Die wet van die liefde. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die wet van die liefde - Anita du Preez страница 6
“En as jy só sit? Gedog jy kan doen met ’n teetjie,” sê Bonnie en sit ’n koppie tee voor Danielle neer.
Danielle skrik en kyk op.
“Oh, my word! Hoekom lyk jy of jy ’n ontmoeting met ’n oorledene gehad het, vrou? Is dit die hou op jou kop? Shame, ek dog jy moes ’n bietjie lê,” babbel Bonnie.
“Ek is fine,” sê Danielle outomaties.
“Never! Daar is iets snaaks met jou aan die gang, suster.”
Danielle probeer glimlag om Bonnie te oortuig dat alles normaal is, maar toe sy eers begin, sprei die lag al verder tot haar mond omtrent seer voel. Sy kan die glimlag nie keer nie en ook nie die gevoel van geluksaligheid wat haar terstond oorval nie.
Bonnie trek haar oë op skrefies. “En as jy nou sit en smile soos die Mona Lisa? . . . Oh, my goodness, ek ken daai soort smile!” Sy ril geluksalig en skop fyntjies met haar voete in die lug. “Dis hoe ek gelyk het toe Gordon my die eerste keer gesoen het!” sê sy asof daar vir haar ’n lig opgaan.
“Dit het natuurlik iets te make met die edele Mister Gorgeous homself! Ek kan twee en twee bymekaarsit en vyf kry, of jy kan my vertel en ons kom by die regte getal uit.” Sy vou haar arms oor haar formidabele boesem en trek haar rooi lippies op ’n plooi. “Praat, ek luister,” beveel sy streng.
“Ag, Bonnie, dis eintlik alles ’n groot gemors,” sug Danielle. “Maar as jy dan nou móét weet: ek is mal oor Naude en hy het my netnou gesoen in die stoorkamer en ek kan nie ophou fantaseer oor hom nie en hy kom vanaand na my woonstel toe en ek weet nie wat de joos ek gaan doen nie!”
“Well, bless my soul,” is al wat Bonnie uitkry. Sy staar haar vriendin ontgogel aan. “Sies, Danielle, skaam jou. Om my so holier-than-thou oor die man aan te spreek, en intussen knyp jy self die kat in die donker. Nogal in die stoorkamer! Sommerso uit die bloute? Bietjie dodgy, as jy my vra.”
Sy lyk so ontstig dat Danielle sommer ineenkrimp by die aanhoor van haar woorde. Woorde wat terloops alles waar is.
“Wie sou nou kon dink dat daai kamtig gekultiveerde gentleman so kan uithaak?” voeg Bonnie geskok by. “En met jóú, nogal?”
“Ek weet,” sê Danielle, “maar ek kan myself eenvoudig nie keer nie. Die man maak my mal.”
“Hy sal enige vrou mal maak as sy hom die kans gee, my ding. Make no mistake, die man is ’n fees, maar om actually by hom betrokke te raak . . . dis selfmoord, my engel. Hoe is jou mensekennis dan? Almal weet mos dat sulke upstairs mans gewoonlik die een of ander dark secret het. Veral die mooies. Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond – daai cliché is ’n cliché oor dit so wáár is, my mens. Ek sou dink jy van alle mense sou dit kliek!” Bonnie is uitasem na dié stortvloed woorde.
Danielle laat sak haar kop. Waarin het sy beland? In kookwater tot oor haar kop, sowaar, besef sy droewig.
“Ek weet, ek weet,” sug sy. “Ek ken hom nie eens werklik nie. Behalwe hier op kantoor. Ek glo ook nie aan snert soos liefde met die eerste oogopslag nie. Tot nou . . .” Sy grawe met albei hande in haar hare.
“Dis oor jy jou gevoelens altyd so opbottel en wegsteek!” sê Bonnie. “Maar newwermaaind, dis nie te laat nie.” Sy skuif reg soos een wat die leisels gaan oorneem. “Jy stap nóú hier in die gang af na sy kantoor toe en jy sê hom jy kan hom ongelukkig nie vanaand sien nie, en ook nie môreaand of enige ander aand op die almanak nie, jy is heeljaar propvol geboek, kant en klaar.”
“Ek kan nie, Bonnie. Al wil ek . . . my bene sal my nie dra tot daar nie, en my mond sal weier om die woorde te sê,” pleit Danielle.
“Hoekom?” kap Bonnie blitsig teë.
