haar hare. “As ’n mens ’n kind verloor, is dit asof jy in die diepste geheimenisse van die see beland, waar jy op jou eie verdrink. Niemand kan jou daar kom red nie. Vreemd, jy wil ook nie hê iemand moet jou kom red nie. Jy soek net jou kind. Dis al.”
Haar oë boor ’n oomblik lank in myne, dan vou sy haar arms om haar lyf asof sy skielik koud kry.
Ek weet nie wat om vir my ma te sê nie, net soos ek nie weet hoe dit voel om ’n kind te verloor nie, en sy nie weet hoe dit voel om ’n broer te verloor nie. Verdrink ons nie maar almal so in die stilligheid nie?
“Wat gaan Ma doen as ek weg is?” vra ek uiteindelik.
“Ek kan seker kies om te doen wat ek altyd doen. Of ek kan aangaan met my lewe.”
Weer die ongemaklike stilte. Daar is ’n kwesbaarheid aan die manier waarop haar skouers sak, ’n rouheid in haar stem.
“Weet jy wat ek soms ná John se dood gedoen het? Toe jy daar by Lawson Kollege was, jou pa wie-weet-waar op sy sakereise, en ek vasgekeer in hierdie verdomde huis?”
Ek skud my kop.
“Ek het gewag totdat al die werkers laatmiddag weg is. Dan het ek die deure en vensters toegemaak. En ek het geskree. En geskree. En geskree.”
Die bekentenis ruk my.
Haar mondhoek krul senuweeagtig asof sy dit nie moes gesê het nie. Dan kom nog ’n belydenis om die desperaatheid van haar stil bestaan te onderstreep. “Almal vir wie ek lief is, word van my af weggevat.” Sy frommel haar hande inmekaar, bly staan so asof sy beswaarlik regop kan bly teen die emosies.
“Ma?” vra ek versigtig. Bang. Ek staan vinnig op, sit my arms om haar en druk haar styf teen my vas. “Is Ma oukei?”
Geen antwoord nie.
Ek sit my hande weerskante van haar gesig. Kyk dringend na haar, my polsslag rusteloos. “Ma?”
Haar mondhoek pluk. Sy draai haar kop effens, soen my hand. “Nag, Greg, ek gaan nou slaap. Ek is baie moeg. Sit die lig af as jy kamer toe gaan.”
In geskokte stilte kyk ek hoe sy wegstap, sien in my gedagtes my tenger ma in die sitkamer, of die kombuis, of haar slaapkamer. Haar hande in vuiste gebal. Kop agteroor gegooi. Oë toegeknyp. Mond oopgesper.
Binne my hoor ek haar skree. En die rou krete wat deur die leë huis weergalm.
<h2>Vertrek</h2>
Ek word wakker op John se bed. Van buite streep die lig bo die gordyne. Ek vee die slaap uit my oë, vryf deur my hare en gaap. Terwyl ek tot verhaal kom en die nag se onrustige drome verdryf, kom ek regop.
’n Diep sug. “Cheers, Boet,” sê ek met ’n grofheid in my stem, soos iemand wat gehuil het.
In die kombuis wag ontbyt wat ek vinnig inwerk, daarna ’n warm stort, skeer en tande skrop. Ek pluk gemaklike klere aan vir die rit Kaap toe.
Met ’n pet op die kop, begin ek die eerste bokse met die trappe afdra na die kar in die oprit. ’n Nuwe BMW 118i-sportmodel wat ek uit my trustrekening gekoop het. Entry level, maar hy doen dit vir my.
Twee tasse volg. Dan ’n klomp losgoed, en natuurlik my laptoprugsak.
Alles pas lekker agter in die kar en op die agtersitplek. As nagedagte draf ek weer terug kamer toe en haal die Conrad Botes-skildery van die muur af. Dit sal goed lyk in my nuwe plek.
Op pad uit, val my oog op die foto van John op die tafeltjie in die ingangsportaal. Ek sit die skildery neer en grawe my selfoon uit my broeksak, neem ’n foto daarvan. Om die derde dood te besweer.
“Cheers, Greg,” hoor ek ’n stem van bo die trappe af. Helder en duidelik. John se stem. Ek ruk my kop op, maar daar is niemand nie.
Terwyl ek nog wonder of ek my verbeel het, kom my ma uit die studeerkamer. Vanoggend is sy stylvol aangetrek, mooi skoene, grimering perfek. Die raakvatter-vrou, nie die vrou wat die stiltes met ’n gil verdryf nie. Só steek ons seker almal iets van onsself weg.
Ma kyk na die foto op my selfoon. “Alles wat nou voor jou lê, Greg, was nie vir jou broer beskore nie,” merk sy nadenkend op. “Elke nuwe lewensfase is iets wat net jy sal beleef.”
Soos gisteraand stuit my ma se woorde my. “Ek sal die swottings vir ons albei doen, Ma.”
“Ek praat nie net van universiteit nie, Greg.” My ma se oë rus swaar op my, asof die gewigtigheid van die oomblik haar tot stilstand dwing. “Jy gaan die ver paaie loop waarby jou broer nie kon uitkom nie. Hoe bitter gelukkig vir jou. Hoe bitter jammer vir hom.”
Binne my wel die hartseer onverwags op. Waar is daardie bulletproof baadjie wanneer jy hom nodig het? Ek kyk weg, want dis steeds moeilik om my emosies voor mense te wys.
“Die pad is lank, Ma. Ek moet waai.”
“Het jy alles?” vra sy toe sy saam met my buitentoe stap.
Ek beduie na die oorvol kar. “Hoop so.”
’n Ruk lank bly my ma stil. “Onthou, die dinge wat jy inpak, is die dinge wat jy saam met jou moet dra,” sê sy uiteindelik.
Ek knik. Staan dan