Die wet van die liefde. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die wet van die liefde - Anita du Preez страница 5
Danielle vertel, kripties en sonder die laaste deeltjie by haar woonstel.
“En hier sit jy in lewende lywe to tell the tale! Moet jy nie bietjie gaan lê nie? Mind you, lovey, van lê gepraat . . . Oe, ek sou darem –”
“Gedra jou, meisiekind. Jy’s by die werk,” vermaan Danielle haar oorstelpte vriendin. “Gaan kry die lêers, die vergadering is oor ’n halfuur.”
Bonnie wil nog iets sê, maar Danielle kyk haar stil.
Die vergadering verloop genadiglik sonder voorval. Nadat Danielle ferm verduidelik het dat sy ’n ongelukkie gehad het, hou die onderlangse kyke darem gelukkig op. Die personeel weet al dat hulle liefs nie te ver moet gaan of te eie moet raak met die formidabele me. Malan nie.
Vir die soveelste keer in haar lewe kom die beeld van onbereikbaarheid wat Danielle met soveel sorg om haar opgebou het handig te pas. Sy kry nou wel nooit die warmte of simpatie by ander waarna ’n mens so dikwels smag in moeilike omstandighede nie, maar dit pas haar goed, besluit sy opnuut. Sy het niemand se jammerte of hulp nodig nie.
Sy vind dit uiters pynlik om selfs net in Naude se rigting te kyk. En dit het niks met die kloppende pyn in haar kop te make nie. Dis die eienaardige mengsel van angs, seer en opgewondenheid wat op die krop van haar maag brand wat haar oral behalwe na hom laat kyk. Dis asof sy skielik sonder ’n vel rondloop en alles duideliker voel – terwyl almal dit kan sien.
Veral toe Naude se hand vir ’n breukdeel van ’n sekonde aan hare geraak het toe hy netnou die waterkraffie vir haar aangegee het, kon sy sweer almal om die tafel moet bewus wees van die warm skok wat deur haar lyf trek. Wonderbaarlik kom niemand egter skynbaar iets agter nie. Hopelik skryf hulle haar stokkerige bewegings en kortaf sinne toe aan die ooglopend pynlike wond op haar voorkop.
“Nou goed, dames en here, kom ons bepaal ons aandag by die volgende saak op die agenda,” praat Naude die groep stil. Danielle is heimlik dankbaar dat hy op sy gewone gesaghebbende manier die vergadering oorneem en die aandag weglei van haar.
Net André kyk haar anders aan as gewoonlik, maar sy skryf dit toe aan die feit dat hy weet wat werklik gebeur het. Snaaks hoe vaal-André al soveel male getuie was van haar swaarkry in die lewe. Dis hy wat vir haar die werk aangebied het toe hy die firma ses jaar gelede begin het en ’n tikster gesoek het. Hy was toevallig die prokureur wat haar ma en pa se skeisaak hanteer het, en hy het haar potensiaal raakgesien. Dis hy wat haar die vennootskap aangebied het nadat sy haar finale eksamen geslaag het. Om die waarheid te sê, as dit nie vir hom en sy eindelose geduld was nie, sou sy nooit die B.Proc-kursus deur Unisa aangepak het nie.
Deur die jare het André soos ’n skim op die agtergrond van haar lewe ’n plek ingeneem, soos ’n outydse beskermheer. Hy is egter vandag openlik beskermend teenoor haar. Hy skink selfs vir haar koffie en sit dit stilletjies voor haar neer met ’n besorgde fronsie tussen sy bruin honde-oë. Sy neem dit dankbaar, want hoe sy deur die dag gaan kom met Naude in die omgewing, weet sy sowaar nie.
Dié kyk nie verder in haar rigting nie en sy is bang die ander sien dit raak. Dit op sigself is hopeloos te ooglopend en kan suspisies aanwakker. Dit sal ook nie vir altyd so kan voortgaan nie. Een of ander tyd gaan sy hom alleen teëkom – en wat gisteraand gesê is, is gesê. En veral wat sy gevoel het, het nie sommer vanoggend met sonsopkoms verdwyn nie. Daardie lippe op haar wang, sy asem by haar oor, die uitdrukking in sy oë. Maar veral die wilde stuwing van erotiese begeerte vanuit haar binnegoed, of van waar ook al. Die dade wat dit ontketen het, is vanoggend amper erger soos dit oor en oor in haar gedagtes afspeel. Dit maak haar so mal dat sy op niks kan konsentreer nie.