“Omdat dit voel of my hele lyf pyn vir hom. Of my hele wese na hom smag en ek hom nooit weer uit my bloed sal kry nie,” kerm Danielle nou amper in trane. “Jy weet nie hoe dit voel nie.”
“O ja, ek weet presies hoe dit voel, my lam,” sê Bonnie bitter. “Ek was ook al met een van daai soort deurmekaar en die situasie was byna presies dieselfde as hierdie een.” Sy is skielik doodernstig. “En wat het dit my in die sak gebring? Trane en hartseer, dis wat.”
“Ek weet ek behoort na jou te luister,” sê Danielle en byt op haar lip, “maar ek weet ook dat niks hierdie ding kan keer nie.”
“Ag, asseblief, Danielle! ’n Suksesvolle oopkop-girl soos jy?” sê Bonnie met opgetrekte wenkbroue.
Danielle hoor elke woord, maar sy kyk koppig weg.
“Wel, moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie,” dreig Bonnie dramaties. “You’re out of you’re league met hierdie ene, hoor. Jy speel met dinamiet. Been there, got the T-shirt, the video and the scars, ou girl. Maar moenie kommer nie, ek sal nie ’n woord verklap nie. En die dag as jy besef jy is vir hom net nóg ’n dingetjie on the side, sal ek daar wees om die nat kolletjie op te vee wat van jou gaan oorbly.”
Sy stap by die kantoor uit met ’n ergerlike veeg oor haar rooi boskasie.
Dis eers toe Danielle die aand in haar woonstel sit, parfuum agter die ore en haar hare los gekam in afwagting, dat sy tyd kry om oor Bonnie se ongewoon heftige reaksie te dink. Maar sy skud dit af. Gelukkig het die dag sy loop geneem en het sy spoedig so besig geraak dat die tyd taamlik gou verbygegaan het. Sy het nie weer vir Naude te siene gekry nie. Sy vermoed hy moes kliënte gaan sien en sy was dankbaar daaroor.
André het net na Bonnie se besoek aan haar deur kom klop en hulle was tot toemaaktyd verstrengel in hul soeke na moontlike skuiwergate in hul saak teen ene Gustav Louw namens Mavis Rabinowitz. Rabinowitz, ’n welbekende sakevrou wat gereeld op glanstydskrifte se sosiale bladsye pronk, eis skadevergoeding van Louw, met wie sy skaars sewe maande getroud was. Sy beweer hy het haar verneuk in ’n spul besigheidskontrakte nog voor hulle behoorlik geskei was.
Hulle het selfs die formidabele me. Rabinowitz, wat niks nonsens van ’n man vat nie, tuis gaan sien om sorgvuldig elke puntjie van die saak met haar deur te werk. Danielle moes konsentreer om haar kop bymekaar te hou, want sy besef dat Rabinowitz vir haar en haar firma ook geen genade sal hê as die saak nie in haar guns draai nie. “Please remember, Miss Malan, I do not suffer fools gladly,” was haar woorde van verwelkoming toe sy hulle die eerste keer kom sien het.
Vanmiddag was André se rustige teenwoordigheid gelukkig ’n goeie teenvoeter vir Danielle se onstuimige gemoed, en met hom daar kon sy selfs daarin slaag om ’n paar sinvolle aanbevelings te maak. Dis asof sy doodgewone optrede die stormagtige emosies wat sy tans ervaar eenvoudig kon neutraliseer. Dit het dit selfs tydelik ietwat onwerklik laat lyk.
Tot nou, hier waar sy op die rusbank sit en nie ’n woord hoor wat op die televisieskerm voor haar plaasvind nie, omdat sy snaarstyf gespanne wag vir die deurklok om te lui. Hoekom het Bonnie so heftig tekere gegaan? wonder sy skielik. Dis nie asof sy, Danielle, die wet oortree of enigiemand behalwe haarself blootstel nie.
Daar moet meer in Bonnie se reaksie steek as wat sy wou laat blyk, maar Danielle kan nie haar vinger daarop lê nie. Bonnie moet iets weet waarvan sy haar nie wil sê nie. Vreemd dat sy nou eers besef dat die ekstroverte Bonnie ook maar ’n deel van haar persoonlikheid en haar lewe ten alle koste privaat hou.
Danielle het Bonnie die eerste maal ontmoet toe sy na Marais en vennote gekom het en Danielle genader het om haar egskeiding te hanteer. Bonnie