Sy kyk onderlangs deur haar wimpers na hom en vat onwillekeurig aan haar wang waar sy lippe gerus het. Net toe kyk hy op terwyl hy praat, reg in haar oë, en sy besef onmiddellik hy het dit gesien. Sy besef ook dat hy weet dat sy hier sit en brand van ongeduld om dit weer te voel en meer, want sy eie oë weerspieël soveel naakte begeerte dat sy bly is sy sit, anders sou haar bene beslis meegee.
Ná wat vir haar soos ’n ewigheid voel, is al die sake op die notule afgehandel. Sy ontsnap na haar kantoor met bewerige bene. Liewe hemel, haar aandeel aan daardie vergadering was ’n ronde nul, besef sy toe sy agter haar lessenaar gaan sit. So kan ek nie werk nie! kerm sy geluidloos. Wat op aarde is dit met my?
Sy is siek vir haarself – hierdie nuwe self wat sy nie ken nie. Hierdie futlose, breinlose dingetjie wat aan die bewe gaan oor ’n man. Waar is Danielle en wat het jy met haar gemaak? wil sy hierdie nuwe wese vra. Sy ly aan ’n tydelike waansinnigheid en dit moet end kry. Vandag nog.
Sy sleep die lywige Rabinowitz-lêer nader en probeer fokus. Maar die letters dans voor haar oë en alles lyk skielik so verspot, so onbenullig. Al waaraan sy kan dink, is Naude. Die hele een en nie net die stukkie van hom wat sy gisteraand teen haar vel gevoel het nie. Hoe moet dit wees om daardie harde lyf van hom naak teen haar eie, nee, ín hare te voel? Haar verbeelding neem onbedaarlik die loop.
Hoe lank vat so iets voor dit ophou? dink sy koorsagtig.
Dis daardie verduiwelse deur, besluit sy. Die ding het haar so hard teen die kop getref dat die kompartemente van haar brein tydelik deurmekaargeskommel is. Skynbaar sit die afdeling vir emosie nou reg voor waar haar nugter denke eers was, terwyl seksuele begeerte sommer elke beskikbare hoekie ingeneem het.
Tee. ’n Koppie warm tee. Dit sal help om haar op die onmiddellike te laat fokus en daarna kan sy aan die gang kom, besluit sy.
Sy stap doelgerig en met ferme tred kombuis toe. Sy maak dit amper tot daar, maar toe sy by die stoorkamer se oop deur verbygaan, is Naude skielik hier vlak by haar. Sy hou haar kop laag en probeer hom systap, maar hy ruk haar nader. Sy skrik so groot dat haar ledemate weier om te beweeg.
Sy probeer eers keer, maar hy is duidelik buite homself en haar gesonde verstand laat haar net daar skandelik in die steek. As iemand nou in hierdie gang afkom, dink sy verbouereerd en retireer sonder om te dink vinnig by die stoorkamer in.
Hy is by haar. Hy pen haar ru vas teen die rak vol lêers, maar sy voel dit nie, want sy begeerlike mond is uiteindelik hard en dringend op hare. Sy hoor hoe sy asem hortend deur sy neus kom, sy ruik die geur van sy growwe wange, sy proe die soet smaak van sy lippe en sy voel met haar hele wese die stuwing van hul liggame teen mekaar.
Op hierdie oomblik gee sy nie meer om of die ganse personeel van Marais, Malan en Boshoff op en af paradeer voor die stoorkamer nie. Of hulle haar met verkykers en vergrootglase bestudeer, maak skielik nie ’n duit saak nie. Elke sintuig en elke vesel van haar liggaam reik uit na hierdie onuitstaanbaar sensuele oomblik met hierdie lieflike man, wat homself met soveel oorgawe aan haar bied.
Haar sinne duisel en tuimel van die heerlikheid daarvan toe hy sy hande agter in haar hare indruk en die haarknip loswoel dat haar hare oor haar skouers val. Hy kyk na haar met sy donkerswart oë terwyl hy met bewende vingers die boonste knopie van haar bloesie losmaak. Sy herwin met moeite ’n greintjie beheer oor haar sinne. Sy druk sy hande weg en maak met jagende asem haar hare weer vas.
“Asseblief, Danielle,” is die eerste woorde wat hy uitkry. Sy stem is ’n pleitende liefkosing wat haar duiselig maak.
“Ons kán nie,” sê sy radeloos.
“Nee, nie hier nie. Vanaand, asseblief. Ek móét jou sien. Ek kom na jou woonstel.”
Hy praat in die kroontjie van haar hare terwyl hy haar kop vinnig teen sy bors druk. Toe stap hy sonder ’n verdere woord by die deur uit.
Sy bly vir ’n oomblik met haar rug teen die rak